Showing posts with label Ouers. Show all posts
Showing posts with label Ouers. Show all posts

Friday, 19 June 2026

Ouerbetrokkenheid: Akademiese toekoms "reeds in graad 4 bepaal"

Baie baie jare terug het hierdie artikel in die koerant verskyn, toe die leerders oënskynlik nog beter kon lees en skryf as deesdae. 
* Ouers moet besef dat hulle verantwoordelik is vir hulle kinders se basiese voorskoolse opvoeding - mylpale soos woordeskat, tel, kleure,vorms, ens. kan nie vir die eerste keer op grondslagfase aangespreek word nie.  
* Dit is absoluut noodsaaklik dat ouers direk betrokke moet wees by hul kinders se grondslagfase (graad R tot 3). 
* Aktiewe betrokkenheid bou 'n stewige akademiese fondament, bevorder emosionele sekuriteit, en help ouers om leerprobleme vroegtydig op te spoor.
* Die grondslagfase vorm die boustene vir alle toekomstige leer.
* Kinders voel veiliger en presteer beter wanneer hulle weet hul ouers ondersteun en waardeer hul skoolwerk.
* Maak daaglikse leestyd 'n prioriteit om jou kind se woordeskat en begrip te bou.
* Onbetrokke ouers blameer ander vir hul kinders se probleme.
* Ekstra klasse in die hoërskool is REEDS te laat!

LEES DIE ARTIKEL HIERONDER EN BESEF DAT JY REEDS IN JOU KIND SE GRAAD 4-JAAR
GAAN WEET WAT SY/HAAR HOËRSKOOLPRESTASIE GAAN WEES. 



Stellenbosch - As jou kind teen gr. 4 nie op standaard kan lees, skryf en somme maak nie, is die kans bitter skraal dat hy/sy universiteit gaan haal.

Volgens navorsing wat prof. Servaas van der Berg, onderwysekonoom in die departement ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, gedoen het, word 'n leerling se akademiese toekoms reeds baie vroeg in hul skoolloopbaan bepaal. 

"As die leerling teen gr. 4 nie akademies op standaard is nie, kan ek met 90% sekerheid sê die leerling sal nie aan die einde van matriek universiteitsvrystelling kry nie," het hy gesê.

Van der Berg het dié navorsing verlede week aan gerekende onderwyskenners van oor die wêreld heen op 'n konferensie oor die onderwys voorgelê.''

Volgens uitslae van die jaarlikse nasionale assessering is daar bykans geen verskil tussen die aantal leerlinge wat in gr. 4 akademies op standaard presteer en die aantal leerlinge wat aan die einde van matriek vrystelling kry om verder op universiteit te studeer nie.

Van der Berg het die leerlinge se akademiese standaard volgens die Trends Internanational Mathematics and Science Study (Timms) se laer maatstawwe gemeet.

"My bevinding bewys dat die fokus op die grondslagfase, of selfs opvoeding vóór skool, moet wees," het hy gesê.

"Daar is nie nou genoeg data oor onderwys voor skool in Suider-Afrika nie, maar dit is selfs moontlik dat leerlinge in gr. a kom en reeds akademies 'n hele paar jaar agter is. Deur die res van dié leerlinge se skoolloopbaan raak die gaping dan eenvoudig net te groot."

Boonop stoot die departement van onderwys nie genoeg van sy hulpbronne in die grondslagfase nie, meen Van den Berg.

"Heelwat fokus word nou op wiskunde in gr. 8 en 9 geplaas. Ja, dit gaan 'n klompie kinders help, maar vir die grootste gros van die kinders is dit teen daardie tyd nie van veel hulp nie," het hy gesê.

[Anika Marias]

Sunday, 6 October 2024

My gedagtes: Waardeer dit wat jou kinders doen

William James sê op ‘n stadium dat : “The deepest principle in human nature is the craving to be appreciated.”

Hierdie is so ‘n basiese beginsel, maar hoe dikwels en maklik vergeet ons dit. Dit is baie moeilik en selfs onmoontlik om ‘n slegte verhouding te hê met iemand wat jou gereeld en opreg komplimenteer. Dit is ook een van die mees basiese behoeftes van ons kinders (al tree hulle so onafhanklik op.)

As hulle nie respek en waardering kry by ons as ouers nie, sal hulle dit op ander plekke soek, plekke wat gewoonlik nie baie gesond is nie. (Lees die koerante en luister nuus - dis só hartseer en tragies.) Dit is ongelukkig so dat “People are born to be a success, but conditioned to be a failure.” 

As kinders te veel hoor dat hulle stout en dom en ongehoorsaam is, begin hulle dit glo. En dan tree hulle ook so op om aan die uitsprake te "voldoen." ‘n Ouer is die grootse bron van kondisionering in kinders se lewens. Kom ons gebruik hierdie posisie met groot sorg en verantwoordelikheid. Waardering bou selfvertroue.

Koester eerder elke fase en die alledaagse vreugdes. En sê elke dag dankie vir jou hartsmense, hulle het dit nodig om te hoor.

Thursday, 15 August 2024

My liewe kind

Solank jy in hierdie huis bly, sal jy die reëls gehoorsaam.
Wanneer jy jou eie huis het, kan jy jou eie reëls maak.
In hierdie huis het ons nie 'n demokrasie nie.
Ek het nie 'n verkiesingsveldtog gehou om jou ouer te wees nie.
Jy het nie vir my gestem nie.
Ons is ouer en kind deur die genade van God,
en ek aanvaar die voorreg en ongelooflike verantwoordelikheid.
In aanvaarding hiervan het ek die plig om
die rol van 'n ouer te vervul.
Ek is nie jou pel nie.
Ons ouderdomme verskil te veel.
Ons kan baie dinge deel, maar ons is nie pelle nie.
Ek is jou ouer.
Dit is 100 keer meer as wat 'n pel is.
Ek is ook jou vriend, maar ons is op totaal verskillende vlakke.
Jy sal in hierdie huis doen soos ek sê, en hoewel jy vrae
mag vra, mag jy nie my gesag bevraagteken nie.
Onthou asseblief dat wat ek jou ook al vra om te doen,
deur liefde gemotiveer is.
Dit sal vir jou moeilik wees om te verstaan
totdat jy eendag 'n kind van jou eie het.
Tot dan, vertrou my. 

Tuesday, 30 July 2024

Die anatomie van 'n tiener

My ouers konfronteer my daagliks. Ek klem my lippe saam in daardie nagemaakte glimlag waarvan hulle nou reeds leer hou het, en wag vir die spervuur van ondervraging. "En wat is sy naam?' "Wat doen sy ouers?" "Wat is sy identiteitsnommer?" Verreweg my gunstelingvraag is: "Hoe laat is hy gebore." Dis geen oordrywing nie, hoor! My ma is 'n leerling-astroloog; sy beskou dit as haar verantwoordelikheid om in die lewens van vreemdelinge rond te grawe. Voor sy nog sy adres ken, weet sy alles omtrent sy familiegeskiedenis. Ja, ek het 'n snaakse gesin Nie juis die soort snaaks wat jou laat lag nie, maar eerder vinger-in-die-keel-steek-snaaks.   

My ouers se sadistiese denke het hulle laat besluit dat ek eensaam sou wees in my eie kamer, toe gun hulle my die plesier om dit met my sustertjie te deel. Hoe bevoorreg was ek om deur puberteit te gaan in die geselskap van 'n laerskoolkleintjie.

'n Kêrel in my kamer is 'n doodsonde. Dink my ouers miskien ek sal saam met 'n seun tussen my suster se opgestopte diere en prenteboeke wil kuier?

Sarkasme is 'n effektiewe masker vir my. Die gevolg is dat jy my selde sal kry waar ek tuis saam met my gesin kuier. Ek verset my teen intieme geselsies soos: "Ons-raak-so-verwyderd-van-mekaar."

Maar volgende maand trek ek in my eie kamer in. Triomf. Eindelik kan ek my innerlike probleme en sarkasme in 'n meer produktiewe rigting probeer stuur.
Kloustrofobie ... Xenofobie ... Wat is dit waarvoor ek bang is? Daar is nie tyd vir introspeksie nie, want elke keer wanneer ek myself probeer verstaan, doen 'n volwasse ondervraer dit reeds vir my. Miskien moet ek tog my ouers gaan vra hieromtrent. Ja, ek is seker hulle sal die antwoord hê.

So moenie my vra nie: dis maar net my lewe.

[A Milner, Op met die af roltrap, samest. Linda Rode en Hans Bodenstein, Uitgewer, 2000: FAT 7/11,Vraestel 2, letterkunde]

Sunday, 9 June 2024

Aan elke kind ...

Wanneer jou ouers eendag sterf,
mag jy dalk huil.
Jou ouers gaan nie weet nie,
so huil nou oor jou ouers.

Jy gaan blomme na jou ouers se graf neem,
maar jou ouers gaan dit nie sien nie.
Maak nou tyd vir jou ouers.
Daar is geen verskoning van tyd nie.

Jy gaan op jou ouers se begrafnis mooi woordjies praat,
jou ouers gaan dit nie hoor nie.
Sê dit nou vir jou ouers .

Jy gaan jou ouers se foute vergeet,
maar jou ouers gaan nie daarvan weet.
Vergewe jou ouers nou.

Jy gaan jou ouers mis,
maar jou ouers gaan dit nie weet nie.
Mis jou ouers nou

Jy gaan wens jy't meer tyd saam met ouers spandeer,
spandeer dit nou.

[Dankie, Anoniem]

Wednesday, 3 January 2024

'n Kind leer dit waarmee hy saamleef

As 'n kind met kritiek saamleef, leer dit hom om te veroordeel.
As 'n kind met vyandigheid saamleef, leer dit hom om te baklei.
As 'n kind met bespotting saamleef, leer dit hom om skugter te wees.
As 'n kind met skaamte saamleef, leer dit hom om skuldig te voel.
As 'n kind met verdraagsaamheid saamleef, leer dit hom om geduldig te wees.
As 'n kind met bemoediging saamleef, leer dit hom om vertroue in homself te hê.
As 'n kind met prys saamleef, leer dit hom om te waardeer.
As 'n kind met billikheid saamleef, leer dit hom om regverdig te wees.
As 'n kind met sekuriteit saamleef, leer dit hom om geloof te hê.
As 'n kind met goedkeuring saamleef, leer dit hom om van homself te hou.
As 'n kind met aanvaarding en vriendskap saamleef, leer dit hom om liefde in die wêreld om hom raak te sien!

Saturday, 16 December 2023

O, kindjie

O, kindjie
klein onskuldig en rein,
jy wat dra aan soveel pyn,
jou vuil gesiggie grootoog bang,
O, grootmensboelie
hoekom ontneem jy 'n kind sy blye kindergesang,
hoor jy nie jou kind se huil,
kan daar soveel wraak in jou skuil,
O waarom slaan jy nie eerder jou vuis teen 'n muur,
hoekom moet jou kind soveel verduur,
O, Here, gee ons kinders krag,
vul hul met U getroue liefde elke dag,
dra elkeen wat op straat is deur die donker nag,
Here, vul ons wêreld met kinderlag,
omvou elke kindjie met u hande sag,
Vader, ek wil elke mishandelde kind aan U opdra,
Vader, u liefde is al wat ek vir hul vra.

Geskryf deur Kala Williams © Kala Williams
[Besoek gerus die digter se FB]

Dankie, Anoniem, dat jy hierdie gebed met ons deel.

Friday, 29 September 2023

Ouers: Voordele van speel


Gewone speletjies
is die sleutel tot gelukkige, gesonde, vaardige en goed aangepaste kinders. - Anys Rossouw, opvoedkundige sielkundige
(Rooi Rose, 23-11-2019)

Bevorder jou kind se fisieke gesondheid en fiksheid. Dink terug aan al die speletjies wat jy as kind gespeel het en leer dit vir jou kinders. Deesdae wil kinders net op hulle selfone of voor die TV wees. Lekker hardloopspeletjies (met of sonder 'n bal) is nie net goeie oefening nie, dit verbeter ook onder andere die volgende:
  • Groot- en fynmotoriese ontwikkeling
  • Bou verbeelding en kreatiwiteit
  • Bevorder kognitiewe ontwikkeling (breinfunksie)
  • Verbeter geletterdheid
  • Help met probleemoplossing
  • Help met emosionele gedrag
  • Ontwikkel selfvertroue en selfbeeld
  • Help om sosiale vaardighede te ontwikkel en te verbeter
  • Verlig stres en angstigheid
Hier is 'n paar voorstelle van speletjies. Vra vir oupa en ouma hulp as julle vasbrand. Stuur gerus nog voorbeelde in.
  • Aartappelresies
  • Blikaspaai
  • Blindemol
  • Driebeenresies
  • Handjietennis
  • Telefoontjie
  • Toutrek
  • Vroteier
  • Wegkruipertjie
  • Wolf, wolf, hoe laat is dit?

Friday, 22 September 2023

Ouers: Alle kinders kan 'n vyfsterkind wees


Baie ouers wil graag weet wat die drie belangrikste dinge is wat enige ouer vir sy of haar kind kan leer? Hierdie drie dinge het niks met geld, rykdom of aansien te doen nie. Kinders met hierdie drie skaars eienskappe, sal uitstaan tussen die middelmatigheid van die ander wat tans die botoon voer. 
  1. Respek
  2. Dankbaarheid
  3. Eerlikheid  
  • Leer jou kind om almal wat sy of haar pad kruis met respek te behandel.
  • Leer jou kind om dankbaar te wees vir dit wat hulle het - daar is altyd mense wat minder het. Materiële besittings maak nie van jou 'n beter mens nie. Die innerlike is baie belangriker as die uiterlike. 'n Baie moeilike maar waardevolle eienskap om vir jou kind te leer.
  • Wees altyd eerlik. (Hierdie is die moeilikste, maar ook die waardevolste eienskap wat jou kind kan besit - hulle sal baie meer as een keer sy of haar man moet kan staan om hulle eerlikheid te bewys.)   
Hierdie drie eienskappe maak van jou kind 'n wenner. Maak van jou kind 'n kampioen as jy as ouer vir hom kan leer om uit sy foute te leer en om nooit op te gee nie. 

Thursday, 24 August 2023

15 van die waardevolste lesse om jou kinders te leer ...

(Deel met elke ouer en elke tiener ...)

1. Dit is okay om nie die beste in alles te wees nie. ‘n Gelukkige tweede plek is soveel meer werd as ‘n gedrukte eerste plek.

2. Jy hoef nie al in graad een te weet wat jy na skool wil doen nie. Jou belangstellings en dit wat jou opgewonde maak, gaan verander soos jy jouself leer ken...

3. “Vriende” is dikwels net tydelike kennisse ... Ware vriende is daardie mense wat altyd daar sal wees al sien jy hulle nie elke dag nie.

4. Almal kan nie wiskunde doen nie. Net soos almal nie kan sing nie. Vind dít waarin jy goed is EN dit wat jou gelukkig maak. Geluk is belangriker as prestasie. 'n Gelukkige kind word 'n gelukkige volwassene.

5. Die enigste ding wat vanself gebeur is jou hart wat klop. Alle ander dinge is in jou beheer ...

6. ‘n Enkele woord (hetsy gesê of selfs in ‘n WA/FB/SMS) kan jou hele lewe verander: goed óf sleg. Onthou dit altyd. Jy is verantwoordelik vir die woorde wat uit jou mond kom.

7. Hoe jy nóú lyk is nie hoe jy altyd gaan lyk nie.

8. Solank jy dit ‘n droom noem, sal dit ‘n droom bly.

9. Wie jy op hierdie oomblik is, is belangriker as wie jy was en wie jy wil wees.

10. Jy het altyd keuses. Die maklike deel is om ‘n besluit te maak. Die moeilike deel is om met die uitkoms van daardie besluit saam te leef.

11. Lees die padtekens. Die maklikste pad is nie noodwendig die veiligste of die pad met die mooiste uitsig nie ...

12. Rykdom is nie die definisie van geluk nie.

13. Daar gaan altyd iemand wees wat nie van jou hou nie. Gelukkig is daardie persoon nie die enigste mens op aarde nie.

14. Almal maak foute, maar nie almal wil leer uit hulle foute nie. Wees ‘n ewige student van die lewe.

15. Respek kan nooit gekoop word nie.

Dr Owen

Sunday, 20 August 2023

DIE potlood en die uitveër

POTLOOD: "Ek is jammer."
 
UIVEËR: "Waaroor? Jy't mos nie iets verkeerd gedoen nie?"

POTLOOD: "Ek is so jammer dat jy as gevolg van my seerkry! As ek 'n fout maak, is jy altyd daar om dit reg te maak! Maar nadat jy my foute laat verdwyn, verloor jy 'n deel van jouself. Jy word al hoe kleiner!"

UITVEËR" Dis waar, maar ek gee nie regtig om nie. Dis waarvoor ek gemaak is ... om jou te help wanneer jy ookal iets verkeerd doen! En selfs al sal ek eendag heeltemal opgebruik wees, is ek eindelik baie gelukkig in my werk!"

Hierdie gesprek tussen die potlood en die uitveër is op ouers en kinders van toepassing - eintlik op ons almal, afhangende van die situasie. Ouers is die uitveërs en kinders die potlode. Ouers is altyd daar vir hulle kinders! Hulle hanteer die foute en soms kry hulself, as gevolg daarvan, seer. In die proses word hulle kleiner (dis nou die ouer) en uiteindelik is hulle nie meer daar nie!

Kinders vind mettertyd iemand in hulle ouers se plek ('n lewensmaat), maar ouers is nog steeds daar vir hulle en sal altyd alles in hulle vermoë doen om die kinders se kommer of hartseer minder te maak of te laat verdwyn en ek, as potlood, kry baie seer om my ouers wat my uitveër is, onder my oë te sien wegkrimp! 

Ek besef baie goed dat ek eendag net met die uitveërkrummels en die herinnerings sal sit! Elke ouer wil net die beste vir hulle kinders hê. Hulle maak hulle van kleintyd groot met liefde en sorg, Maar as 'n ouer nie hulle kinders van God en sy beloftes leer nie, is alles verniet! Dan word die kinders net 'n leë dop en 'n maklike prooi vir die duiwel! 

Ons, as ouers, het 'n geskenk van God ontvang, wat vir ons geleen word om reg opgevoed te word! En waar kry die kinders die regte leiding? IN DIE BYBEL, by die huis met huisgodsdiens en by die voorbeeld wat die ouers stel! 

Baie kinders weet nie eens wat huisgodsdiens is nie! Maak in die aand, na ete, 'n tydjie om rustig te raak en alles af te skakel en bring weer huisgodsdiens terug in die huise in - dan sal dit beter gaan met jou en jou kinders! 

Die lewe is so deurmekaar, omdat ons God buite in die straat los! MAAK JOU HUIS OOP VIR GOD EN LEER JOU KIND VAN JESUS!

[Anoniem]

Klik HIER om die verhaal van die potlood te lees, Sedert 2018 is hierdie verhaal onder die top 5 mees gelese verhale op hierdie blog. Lekker lees!

Monday, 19 July 2021

Vir die ouers en onderwysers ...

Dié wat heelmaak, laat gedy
Maretha Maartens

Medies en regte is natuurlik prestige-studierigtings. Geseënd is die ouer met 'n slim kind wie se kop net in één rigting staan: 'n eie mediese of regspraktyk. En so-so status van studente wat in hierdie millennium waarin almal veronderstel is om na die sterre te reik, kies om onderwysers te word.

Onderwys, vermoed ons mos, is maar 'n valerige joppie vir vaalsiele. Met hierdie voorveronderstelling gaan jy deur die lewe totdat jy op 'n grys dag in jou eie lewe begin bid vir die regte onderwyser vir 'n kind wat jou hart uit jou liggaam geruk het.

Eers het jou hart ook mos maar net gesit waar harte gewoonlik sit: stil en pynloos, onwaarneembaar en heel in die middel van jou borskas. Dan tref die spesiale kind jou lewe: 'n Kind wat jou hart laat bloei en breek - 'n kind wat wil-wil ontspoor of reeds ontspoor het, 'n kind met emosionele probleme, 'n sukkelkind, 'n pynlike skaam kind, 'n kind met letsels en beletsels, 'n kind wat moeilik verstaan, 'n huilkind en naelkoukind, 'n rolstoelkind, 'n kind wat elke seisoen van meet af aan moet leer swem, 'n wiskunde-verskrikte kind, 'n hartuitrukkind.

Skielik is jou hart buite jou borskas: rou en kloppend, seer en woedend en bewend. En dan, as jou gebede verhoor word, beland die kind wat jou hart uit sy plek geruk het, in die reënboog-aura van 'n gebore onderwyser, die merkwaardige individu wat sy of haar plek tussen die heiliges kan inneem. Hierdie heilige onderskryf die woorde van Ina Huges:

Ons (die onderwyser) aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat dit geniet om gekielie te word, wat met skoolskoene en al in die waterplasse sal rondplas, hul nuwe skoolklere bemors, kort voor aandete 'n verbode versnapering sal eet en nooit hul skoene kan opspoor nie.

Ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir kinders wat nie nuwe skoene besit nie, wat in plekke gebore is waarin ons vir geen geld ter wêreld sou wou rondloop nie; wat nooit sirkus toe gaan nie en wat grootword in 'n milieu wat 'n X-gradering gehoort te dra.

Ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir dié soort kind wat nooit nagereg kry nie, wat nie 'n kamer het wat opgeruim moet word nie wie se foto nêrens op enigiemand se lessenaar staan nie. Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat tussen werklike monsters leef.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat al hulle sakgeld voor Dinsdag uitmors, tantrums in die supermark gooi, vol fiemies oor kos is, nie in die kerk stilsit nie.

Maar ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir dié soort kind wie se nagmerries in helder daglig na hulle toe aankom; kinders wat enigiets sal eet, nog nooit 'n tandarts besoek het nie, wat honger ken soos wat ander fynproewerskos ken, wat hulleself aan die slaap huil.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat rondgedra wil word en vir dié wat rondgedra móét word; vir kleintjies met wie ons die stryd net nooit gewonne gee nie en vir dié vir wie niemand 'n tweede kans gee nie.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders vir wie ons kan stukkend druk, so oulik is hulle en vir 'n ander soort kind wat enigiemand wat genadige oogkontak maak, se hand sal gryp.
- Ina Huges, uit Engels vertaal, met aanpassings.

Op 'n onderwyssimposium in New York is gevra: "Watter eienskappe onderskei suksesvolle onderwysers van minder suksesvolle leerkragte?" Steve Rivkin van Amherst het gesê dat dit min of meer onmoontlik is om by die aanstelling van onderwysers waarborge vir sukses te identifiseer. Gevorderde opleidingskwalifikasies of werksonderwinding is dit nie. Eric Hanushek van die Universiteit van Stanford beweer dat die antwoord op hierdie vraag soos die Heilige Graal - die beker waaruit Jesus by die laaste Awendmaal gedrink en waarin Josef van Arimatéa sy bloed volgens die oorlewering van die kruis sou opgevang het - is. "Dit is die moeite werd om die antwoord te probeer vind,"sê Hanushek, "maar ek twyfel of dit ooit gevind sal word. Miskien het ons met oorerflikheid te doen. Miskien word sekere individue gebore om uitsonderlike onderwysers te wees."

As so 'n onderwyser eers jou en jou kind se hart heel gemaak het, as so 'n onderwyser jou kind lank gelede gehelp het om te glo hy kan 'n dokter of 'n regsgeleerde word, 'n suksesvolle entrepreneur of die beste tromspeler wat enige orkes kan begeer, salueer elke toegewyde onderwyser wat môre elke soort kind onder die son in die klaskamer gaan ontvang.

Bron: Goeiemôre, Volksblad