Wednesday 5 October 2022

Die verwer wat die ongevraagde ekstra myl loop


‘n Man is gevra om ’n boot te verf. Hy het sy verf en kwaste saamgebring en die boot ‘n helder rooi begin verf soos die eienaar hom gevra het om te doen.

Terwyl hy verf, het hy opgemerk dat daar ‘n  gaatjie in die boot was en dit herstel. Toe hy klaar geverf het, het hy sy geld gekry en vertrek.

Die volgende dag het die eienaar van die boot na die man gekom en hom  'n groot tjek aangebied, baie hoër as die betaling vir die boot se verf.

Die man was baie verbaas en het gesê: ”Jy het my reeds vir die boot se verf betaal meneer!”

”Maar dit is nie vir die verfwerk nie. Dis omdat jy die gaatjie in die boot herstel het,” sê die eienaar.

“Ag! Maar dit was so ‘n klein werkie … dis verseker nie so ‘n bedrag werd vir so klein werkie nie!” antwoord die verwer.

”My liewe vriend, jy verstaan nie. Laat ek jou vertel wat gebeur het.”

Toe ek jou gevra het om die boot te verf, het ek vergeet om te noem van die gaatjie.

Toe die boot droog was, het my kinders die boot geneem om te gaan visvang.

Hulle het nie geweet dat daar ‘n gaatjie in die boot was nie. Ek was nie by die huis toe hulle die bootjie geneem het om te gaan visvang nie.

Toe ek terugkom en agterkom dat hulle die boot geneem het, was ek amper van my kop af, want ek het onthou van die gaatjie in die boot. Stel jou my verligting en vreugde voor toe hulle veilig van die visvangery af terugkom.

Hierna het ek die boot ondersoek en gevind dat jy die gaatjie herstel het! Sien jy nou, wat jy gedoen het? Jy het die lewe van my kinders gered! Ek het nie genoeg geld om jou vir jou ‘klein werkie’ te vergoed nie!

Maak nie saak wie, wanneer of hoe nie. Gaan net voort om te help, volhard, vee trane af, luister aandagtig en versigtig.

Ons as kinders van God het elke dag ‘n geleentheid om ‘lekplekke’ in ander mense wat oor ons pad stap, te herstel, maar ook met mekaar. Wie weet of JY nie dalk vandag die ‘verwer’ in God se hand is om die nood vir iemand anders makliker en ligter te maak nie.

Partykeer is dit net die afvee van ‘n traan, of die luister na iemand se storie. Om ‘gaatjies’ reg te maak is baie keer in die klein goedjies wat jy elke dag doen, en nie altyd in die groot goed nie. Kom ons wees sensitief vir mense en mekaar se ‘gaatjies’, en help om dit heel te maak waar ons kan.

Jy het dalk al talle ‘bootgaatjies’ van verskeie mense langs die pad reggemaak sonder om dit te weet.

 Wees vandag God se hande en voete in dit wat jy aanpak!

Teachers' Day