KoesterRESEPTE uit ons geweste

Terug na HOME PAGE







MAKLIKE MALVALEKKERWORS
Bestanddele:
1 pakkie koekies fyn gerol - sjokolade geur is die lekkerste
(sit koekies in 'n plastiese sak, rol met 'n blikkie - dit werk baie goed)
1 koppie klapper
20 gekleurde malvalekkers in klein stukkies gesny
10 rooi en 10 groen kersies gesny (opsioneel)
10 neute (opsioneel)
1 blik kondensmelk

Maklike metode:
Meng alles saam. 
Rol dit in 'n vorm van 'n wors.
Gooi bietjie klapper/versiersuiker op werksoppervlak en rol die wors daarin.
Net genoeg om die wors bietjie te versier en maklik te werk.
Draai toe met foelie en plaas in yskas vir ten minste 4 ure.
Sny in dun snytjies soos jy dit benodig.
Hou dit in die foelie om te keer dat dit uitdroog.
Hou in die yskas.

[Stuur asb. vir ons 'n foto van jou eindproduk!!]

SKAAPBRAAI??
'n Vinnige vrolike verjaardagresep

GEMMERBIER
Hierdie resep kom uit ouma se resepteskat en het die toets van tyd deurstaan.

Lewer 10-12 bottels

10 liter water   
1,2 kg suiker
15 ml kremetart
15 ml wynsteensuur
60 g gemmerstukke
15 ml gerasperde gemmerwortel
5 ml droë gis
100 g rosyntjies (165 ml)

Plaas water, suiker, kremetart, wynsteensuur, gemmerstukke en gemmerwortel in kastrol en verhit tot kookpunt. Verwyder van hitte en laat afkoel tot louwarm. Voeg res van bestanddele by en laat oornag staan. Gooi in bottels, plaas 'n paar rosyntjies in elke bottel en kurk. Laat staan minstens 3 dae. Dien koud op.

ASKOEK
Dis ’n vinnige deeg wat nie baie moeite verg nie.
Jy kan dit op die rooster braai óf sommer net in die as.
Benodig:
■ 1 pakkie (30g) kitsgis
■ 1-2 koppies louwarm water
■ 1 kg witbroodmeel
■ 1 teelepel sout
■ 1 eetlepel suiker
■ 1 eetlepel gesmelte botter of kookolie
■ 200 g korente of pitlose rosyntjies (gesnipperde lemoenskil gee 'n heerlike smaak)

Los die kitsgis in ’n bietjie water op totdat dit skuim.
Gooi die meel, sout, suiker en botter of olie in ’n diep bak.
Voeg die water bietjies-bietjies by en meng en knie totdat die deeg sag en elasties is.
Laat die deeg op ’n warm plek tot dubbeld die volume.
Smeer jou hande met ’n paar druppels olie en knie die deeg af.
Laat die deeg nog ’n slag rys.
Knyp stukke deeg so groot soos jou handpalm af en maak plat, ronde koeke.
Maak met die steel van ’n houtlepel op elke bolletjie twee voortjies wat mekaar kruis en druk korente daarin vas.
Bak die koeke direk in lae asbedekte kole (óf op die rooster) vir sowat 40 minute.
Draai dit 3 of 4 keer om totdat dit ligbruin is, maar steeds met as bedek.
Sny die koek. Moenie skaam wees nie en smeer lekker dik botter en appelkooskonfyt op
(Dankie dat ons hierdie resep kan deel)

No comments:

Post a Comment