Showing posts with label Hasie. Show all posts
Showing posts with label Hasie. Show all posts

Thursday, 4 December 2025

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals!


[Onthou om verlede week se storie te lees, voordat jy hierdie een lees. Dis goed om jou geheue te verfris, sodat jy kan sien wat Hasie weer in die mou voer.]

Party dae is Hasie glad nie waaksaam nie en is hy nie op die uitkyk vir gevare nie. Party dae vergeet hy eenvoudig om wakker en waaksaam te wees en loop dan sonder dat hy dink aan al die misdaad in die land.

Vandag is een van daardie dae. Hasie is glad te gerus. Sing-sing loop hy in die paadjie. Wirts warts vinnig om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Skielik en onverwags! Woep! Daar sit hy. Jakkals het taai voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit net al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.

Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! Nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie. Jakkals het hom voorgeneem om Haas nie te vergewe vir die klomp bysteke nie. Hasie gaan beslis vandag op die Jakkals-gesin se tafel land!! 

Hasie word stil ... sommer doodstil!  

“Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”

“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.

Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk hoe ongeskik is hierdie ander jakkals! Hy druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.

“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.

“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer skeef aankyk.

Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.

“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.

“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”

Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.

“Ha ha ha!” lag Hasie:

“Kwaai is kwaai,
en kwaai se voet:
ou Jakkals soek
sy eie bloed!”

En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Wees altyd waaksaam - op hierdie manier bly jy uit die moeilikheid.
* Jy moet altyd 'n slim manier hê om uit die moeilikheid te kom.
* Moenie jou opponent onderskat nie - eendag is eendag dan gaan jou plannetjies nie werk nie.

Thursday, 27 November 2025

Ruben se een minuut storie: Die Byekerk


Elke dag is so vol en besig dat Hasie mooi moet beplan hoe hy sy dae gaan inkleur. Vroeg een oggend hardloop Hasie na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur. 

“Ai!” sê Hasie: “Lekker is lekker,
en goed is goed -
en die beste lekker
is heuningsoet!”

En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande in Hasie se sagte vleis laat insink.

Maar Hasie het klaar geskrik. Hy sit sy brein in hoogste versnelling en dink baie vinnig. Hy weet Jakkals wag vir 'n geleentheid om van hom 'n maaltyd te maak. Gelukkig is hy strate slimmer as Jakkals en kry hy dit reg om elke keer vir Jakkals uit te oorlê.

“Sjuut, Jakkals,” sê hy. “Kan jy nie hoor my vriende hou kerk nie?”

“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.

“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”

“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”

“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”

En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.

Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”

Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie. Hy sal vir die volgende week heerlik kan rondloop, sonder dat hy voortdurend op die uitkyk vir Jakkals moet wees.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Maak seker dat jou nuwe vriende nie vals vriende is nie.
* Vals vriende lyk asof hulle in jou doen en late belangstel, maar eintlik kyk hulle net waar hulle jou      
    aan die hakskeen kan byt.
* Dink voordat jy enige iets doen.

Thursday, 20 November 2025

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals, die ryperd


Jakkals is sommer smoorkwaad vir Hasie, want hy het stories by mevrou Jakkals gaan aandra, en nou het sy haar man die huis belet. Jakkals wil vir Hasie terugkry. Maar Hasie het baie planne. Op ‘n dag hoor hy Jakkals suutjies in die paadjie draf. Toe gaan lê hy in die bossies en kreun.

“Ha! Nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil net spring, maar Hasie antwoord met ‘n swak stem: “Vat my maar, Jakkals. Ek is te siek om te vlug. Tel my op jou rug, dan dra jy my huis toe.”

En Jakkals dink dis glad nie so ‘n slegte plan nie. Nou sal sy vrou sommer weer vir hom goed word as hy met ‘n lekker stuk haasvleis daar aankom. Jakkals laat loop in die paadjie af, en Hasie moet net klou.

“Jakkals, Jakkals!” roep hy later, “Die vlieë pla baie. Pluk tog vir my ‘n taaibostakkie dat ek hulle kan wegjaag.”

“Ai, jy is lastig,” sê Jakkals, en hy gaan pluk maar.

Toe hulle nog van ver af na Jakkals se huis toe aankom, staan sy vrou al op die stoep om te kyk wat haar man hier kom soek. “Vrou, vrou!” roep Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet haas gebring.”

Maar kyk, nou sit Hasie regop, en die pyne is skielik uit sy lyf, en die taaibostak is ‘n lat. “Vrou, vrou!” koggel hy Jakkals, “Ek het vir jou ‘n lekker vet jakkals gebring!” En die lat gesels oor Jakkals se blaaie, en Jakkals bokspring en galop. Toe wip Hasie van sy rug af en verdwyn lag-lag in die bossies.

“Nee, so ‘n treurige man wil ek nie hê nie,” sê mevrou Jakkals. “Waar het jy al van ‘n jakkals gehoor wat hom deur ‘n haas laat ry? Maak dat jy wegkom hier voor my oë!”

Arme Jakkals moes maar die aftog blaas, want sy vrou is regtig kwaad vir hom.

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories!

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie as iemand iets slegs aan jou gedoen het, hom wil terugbetaal nie. Jy gaan beslis tweede kom.
* Moenie lelike stories van iemand versprei nie - een of ander tyd gaan dit jou inhaal.

Friday, 25 September 2020

Die hasie wat gebaretaal verstaan!

Ses jaar terug is daar 'n dierbare dogtertjie in die Goudvelde gebore. Hierdie mooi vriendelike dogtertjie het een sintuig minder as haar maatjies. Maar al haar ander sintuie werk so 'n klein bietjie harder sodat sy haar weg in die horende wêreld kan vind. 

Voordat sy aan die begin van hierdie jaar 'n leerder aan die Bartimea Skool, 65 km buite Bloemfontein, geword het, was sy in 'n hoofstroom kleuterskool in Welkom. Gebaretaal is egter een van Bartimea se vakke en daarsonder is kommunikasie baie moeilik. Dus moes Caitlynn Jacobs sommer vroeg in haar lewe die koshuislewe trotseer, 'n vreemde skool, vreemde omgewing, weg van familie en vriende wat haar in 'n veilige sirkel kon toevou. En toe kom Covid-19 ...

Skielik is skool weer by die huis en onbekend word bekend en Covid-19 maak 'n lang-weg-van-die-huis-jaar, korter. Maar grendeltyd kan ook te lank raak en dan mis 'n mens weer skool en die maatjies en die juffrou wat die geheime van leer vir jou moet oopsluit. En so drie weke terug, kry Caitlynn vir Jessie by tannie Caryn, wat die hart van 'n klein dogtertjie verstaan. Hierdie hasie het vir Caitlynn nodig en skielik is die rolle omgeruil. Jessie verstaan gebaretaal en ure se gesprekke word gevoer en toe op 'n dag raak Jessie weg ...

Die hele straat help soek, want almal ken vir Caitlynn en Jessie ... elke holte, hoek en huis word deursoek. Die verdriet is groot en bokse tissues word opgehuil. Die belangrikste wese in Caitlynn se bestaan is weg ...

En dan 'n straat verder word Jessie deur 'n seuntjie gekry ... opgewondenheid, vreugde en blydskap, want hier dra almal mekaar se belange op die hart en Caitlynn wat haar eie opdraande stryd in die lewe het, en Jessie, is in die harte van Bronville se gemeenskap. 

Daar is geen twyfel dat Jessie die slimste hasie in die Goudvelde is nie, want sy het die geduldigste leermeester aan haar sy.