Sunday 25 December 2022

Kersboodskap

Mag ons hierdie Kersfees minder koop en meer weggee.
Mag ons hierdie Kersfees minder na skerms kyk en meer na mense.
Mag ons hierdie Kersfees minder skinder en meer waardering uitspreek.
Mag ons hierdie Kersfees minder slegsê en meer bid vir ons land.
Mag ons hierdie Kersfees minder motors verbyjaag en meer stoppe langs die pad maak.
Mag ons hierdie Kersfees minder dinge najaag en meer wag op God.
Mag ons hierdie Kersfees minder met ons familie baklei en meer oomblikke van saamwees koester.
Mag ons hierdie Kersfees minder veroordeel en meer voordeel van die twyfel gee.
Mag ons hierdie Kersfees minder eet en meer gaste oornooi.
Mag ons hierdie Kersfees minder bedien word en meer dien.
Mag ons hierdie Kersfees minder drink en meer van die lewe proe.
Mag ons hierdie Kersfees minder soek en meer ontvang.
Mag ons hierdie Kersfees minder vra en meer dankie sê.
Mag ons hierdie Kersfees minder uitsluit en meer innooi.
Mag ons hierdie Kersfees minders voornemens vir onsself maak en meer verbintenisse aan ander.
Mag ons hierdie Kersfees minder beplan en meer droom.
Mag ons hierdie Kersfees minder vermaak word en meer rus.
Mag ons hierdie Kersfees minder verlang en meer onthou.
Mag ons hierdie Kersfees minder eensaam en meer geliefd wees.
Mag ons hierdie Kersfees minder seker wees en meer glo.
Mag ons hierdie Kersfees minder wens en meer hoop.
Mag ons hierdie Kersfees minder geluk soek en meer liefde deel. Mag ons hierdie Kersfees minder praat en meer luister.
‘n Kersfeesboodskap – Tinus van Zyl [tinusvz@durbanvillegemeente.co.za]
[Geleen]

Sunday 18 December 2022

Feesdrukkies vir die Goudvelders



Hulp oor provinsiale grense heen, is altyd 'n bonus en 'n "blessing" vir ons hier by Kindersorg Noord-Kaap. Ons koester julle mense met die omgeeharte en uit ons hart wil ons net vir julle baie dankie sê vir julle onbaatsugtige bydrae. Dele van die NK is bitter droog, werk en hulpmiddele is maar min en daarom is ons so dankbaar vir julle bydraes. 

'n Spesiale dank aan Karin Herbst (van Riebeeckstad) en haar vriendinne wat elke jaar tyd en geld spandeer om kinderharte en oumaharte bly te maak. Dankie vir die boks vol glase - dit is werklik handig met opleiding en uitreike. Dankie vir die innoverende Kersgeskenkies vir die kersmark, skryfbehoeftes, boekies wat vir die kleuters herwin is deur Portia Kgopodithata en haar niggie van Pampierstad. Vele hande maak baie harte bly. Mag julle 'n geseënde 2023 hê en moenie van ons vergeet in die nuwe jaar nie.

Thursday 1 December 2022

Donderdag: Dink daaroor ... so bietjie tong in die kies, maar ook tog waar

10 dinge wat elke matrikulant moet weet
(Deel met elke ouer en matrikulant!)

‘n Ma wat karring is ‘n ma wat omgee
Daar gaan altyd iemand wees wat vra of jy reg is vir die eksamen. 
Niemand weet regtig wat die regte antwoord hierop is nie. 
Vermy hulle maar eerder.
Vermy ook mense wat heeltyd vra “ wat gaan jy volgende jaar doen”. 
Dit is soos om op jou verjaardag te vra wat jy vir volgende jaar se verjaardag beplan.
Rekeningkundevraestelle is gemaak om nooit te balanseer nie.
Harde lekkers in ‘n eksamenlokaal is net so erg soos iemand wat heeltyd praat in ‘n fliek.
Een pen is te min, twee penne is veilig, tien penne is gretig.
Calculators sal heeljaar werk ... tot die dag van die eksamen. Koop ekstra batterye.
Eet iets voor die eksamen. ‘n Grommende maag is soos ‘n lastige kleurblind eks wat nie die blou merkies op whatsapp kan sien nie – dit hou nie op nie.
Dit is makliker om water in ‘n sif op te vang as om minute voor die eksamen nog nuwe dinge te probeer leer.
As jy ‘n break wil vat, doen dit. Probeer iets te doen wat nie veel breinkrag vereis. Soos om die kat te kam.

Bonuswenk! Daar is twee tipe mense wat net op jou senuwees gaan werk: dié wat voor die tyd sê hulle het niks geleer nie (al kry hulle altyd volpunte vir die toets), en die wat na die tyd al hul antwoorde vergelyk met ander mense se antwoorde. Vermy hulle.

Onthou: jy gaan fine wees!
[Geleen - https://algoagemeenskapskerk.com/2019/10/21/spesiaal-vir-ons-matrieks/]