Tuesday, 21 April 2026

Ruben-idiome: Tee

Maats, na 'n heerlike koppie Vyf Rose tee, het ek besluit om vandag na tee-idiome te kyk. Tot my verbasing kon ek net 5 idiome kry. Julle huiswerk vir vandag is om nog idiome oor tee te gaan soek en dit dan vir my te e-pos. 

* Dis nie almal se koppie tee nie.
Betekenis: Dit val nie in almal se smaak nie.

* Teeblare lees.
Betekenis: Iemand se fortuin vertel.

* Hy is bo sy teewater.
Betekenis: Dronk wees.

* Iemand se tee bitter maak.
Betekenis: Iemand se nooi afvry.

* In iemand se tee blaas.
Betekenis: Iemand se nooi van hom afvry.

Saturday, 18 April 2026

Ruben-humor: Raaisels

* Wat is geel en rond en jaag bo-oor ’n rooi lig?
’n Suurlemoen sonder brieke.

* Wat is die beste manier om ’n apie te vang?
Klim in ’n boom en maak ’n geluid soos ’n piesang.

* Wat is geel en het vier wiele?
’n Piesang. Jammer, ek het gejok oor die wiele.

* Klop-klop!
Wie's daar?
Checkov.
Checkov wie?
Checkov ek my sleutels op die tafel gelos het, asseblief.

Friday, 17 April 2026

Statistiek: 155 000 e-besoeke van lojale e-lesers

 

Vandag, presies 'n maand terug, was daar149 000 e-besoeke.Vandag staan die pageviews op 155 000 - 6000 e-kyke later! Miskien het die reënweer iets daarmee te doen of net dalk is dit Ruben se skrywery wat die lesers nader gelok het. 

Lekker lees - ons waardeer elkeen van julle!!

Thursday, 16 April 2026

Ruben se een minuut gedig: Om gesond te lewe

As ek my kos eet - elke dag -
(ook wortels, kool en avokadopeer)
en voor die nuus begin - elke nag
soet-stil bedwaarts keer ...
 
As ek en Pa net na werk
gaan oefen by die Sweet-en-Strek
dat my spiere groei en bult en rek
tot die meisies na hul asems snak -
 
dán sal ek nie moeg word of verkoue kry
en sonder sukkel spel én somme doen.
"Vriendelik, netjies, gemanierd is hy;
ʼn oulike kind" sal hul my noem!

Nou wil ek net weet:
Hoe’t die Grieke dit geweet?
Was daar toe dan reeds
TV, skool en somme?
 
* Anoniem 

[Bron: Klik HIER]

Wednesday, 15 April 2026

Rosetta se Woensdag-wense

Niemand kan 'n liefdesdaad te gou bewys nie; want 'n mens weet nooit hoe gou dit te laat kan wees nie.

Tuesday, 14 April 2026

Ruben-idiome: Koffie

Maats, maak 'n koppie koffie en kyk hoe logies is vandag se idiome. Net een deurlees en jy het jou koffie-idiome onder die knie. Geniet dit!

* Iets is op die koffie
Betekenis: Dit is stukkend.

* Alles is nie suiwer koffie nie.
Betekenis: Iets is nie pluis nie. 

* Is daar moer in die koffie
Betekenis: Daar is onmin. 

* Jou koffie is vol vlieë.  
Betekenis: Jy misgis jou.

* Ek koffie maar huis toe.  
Betekenis: As jy êrens heen koffie, verkas jy soontoe.

Tuesday, 7 April 2026

Ruben-idiome: Koffie

Vandag kyk ons na koffie-idiome. Dit lyk vir my na die maklikste idiome en terwyl jy aan jou koppie koffie sit en teug, leer jy sommer jou idiome.

* Oppas vir hom, hy sal die room uit jou koffie steel!
Betekenis: Hy is skelm.

* Hy is so maer, hy moet swart koffie drink om ’n skaduwee te gooi.
Betekenis: Dit word gewoonlik van iemand gesê wat baie maer is.

* Hy is 'n regte koffiepot
Betekenis: Iemand wat lief is vir koffie.

* Kaal koffie of koue koffie of koffie sonder ketel.
Betekenis: Bogenoemde verwys na brandewyn of ander sterk drank.

* Jou koffie stort nou-nou - is ’n waarskuwing. 
Betekenis: Jy soek skoor; pasop dat jy nie nou-nou huil nie.

Wednesday, 1 April 2026

Rosetta se Woensdag-wense

Een van die geheime van 'n gelukkige lewe is dankbaarheid. 
Die bril van dankbaarheid, verander die wêreld rondom ons.
Dankbaarheid help ons om verby die dinge te kyk wat die lewe vir ons moeilik maak en die seëninge rondom ons raak te sien. Ons kyk verby die donker wolke en sien die silwer randjie raak.