Showing posts with label Pa. Show all posts
Showing posts with label Pa. Show all posts

Sunday, 15 June 2025

1 Korintiërs 13 vir Pa's

Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.

Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.

Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie.

Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp dien en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.

'n Pa wat lief het, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel nie,
hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,
soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek nie.
'n Pa wat sy kinders lief het, hou nie boek van hulle foute en peper hulle nie met verwyte nie.

'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot hulle eie nadeel.

Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
in hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.

'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.

Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en my geleerdheid,
maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak.

Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.

En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,

Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!

[Outeur: Willem Botha en webruimte: www.heuning.co.za]

Sunday, 16 June 2024

But you didn't

I looked at you and smiled the other day
I thought you saw me but you didn't
I said "I love you" and waited for what you would say
I thought you'd hear me but you didn't
I asked you to come outside and play catch with me
I thought you would follow me but you didn't
I drew a picture just for you to see
I thought you would save it but you didn't
I made a fort for us in the woods
I thought you'd camp with me but you didn't
I found some worms n such for fishing if we could
I thought you'd want to go but you didn't
I needed you just to talk to, my thoughts to share
I thought you'd want to but you didn't
I told you about the game hoping you'd be there
I thought you'd surely come but you didn't
I asked you to share my youth with me
I thought you'd want to but you couldn't
My country called me to war, you asked me to come home safely
But I didn't

Stan Gebhardt

[A 2nd Helping of Chicken Soup for the Soul, page 94 - Click HERE]

Verhaal: My pa

My pilaar  ...

Was ons pa-seun-verhouding ooit goed genoeg? 

My pa was die sterkste man wat ek geken het. Hy het 'n diep stem gehad ... mense het nogal geluister as hy gepraat het. Hy was die enigste mens wat iemand 'n gat in die kop kon praat, sonder dat jy dit besef het. Ek was bang vir hom ... Ek was as klein seuntjie sommer baie bang vir hom! Eintlik was ek doodbang vir hom.

My pa was ten alle tye die pilaar in ons familie.

My pa se goeie eienskappe was regtig wat hom die pilaar van sy gesin gemaak het. Hy was vriendelik. Hy het ons elke aand vir sy Here God geoffer. Ons kon hoor hoe hy vir elkeen van ons op ons naam bid. Dit het ons spesiaal laat voel. Elke keer as ek iets verkeerd gedoen het, het hy my gestraf. Ek het nie altyd met die straf saamgestem nie, maar hy het gesê ek sal dit eendag verstaan. Ons het soms baklei, maar hy het nooit vir my kwaad gebly nie, want my punte was elke kwartaal besonder goed. Solank ek onder die top 10 was, was my pa in sy element.

Toe word ek 14 jaar oud en my pa sterf onverwags. Ek was ontsteld, geskok,van die spoor af ... my rigtingwyser was skielik nie meer daar nie. Al het ons soms baklei en baie keer verskillende sienswyses gehad, was ons soos twee koppe in een mus. As hy hier was, sou ek duidelik geweet het of hy tevrede was met my lewe. Hy sou vir my gesê het dat ek nou groot genoeg is om te leer motor bestuur, en dan sou hy my geleer het, soos my beste vriend, Thabo, se pa hom nou leer.

'Skuus, Pappa ... ek was nie altyd die seun wat ek graag vir jou wou wees nie. Ek het opgehou bid - eintlik bid ek nooit meer nie. Maar ek belowe dat ek sal verander. Ek kyk nou met meer respek na mamma. Sy sukkel regtig sonder jou ... ek sal haar beslis meer help.

Ek is nou die grootmenskind in die huis ... maar ek is nog steeds jou kind.
Ek het nou 'n diep manstem ... want ek is mos pa se kind.    
Ek bid byna nooit nie ... soos die dogter in Ma van Antjie Krog.
Ek mis my pa ... maar vir pa sal ek nooit vergeet nie.

Pa se voetspore is duidelik in my lewe, en vandat ek ouer is, besef ek dit meer. Tienerwees is om rebels te wees en om verkeerdelik te dink jy is slim.

Ek weet dat ek eendag vir pa sal sien, miskien in die paradys ... Ons verhouding was goed genoeg ... Dit kon beter gewees het, as ek net altyd na pa se raad wou luister ... want pa was die beste vader wat enige kind voor kon vra!

Ek besef vandag, noudat dit te laat is om dit vir pa te sê, dat pa my hero is.

Dankie, Pa!

[Bongani Khambule - graad 12-leerder 2015]

Tuesday, 11 June 2024

Is bloed dikker as water?

['n Pre-Vadersdaggedagte]

'n Stiefpa in my geval is beter as 'n pa. 

'n Stiefpa het 'n keuse om jou lief te hê, om jou te aanvaar soos sy eie.

Ek en my stiefpa het ons verskille. Ons kan baklei soos enige ander pa en dogter, alhoewel hy nie my biologiese pa is nie, is hy in my hart my biologiese pa en die enigste pa wat ek het. Hy is die manlike figuur in my lewe. Die man wat my groot gemaak het soos sy eie.

Hy het ingestaan wanneer die een wat daar moes wees, nie wou nie. Hy het my al embarress soos ons jong klomp sou sê. Hy het my by die skool afgelaai met musiek wat kliphard speel en nie enige musiek nie, BOEREMUSIEK! Hy het my al gelos sodat ek in die skuifdeur vasloop en glo my, hy het dit gesien kom.

Ek is trots om te sê my pa het ingestap toe die ander man uitstap. Dit beteken die wêreld vir my en ek sal hom altyd liefhê. Hoop net nie hy trip my op my troudag as pa en dogter saam moet inloop nie.

Bloed is dalk dikker as water, maar in my oë is die water nou my bloed!

[Dankie, vir die een wat dit gestuur het en baie dankie ook vir die een wat dit geskryf het. Ek plaas dit omdat dit in soveel huisgesinne die situasie is. En daar dikwels nie die erkenning aan die bloed-stiefpa's gegee word nie.] 

Thursday, 25 April 2024

Verhaal: My lewensplan

My lewe sou goed kon wees ...
My lewe sou dalk beter kon wees ...
My lewe sou die beste kon wees as ek maar net 'n vriend in my klas kon hê ... iemand met wie ek kon praat en my vrese kon deel vir die kere wat my oupa nie daar was nie.

Ek was vyf jaar oud. My ouers het vir my 'n verjaardagpartytjie by my oupa se huis gereël en terwyl ek lekker met my nuwe maatjies gespeel het, het my ouers net verdwyn. Ek kan dit nie regtig onthou nie, maar dit is wat my oupa my vertel het. Hulle was glo baie arm, en hulle kon nie vir my sorg nie, toe word ek maar my oupa se verantwoordelikheid.

Hy het gesê dat 'n mens se lewe soos 'n huis is en die manier waarop jy aan hierdie huis bou, bepaal hoe jou huis op storms gaan reageer. Ek het dit nie so goed verstaan nie, maar my oupa het voortdurende en geduldig vir my vertel dat ons elke dag aan my huis bou.

My oupa was glad nie ryk nie. Hy het in 'n baie klein huisie langs die rivier gebly. Daar was nie elektrisiteit nie, maar daar was hope liefde in die huisie. My oupa was 'n baie sterk man met 'n baie sterk persoonlikheid. Almal het respek vir my oupa gehad. En die lekkerste van alles is dat ek vir my oupa belangrik was. Ek het nooit soos 'n las gevoel nie. Ek was só trots op my oupa ...

Eendag was hy in 'n taxi-ongeluk. Hy het sleg seergekry en moes vir twee maande in die hospitaal bly.

In daardie twee maande het my bekommernisse begin ... Wie sal vir my sorg as my oupa sterf? Ek was verskriklik bekommerd. Ek kon snags nie slaap nie. En as ek aan die slaap geraak het, het ek nagmerries gekry. Ek was alleen en daar was niemand wat vir my lief was en vir my omgegee het nie. Ek het bitter min geslaap, geëet en ek kon ook nie my huiswerk doen nie. Ek was dwalend ...

Terwyl hy in die hospitaal was, het my klasmaats my begin koggel, want ek het gesukkel met my skoolwerk ... eintlik met alles. Daar was niemand by die huis wat my kon help nie.

Ek bly alleen by die huis en ek is alleen by die skool!

Ek voel sommer soos 'n alleenplasing in een van die gedigte wat ons doen.

My hart is altyd seer en dit lyk vir my asof my moeilikheid nie einde het nie. 

Ek het vir my oupa in die hospitaal gaan kuier. Hy kon sommer op 'n distansie sien dat dinge nie goed gaan nie. Nadat hy die storie uit my geryg het, was sy kommentaar: "My Seun, ek gaan nêrens heen nie. Ek gaan by jou bly totdat jy oud is. Jy is 'n baie sterk kind. Ek weet dit. En ek glo in jou. As jou klasmaats vir jou koggel oor jou omstandighede, sê vir hulle jy gee nie om nie, want jy weet presies wie jy is en waarheen jy op pad is!"

Die volgende dag was ek baie positief en baie opgewonde om skool toe te gaan ... vir die heel eerste keer in my lewe. My lewenshuis het skielik 'n sterker fondasie gekry en die suidewind wat aanhoudend waai, kon my nie ontstel nie, want ek het geweet my lewenshuis is sterk genoeg.

Dankie, Oupa ...  

[Bongani Khambule - 2015]

Thursday, 21 March 2024

Verhaal: My lewe sal beter wees as ...

Ek het jou in my lewe nodig!

Liewe Pa

Ek wens dat ek Pa elke dag kon sien - van aangesig tot aangesig, maar ek hoor een maal 'n maand van Pa. Dit is al wat ek ken. Ek hoor mense sê: "'n Seun het 'n pa in sy lewe nodig." Ek het dit nooit in my lewe ervaar nie. Die soort verhouding wat ek ken, is 'n finansiële verhouding. 

Pa, ek glo in liefde, nie in geld nie. 

Mamma is die heel beste. Sy is meer as net 'n moeder vir my. Sy is elke dag aan my sy. Sy is my pa en my ma. Sy is my silwer en my goud. Weet Pa dit?

Ek droom altyd oor hoe ons verhouding moes wees. 'n Pa-seunverhouding. Die liefde, die lekker geselsies, die goeie raad en sommer net die dáár wees vir ons gesin. Maar dis net drome, ek sal nooit die voorreg hê om dit te sien nie. Pa, ons het soveel tyd gemors. Ek is jou oudste kind ... jou oudste seun, maar ons ken mekaar nie. En hiervoor, Pa, moet ek vir jou dankie sê! Jy sal op papier my vader wees tot aan die einde van tyd.

Verlede jaar toe Pa in die hospitaal was, het ek gesien hoeveel liefde daar eintlik tussen ons kon wees. Drie maande later is ek ook in die hospitaal opgeneem, ook hartprobleme, maar myne was nie so erg soos Pa s'n nie.

Ek is lief vir Pa, ek sal altyd lief bly vir Pa. Ek is dankbaar vir die finansiële bystand wat ek elke maand van Pa ontvang het. Dit het die las op ma ligter gemaak. Ek is baie dankbaar vir die R200 000 wat Pa nou vir my gegee het. Ek belowe dat ek net so 'n suksesvolle man soos Pa sal wees, maar ek wil eendag 'n baie beter pa as Pa wees ...

My lewe sou baie beter gewees het, as ... as ek net 'n pa gehad het, 'n omgee-pa, nie 'n OTM-pa nie.

Pa se dankbare seun.   

[Anoniem 9 Februarie 2015]

Friday, 29 November 2019

Spesiaal vir die onbetrokke pa ...

My seun Fanie was agt jaar oud en was deel van die Voortrekkers vir 'n klein rukkie. Tydens een van hulle byeenkomste het elkeen 'n vel papier gekry, 'n stuk hout en vier wiele en hulle was aangesê om dit huis toe te neem en vir "Pa" te gaan gee.

Vir Fanie was dit nie 'n maklike taak nie. Pa was nie een van daardie mense wat graag iets saam met sy seun gedoen het nie. Pa het geglo dat 'n kind maar sommer self moet grootword. Maar Fanie het hard probeer en elke dag vir Pa gevra vir sy hulp.

Pa het die vel papier geneem, die voorskrifte gelees en dit smaalend eenkant gegooi. Hy was beslis nie van plan om saam met sy jong seun 'n houtkarretjie te bou nie. Die blok hout het vir weke daar eenkant gelê. Die tyd het verby gegaan.

Eendag het Ma besluit genoeg is genoeg, sy het die vel papier geneem en gekyk of sy miskien iets met die stuk hout en vier wiele kon uitrig. Projek "motorbou" het begin in alle erns. Sy het nog nooit houtwerk gedoen nie, en die beste wat sy kon doen was om stap vir stap vir Fanie te verduidelik wat gedoen moes word, en hom die werk laat doen. Hy was so gretig dat hy baie entoesiasties alles gedoen het wat Ma verduidelik het. Sy het die mates vir hom gelees, en al die moets en moenies van die motor wat gebou moes word.

Binne weke het die stuk hout vorm begin aanneem en was die buitelyne van die sportmotor al duideliker sigbaar. Effens skeef en krom, maar baie mooi (of so het Ma gedink). Fanie het nie een van die ander kinders se motors gesien nie, en was baie trots op sy "blou weerlig blits" van 'n motortjie. Daardie trots wat jy voel as jy iets self met groot gesukkel reggekry het.

Toe breek die groot dag van die wedren aan. Met sy blou houtmotortjie in sy hand, en 'n hart wat wil bars van trots het ons na die veld gery waar die groot wedren van houtmotortjies sou plaasvind. Toe ons daar aankom het Fanie se trots baie gou in vernedering verander. Sy motor was baie duidelik die enigste een wat deur hom alleen gemaak was. Al die ander motors was baie duidelik 'n seun/pa venootskap, met stylvolle lyne, en baie "cool' geverfde strepe. Regte sportmotortjies wat gebou is om die maksimum spoed uit te kry.

'n Paar van die seuns het sommer hardop begin giggel vir Fanie se skewe, onaantreklike selfgeboude en selfgebroude motor. En om dit nog erger te maak was Fanie die enigste seun sonder 'n pa aan sy sy. Daar was 'n paar seuns van enkel ouerhuise maar hulle het darem 'n oupa of 'n oom saam met hulle gehad, en al wat Fanie gehad het, was "Ma"

Die wedloop het begin en dit was gedoen deur middel van eliminasie. So lank as wat jy onder die voorste paar was, het jy in die wedloop gebly. Een vir een het die motors by die sand glybaan afgejaag. En uiteindelik was die wedloop tussen Fanie en die mooiste motortjie van die dag. Toe die laaste wedloop reg is om te begin, het my grootoog, skaam seuntjie gevra of hy die wedloop net met 'n oomblik kan vertraag, omdat hy eers wil bid ... Almal het stil geword.

Fanie het op sy knieë neergesak en sy snaakse skewe blou motortjie tussen sy handjies vasgehou. Met 'n ernstige frons op die sproetgesiggie het hy met sy Hemelse Vader in gesprek gegaan, baie ernstig het hy vir 'n minuut en 'n half gebid, toe staan hy op, glimlag vir almal en kondig ewe braaf aan: "Ok, ek is gereed".

Die skare het begin skree, en 'n seuntjie genaamd Tommie het langs sy pappa gestaan terwyl die twee motortjies teen die wal af jaag. Fanie het alleen gestaan, met net sy Hemelse Vader in sy hart en gekyk hoe sy lelike skewe motortjie met verbasende spoed teen die wal afry, en met 'n sekonde of twee voor Tommie se motortjie oor die wenstreep jaag.

Fanie het in die lug opgespring en geskee: "Dankie, Dankie!" en die skare het hulle goedkeuring uitgeskree. Die organiseerder het met die mikrofoon na Fanie gekom en vir hom gevra: "Fanie, het jy gebid om te wen?" en toe antwoord my kind: "O, nee Oom, dit sou baie onregverdig van my gewees het om te verwag dat die Here moet gee dat Tommie verloor, ek het net vir Hom gevra om my te help dat ek nie huil as ek verloor nie."

Weereens kan die wysheid van kinders ons verstom. Fanie het nie die Here gevra om die uitslag van die wedloop in sy guns te swaai nie, maar hy het die Here gevra vir krag, ongeag wat die uitslag van die wedloop was. Toe Fanie die eerste keer al die ander motors sien, het hy nie God beskuldig omdat al die ander seuns pa's gehad het wat hulle gehelp het, en hy net vir Ma gehad het nie. Nee hy het net gebid vir krag om die uitslag met waardigheid te aanvaar.

Miskien spandeer ons te veel tyd om God te vra om die uitkoms van ons lewenswedloop in ons guns te laat swaai, om ons die wenners te maak. Of miskien spandeer ons teveel tyd om God te vra om die wedloop heeltemal te verwyder, in plaas daarvan om op ons knieë neer te sak en God te vra om ons krag te gee om die wedloop met waardigheid te voltooi.

 Fanie het nie gebid om die ander seuntjie te laat verloor nie, dit was onregverdig in sy oë. Hy wou net krag hê, krag om nie te huil as Tommie se motortjie gewen het nie. Deur die wedloop te stop, en eers te bid, het hy vir almal daar gewys dat hy nie daar was sonder 'n Vader nie, sy Hemelse Vader was die hele tyd by hom. Daardie aand het Fanie as oorwinnaar weggestap, met sy Vader langs hom.

Here maak ons soos Fanie, gee ons krag om die stryd met waardigheid te voltooi, en deur dit alles, hou asseblief ons hand baie styf vas.
AMEN!
(Geleen)

Friday, 7 June 2019

Gelukkige Vadersdag ...

Gebruik hierdie idee om vir jou
pa 'n mooi en maklike vadersdagkaartjie
te maak. Skryf 'n uit-jou-hart-
boodskappie vir hom en sê sommer
dankie vir alles.