Showing posts with label Verjaardagwense. Show all posts
Showing posts with label Verjaardagwense. Show all posts

Tuesday, 11 November 2025

'n Volle handvol kersies

Die week begin sommer met 'n verjaardagmaatjie. 'n Heerlike seuntjiekoek word in die eetsaal vir *Johan gegee en blikke van bewondering swiep oor die koek. 

'n Koek met 'n ruwe Safari-roete en vier karretjies daarop is die rede vir 'n vyfjarige seuntjie se sterre in sy oë.

Daar is geen twyfel dat sy verjaardag 'n baie spesiale dag op sy 2025-almanak is nie.

In Ruben se woorde: "Vreugde vir jou nuwe lewensjaar!" 

Sunday, 27 July 2025

'n Besige verjaardagweek


Die afgelope week was 'n bedrywige verjaardagweek by Christina Kiddie. Die verjaardagwense was soet in die mond van hulle wat verjaar het.


'n Groot DANKIE aan Charlotte van die *Sandwich Shop wat aan elkeen die verjaardagkoek van sy of haar drome gebak het. Jy sit daardie ekstra onthou in 2025 se verjaardae en maak dit só spesiaal vir elke verjaardagmaatjie.

Monday, 5 May 2025

Ruben skryf spesiale verjaardagwense vir tannie Christelle


Liewe Maats

Ek skryf net 'n baie kort briefie om ons tannie Christelle terug te verwelkom by die werk. Ek het die laaste ruk aanmekaar vir julle geskryf en ek besef dat te veel van 'n goeie ding, nie goed is nie. Tog wil ek nie hierdie kans deur my vingers laat glip om vir tannie Christelle duidelik te laat verstaan dat ons haar gemis het en dat haar plek in die kantoor en in ons harte leeg was nie.

Ek, in my hoedanigheid as hoof van sekuriteit, het haar regtig gemis. Daar is so baie dinge wat ek graag met haar sou wou bespreek, veral as ek hond se gedagtes gekry het, maar dan het ek maar op my instinkte staatgemaak. Ek het hierdie afgelope week ook agtergekom dat jy nie slapende honde moet wakker maak nie, want jou eie honde byt die seerste.

Dankie, tannie Sanette, dat jy nie tannie Christelle se verjaardag vergeet het nie en dat jy vir haar haar gunstelingkoek gebak het. Ek, Tommie en ouma Annie het koppe bymekaar gesit om vir jou spesiale wense te skryf. Tannie Sanette het ons gehelp met al die byvoeglike naamwoorde.

'n Verjaardag is 'n sprankeling
wat jý alleen kan voel ...
'n Verjaardag is 'n warmte
wat jý alleen gewaar ...
'n Verjaardag is genoeglikheid
wat jý alleen verstaan ...
'n verjaardag is 'n dag,
net 'n bietjie sonniger,
en helderder,
'n bietjie liefliker
en baie gelukkiger
as 'n gewone dag ...
en die beste van alles ...
dis alles joune!

Liewe tannie Christelle, ons hoop dat jou verjaardag saam met jou familie baie spesiaal was en dat jy met ons definisie van 'n verjaardag saamstem.

Ruben-groete tot volgende keer!

Thursday, 24 April 2025

Verjaardaglooks!!


Ruben: My ouma Annie het altyd vir haar kinders en kleinkinders gesê dat hulle nie mooi en aantreklik hoef te wees nie, maar as hulle mooi doen, dan is hulle waardevolle viervoetige burgers vir die samelewing. Die soort honde wat die land nodig het. 

Ons familie is nou nie silwerdoek-materiaal nie, maar ons kan ons man staan en is die sout van die aarde honde. Groot was my verbasing toe Yvonne vir my 'n foto vra. Sy was taamlik geheimsinnig oor die rede en het net in my oor gefluister dat ek haar rolmodel is en dat sy my bewonder vir my dapperheid en waaksaamheid.

Ek het in my vier spore vasgesteek toe Charlotte Yvonne se verjaardagkoek kom aflewer het. Getrou op my pos by die voorhekkie, het ek gesien hulle sukkel om die groot koek uit die kar te laai en daar sien ek dat ek op die koek pryk ... lewensgroot! Ek kon my twee oë nie glo nie. Dankie, Charlotte, dat julle nie net Yvonne se dag spesiaal gemaak het nie, maar ook myne. Ek voel kompleet soos 'n hond met sewe sterte!     

Ek het spesiaal vir tannie Christelle gevra om 'n foto te neem sodat ek dit vir ouma Annie kan stuur. Sy is mos baie lief vir my en sy is ook baie lief om koek te bak en hier is haar twee groot liefdes gekombineer in 'n raar maar waar foto!

As enige iemand my modeltalente wil bekom, kan hulle gerus vir tannie Christelle kontak, sy sal sommer ook as my agent optree.

Wednesday, 5 February 2025

Verjaardagengele bestaan regtig


Drie verjaardagengele het vandag by ons kom kuier!! Ons opgewondenheidsmeter het gevaarlik in die rooi in beweeg. 'n Yslike groot DANKIE aan Charlotte en haar twee regterhande, Mercia en Liezel, van die *Sandwich Shop. Charlotte het onderneem om 2025 spesiaal te maak deur vir elke inwoner sy of haar droomverjaardagkoek te bak. Elkeen van hierdie koeke getuig van liefde, omgee en kreatiwiteit.


* Klik HIER vir meer inligting!