Showing posts with label Maniere. Show all posts
Showing posts with label Maniere. Show all posts

Saturday, 15 June 2024

Ruben herkou, besin en dink oor sy posisie en kom tot 'n belangrike gevolgtrekking

Liewe Maats

Ek gaan sommer met die deur in die huis val, want ek was Woensdagmiddag vir 'n oomblik so van stryk af, dat ek amper my naam met 'n plank geslaan het. Dis net my ingebore ewewigtigheid wat gemaak het dat ek nie onmiddellik op my perdjie geklim het nie en wat van 'n voorbeeld sou ek dan vir julle gewees het?

Julle sien, toe ek hoor dat ons Woensdagmiddag kaartjies gaan maak, was ek sommer dadelik baie opgewonde en slaggereed vir aksie, want ek het 'n kunsstreep in my wat al geslagte lank in ons familie loop. Ek soek eintlik geleenthede om my kuns te beoefen, maar dit is maar min. As ek net my poot op papier kan sit ...

En toe ek so opgewonde na die vierkant aangehuppel kom, moes ek by tannie Christelle hoor dat ek buite by die hek moet gaan waghou, want ek is die enigste sekuriteitsman wat op daardie oomblik kan diens doen. Ek het onmiddellik uitgesluit gevoel en het met 'n langlip voor dáárdie hek stelling ingeneem. Ek het myself jammer gekry en nooit eers aan die belangrikheid van my opdrag gedink nie. My taak was tweeledig. Ek moes kyk dat geen ongemagtigde inkom nie en dat geen kaartjiemaker uitgaan nie.  

Ek het toe natuurlik baie dinktyd terwyl ek daar voor die hek sit en skielik tref dit my - ek sit mos op 'n hele paar stoele hier by Christina Kiddie Sentrum - sielkundige, speelmaat, waghond, mentor, onderwyser, skrywer, motiveerder, inspireerder, fotograaf en nog 'n hele paar ander dinge ook - ek moet tevrede wees as ek nie elke keer die lekker deel kry om te doen nie. Ek moet mos die beste ek wees wat ek kan wees en net daar praat ek myself aan. Ek vertel so graag vir ander wat om te doen, maar sukkel partymaal om dit self te doen.

Net daar besluit ek om met 'n lied in my hart na julle te kyk. Julle was so vrolik en het so lekker gelag dat ek besef het 'n mens klink net so sorgeloos as jy veilig voel en op daardie stadium was ek die rede vir julle veiligheid. 

Ek het natuurlik weer 'n paar lesse geleer: Jy moet 'n aktiewe wag voor jou mond hê, wat daagliks op sy pos is, sodat jy nie ander met jou woorde seermaak nie. Moenie altyd dadelik reg wees om te stry en te argumenteer nie, oordink eers die saak en skep 'n atmosfeer van gemoedelikheid. Mense hou nie van beterweterige mense nie. Doen altyd goed aan ander, al moet jy nou die slegte werk doen.

Maats, hierdie is so 'n mondvol dat ek dit binne my klerekas se deur gaan plak, sodat ek dit elke dag kan sien en myself herinner om eers te dink en dan te praat.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

 


Sunday, 9 June 2024

Ruben leier van 'n koalisie

Liewe Maats 

Ek hoop julle sien dat ek my les geleer het en nie verlede week se fout gaan herhaal nie. Ek begin vroegtydig sodat ek nie my briefie laat by tannie Christelle gaan inhandig nie. 

Ek het so 'n paar keer hierdie week die koerant onder oë gehad, sodat ek op hoogte kan wees van wat in die land en in die wêreld aangaan. Dit is nogal 'n belangrike aktiwiteit - jy moet weet wat rondom jou aan die gebeur is, want dit beïnvloed jou lewe en lewenswyse direk of indirek.

Daar is honderde artikels oor koalisies en ek het so half en half 'n idee gehad wat die woord beteken, maar net om seker te maak, het ek die woord gegoogle. Koalisie beteken: Twee of meer partye wat tydelik saamwerk om 'n gemeenskaplike doel te bereik.

En net daar kry ek die ongelooflikste blink plan - samewerking om jou doel te bereik! Dis klink egter selfsugtig, maar om 'n gemeenskaplike doel te bereik, is 'n wen-wen-situasie met geen verloorder nie. 

Kyk, Maats, ek deel mos die huis saam met Spikkels en Krummels, twee hoogmoedige katte, wat ouderdomsgewys nie meer lus is vir my opgeruimde spelerige geaardheid nie. Hulle kuier en gesels nou nie eintlik met my nie, daarom is ek nie deel van hulle vriendekring nie. (Eintlik is hulle baie katterig met my.) Nietemin het die koue my tot aksie aangespoor en het ek as leier besluit om met hierdie twee saam te werk, want ons al drie gaan by ons koalisie baat, en dis net vir die winter - dus is dit tydelik. 

Julle weet mos 'n ware leier neem nie net verantwoordelikheid vir sy eie situasie nie, maar ook vir diegene wat sy pad kruis. Ek is verantwoordelik vir my huismaats, vir my speelmaats en ook vir die koshuispersoneel. Vir party gee ek raad, oor ander bekommer ek my dood, met party speel ek my energie totaal uit en vir ander moet ek beskerm en sorg dat hulle veilig voel.

Deel van 'n sinvolle koalisie is goeie kommunikasie. En as elkeen van die partye eerlik en reguit praat, dan bou ons as 'n nuwe span vertroue as fondasie vir ons nuwe samewerkingsplan. Kom ek verduidelik dit vir julle só: Ek het my trots in my sak gesteek en met hierdie twee huismaats gaan praat. Dit is ongenadiglik koud in die aand en met of sonder 'n kombers, is die Noord-Kaap nie diervriendelik nie. Ek stel toe voor dat in plaas daarvan dat elkeen opgekrul in sy eie bondeltjie lê en homself bejammer, kan ons mos my bed deel en dan kry ons almal heerlik warm. En dit is ook net tot die ergste koue verby is - dan kan elkeen weer sy eie gang gaan en speel en kuier met wie hy wil. (Kyk gerus na die foto's wat ek by hierdie brief insluit.)

En net daar besef ek dis wat julle moet doen. Julle moet saamwerk, veral met die vakke wat julle nie verstaan nie, bv. wiskunde. Julle moet sorg dat julle 'n goeie wiskundige in julle koalisie het, wat vir julle die werk kan verduidelik - julle hoef nie vriende te wees nie - en dan help julle hom weer met Engels of Afrikaans. Almal baat daarby en in hierdie studiekoalisie is daar geen verloorders nie. En na studie gaan elke een sy eie gang. 

Maar om as 'n span saam te werk, vra dat ek van my karaktereienskappe wat ek nie graag gebruik nie, moet afstof en poleer totdat dit skitter. Dit is nou eienskappe soos respek, nederigheid, gewilligheid, sagmoedigheid, geduld en lankmoedigheid, veral laasgenoemde twee ... so ek moet amper soos 'n volwassene optree en my voorbeeld en goeie maniere moet die res van my span aanvuur om ook hul beste te gee en daar is ons terug by my uitdaging vir 2024: Wees die beste jy wat jy kan wees. 

Daar is nog net een week van skool oor, dan is die wintervakansie hier. Ek het al so een of twee van my speelmaats gehoor kla dat hulle niks het om te doen nie ... wel, ek daag julle uit om vir my vars en oorspronklike idees in te stuur! Ek begin met 'n idee: kom ons stig 'n leesklub en dan lees ons vir mekaar of van die groteres kan vir die kleintjies voorlees of ons verander die hoofkarakter van die boek en een van ons word die nuwe hoofkarakter en ons herskryf die hele storie. Wat dink julle daarvan? En net miskien kan ons daardie storie (akteurs gebruik graag die woord teks) in 'n minidrama ontwikkel en 'n winterkonsert op die planke bring. (Amper iets soos die kersverhaal wat julle altyd aan die einde van die jaar opvoer.)

Ek gaan nou saam met my span die koue aandurf en kaf draf.   

Koalisie-groete tot 'n volgende keer.