Showing posts with label Inspireer. Show all posts
Showing posts with label Inspireer. Show all posts

Sunday, 17 November 2024

My gedagtes: Vriendskap

Daar is nie iemand wat alles weet nie ... Alhoewel daar baie mense is wat dink hulle weet alles.

As jy vir iemand sou vra wat 'n vriend is, sal jy baie subjektiewe antwoorde kry. Die objektiewe antwoord waarna 'n mens soek, is dat 'n vriend iemand is wat vir jou lief is (net dit) ... sonder voorwaardes.

Mense weet nie meer wat liefde is nie. Kyk maar net 'n slag om jou rond, kyk na die nuus en lees die koerante. Ons het 'n liefdelose generasie geword, wat na kitsoplossings soek.  

Is liefde dan 'n emosie?

Nee! Liefde is jou aksies. Wat jy doen, nie wat jy voel nie.

'n Vriend is iemand wat nie vir jou kan of wil lieg nie. Iemand wat te alle tye vir jou die waarheid en niks anders as die waarheid vertel nie. 'n Vriend is iemand wat aan jou glo en wat ook in jou lewensdroom glo. 'n Vriend is iemand wat dankbaar is dat jy sy of haar pad gekruis het en iemand wat jou op die regte pad hou.

Jou vriend is 'n rots.

Jou vriend is altyd daar vir jou as jy in die storms van die lewe beland. Hy of sy staan saam met jou teen die aanslae van die suidewind. 

'n Vriend is altyd daar vir jou.

'n Vriend is betroubaar.

Maar ek is ook hartseer as ek aan vriende dink, want daar is baie vals vriende wat hulle eie geheime agenda het. Hulle is die spreekwoordelike houtkappers van die lewe. Hulle kap ongevraagd jou hout.

Hulle is daar in jou lewe vir wat hulle wil hê en wat hulle uit die vriendskap kan kry ... nie vir jou as persoon nie, maar daar is altyd hoop ... hoop dat die wêreld van 'n liefdelose wêreld kan verander na 'n liefdevolle wêreld. 

Wees dankbaar as jy 'n ware vriend het, hulle is skaars ... dis die vals vriende wat volop is.    

Thursday, 4 July 2024

Verhaal: Wolf en jakkals

Jakkals het geweet dat Wolf vir hom smoorkwaad is; daarom het hy besluit om liewer uit sy pad te bly. Hy weet ook dat hyself die oorsaak daarvan is. Vermyding is 'n soort tydelike vrede, of dit is wat hy homself wysmaak. Maar hierdie taktiek werk ook nie vir altyd nie. Daarvoor is die wêreld heeltemal te klein. En so gebeur dit toe ook dat Jakkals onverwags in Wolf vasloop. Nogal op die wal van 'n rivier ... Wolf wys sy groot tande en sê wreed: "JOU LAE LUIS! Gewetenlose s-k-e-l-m! Vanaand gaan ek met jou afreken. Ek wag al baie lankal vir hierdie dag. Moenie dink jy gaan weer wegkom nie."  

Jakkals skrik groot, maar hy wys dit nie. Hy sit sy mooiste smile op sy gesig en sê: "My liewe oom Wolf, ek soek al twee dae lank na Oom. Koning Leeu vier fees hier oorkant die rivier, en hy het ons ook na die eetmaal genooi. Daar sal die heerlikste wildsvleis en bene wees om aan te smul. En as Koning Leeu feesvier, doen hy dit op groot skaal."

Toe Jakkals van die heerlike kos vertel, en hy is so oortuigend vriendelik, besluit Wolf om eers na die fees toe te gaan. Waarom sal hy nie eers pret hê en dan by plig uitkom nie? Daarna sou hy met Jakkals afreken. Tyd is mos aan sy kant. "Maar hoe sal ons deur die rivier kom?" vra Wolf baie versigtig. "Jy weet mos ek kan nie swem nie." Hy besluit dat Jakkals se antwoord ook sommer 'n toets vir Jakkals en sy gesindheid is.

"O, dis maklik," antwoord Jakkals. "Klim gou op hierdie stomp aan die kant van die water en hou aan my stert vas terwyl ek deurswem. Jy weet self ek is 'n baie goeie swemmer. Op dié manier is ons in 'n japtrap aan die oorkant van die rivier. Maklik! Ek sien al die vleis in my geestesoog."

Wolf spring op die stomp en ontdek tot sy ontsteltenis dat dit 'n krokodil is. Verskrik val hy in die water, waar Krokodil hom vinnig aan die stert gryp. Met 'n groot gesukkel en gespartel geluk dit hom om homself te bevry, maar 'n stuk van sy stert bly in die slag. Wolf is oombliklik kwaad, eintlik woedend, maar teen dié tyd was Jakkals skoonveld.  

Wolf besef te laat dat hy nie na die vriendelike praatjies van Jakkals moes geluister het nie. Jakkals is 'n vals vriend en gee nie regtig om vir sy medemens nie, verder is hy ook nie hulpvaardig nie - hy gee net voor. Dit gaan altyd net oor sy eie belange en wat hy uit die vriendskap kan kry! Jakkals is 'n vals vriend en hy wat wolf is, moet dit vir die res van sy lewe onthou. Jakkals is nie geloofwaardig nie.  

Die les: Moenie 'n jakkals wees nie.

Sunday, 16 June 2024

Verhaal: My pa

My pilaar  ...

Was ons pa-seun-verhouding ooit goed genoeg? 

My pa was die sterkste man wat ek geken het. Hy het 'n diep stem gehad ... mense het nogal geluister as hy gepraat het. Hy was die enigste mens wat iemand 'n gat in die kop kon praat, sonder dat jy dit besef het. Ek was bang vir hom ... Ek was as klein seuntjie sommer baie bang vir hom! Eintlik was ek doodbang vir hom.

My pa was ten alle tye die pilaar in ons familie.

My pa se goeie eienskappe was regtig wat hom die pilaar van sy gesin gemaak het. Hy was vriendelik. Hy het ons elke aand vir sy Here God geoffer. Ons kon hoor hoe hy vir elkeen van ons op ons naam bid. Dit het ons spesiaal laat voel. Elke keer as ek iets verkeerd gedoen het, het hy my gestraf. Ek het nie altyd met die straf saamgestem nie, maar hy het gesê ek sal dit eendag verstaan. Ons het soms baklei, maar hy het nooit vir my kwaad gebly nie, want my punte was elke kwartaal besonder goed. Solank ek onder die top 10 was, was my pa in sy element.

Toe word ek 14 jaar oud en my pa sterf onverwags. Ek was ontsteld, geskok,van die spoor af ... my rigtingwyser was skielik nie meer daar nie. Al het ons soms baklei en baie keer verskillende sienswyses gehad, was ons soos twee koppe in een mus. As hy hier was, sou ek duidelik geweet het of hy tevrede was met my lewe. Hy sou vir my gesê het dat ek nou groot genoeg is om te leer motor bestuur, en dan sou hy my geleer het, soos my beste vriend, Thabo, se pa hom nou leer.

'Skuus, Pappa ... ek was nie altyd die seun wat ek graag vir jou wou wees nie. Ek het opgehou bid - eintlik bid ek nooit meer nie. Maar ek belowe dat ek sal verander. Ek kyk nou met meer respek na mamma. Sy sukkel regtig sonder jou ... ek sal haar beslis meer help.

Ek is nou die grootmenskind in die huis ... maar ek is nog steeds jou kind.
Ek het nou 'n diep manstem ... want ek is mos pa se kind.    
Ek bid byna nooit nie ... soos die dogter in Ma van Antjie Krog.
Ek mis my pa ... maar vir pa sal ek nooit vergeet nie.

Pa se voetspore is duidelik in my lewe, en vandat ek ouer is, besef ek dit meer. Tienerwees is om rebels te wees en om verkeerdelik te dink jy is slim.

Ek weet dat ek eendag vir pa sal sien, miskien in die paradys ... Ons verhouding was goed genoeg ... Dit kon beter gewees het, as ek net altyd na pa se raad wou luister ... want pa was die beste vader wat enige kind voor kon vra!

Ek besef vandag, noudat dit te laat is om dit vir pa te sê, dat pa my hero is.

Dankie, Pa!

[Bongani Khambule - graad 12-leerder 2015]

Wednesday, 5 June 2024

Die gedagtes van 'n tiener: Wysheid waar is jy?

Wysheid is die ma van groot nasies ...

Die bymekaarmaker van ons wêreld. Jy is ons vreugde ... ons ... jou kinders. 

Jy is die rede dat ons glo ons kan enige iets doen. Met jou aan ons sy, is daar nie iets soos 'n verlore siel nie. Jy is 'n vredemaker. 'n Boekmerk vir al ons probleme ...

Jy is nederig ... elkeen weet van jou en is bewus van jou, maar jy beweeg graag anoniem. Jy is die oorsaak en die beginpunt van baie gedagtes en gesprekke. Met jou nie in ons midde nie, is ons taamlik stomgeslaan, en vang ons allerhande stommiteite aan. Daar is selfs mense wat na ons as stommerike verwys. Vrae maalkolk deur my moeë brein ...

In alles is daar wysheid, maar alles het nie wysheid nie. 'n Mossie het mossie-wysheid, maar hy het nie die wysheid van 'n arend nie. Elkeen het die potensiaal om jou te hê, maar kla en ontevredenheid is nie is nie vriende van wysheid nie. En die meeste van ons is uitstekende klaers. Ons is ontevrede oor alles. Niks is volgens ons nukke en grille nie. 

Ouer mense sit met 'n klomp wysheid, maar ons wil nie daarna luister nie - ons noem dit oumenspraatjies - en ons is tog mos jonk en modern. Hierdie is die vrae wat deur my kop maal en wat ek nie durf waag om my maats te vra nie - hulle sal dink dat ek iewers 'n skroef los het.

Ek kom agter dat wysheid nie meer so logies deel is van mense nie. Met jou nie deel van die mensdom nie, kan baie min hul eie probleme oplos. Probleme word net al meer, maar ook al minder oplosbaar. Het die mensdom die insig om met wysheid na 'n probleem te kyk, verloor?

Die wêreld is sonder 'n boekmerk. Die melancholiese eentonigheid van 'n wêreld sonder jou is duidelik sigbaar. Jy is belangrik in ons lewe. Ons hoop maar dat ons ook belangrik is in joune ... Maar waar is jy?

Die wêreld is sonder insig en eentonig kleurloos. Mense weet niks nie. Hulle ploeter voort sonder 'n rots waarop hul kan staan. Hulle is 'n ankerlose bootjies in die suidewind van die lewe. 

Depressief is die wêreld waarbinne ek staan. 'n Wêreld waar elkeen jou nie wil hê as metgesel nie. Baie is bang vir jou ... bang vir die waarheid, bang om hierdie wêreld se ballades in die oë te kyk. 

Die wêreld is bittersoet vir hulle wat nou daarin leef. Elkeen sien die soet raak, maar soet is nie die waarheid nie ...        

Thursday, 25 April 2024

Verhaal: My lewensplan

My lewe sou goed kon wees ...
My lewe sou dalk beter kon wees ...
My lewe sou die beste kon wees as ek maar net 'n vriend in my klas kon hê ... iemand met wie ek kon praat en my vrese kon deel vir die kere wat my oupa nie daar was nie.

Ek was vyf jaar oud. My ouers het vir my 'n verjaardagpartytjie by my oupa se huis gereël en terwyl ek lekker met my nuwe maatjies gespeel het, het my ouers net verdwyn. Ek kan dit nie regtig onthou nie, maar dit is wat my oupa my vertel het. Hulle was glo baie arm, en hulle kon nie vir my sorg nie, toe word ek maar my oupa se verantwoordelikheid.

Hy het gesê dat 'n mens se lewe soos 'n huis is en die manier waarop jy aan hierdie huis bou, bepaal hoe jou huis op storms gaan reageer. Ek het dit nie so goed verstaan nie, maar my oupa het voortdurende en geduldig vir my vertel dat ons elke dag aan my huis bou.

My oupa was glad nie ryk nie. Hy het in 'n baie klein huisie langs die rivier gebly. Daar was nie elektrisiteit nie, maar daar was hope liefde in die huisie. My oupa was 'n baie sterk man met 'n baie sterk persoonlikheid. Almal het respek vir my oupa gehad. En die lekkerste van alles is dat ek vir my oupa belangrik was. Ek het nooit soos 'n las gevoel nie. Ek was só trots op my oupa ...

Eendag was hy in 'n taxi-ongeluk. Hy het sleg seergekry en moes vir twee maande in die hospitaal bly.

In daardie twee maande het my bekommernisse begin ... Wie sal vir my sorg as my oupa sterf? Ek was verskriklik bekommerd. Ek kon snags nie slaap nie. En as ek aan die slaap geraak het, het ek nagmerries gekry. Ek was alleen en daar was niemand wat vir my lief was en vir my omgegee het nie. Ek het bitter min geslaap, geëet en ek kon ook nie my huiswerk doen nie. Ek was dwalend ...

Terwyl hy in die hospitaal was, het my klasmaats my begin koggel, want ek het gesukkel met my skoolwerk ... eintlik met alles. Daar was niemand by die huis wat my kon help nie.

Ek bly alleen by die huis en ek is alleen by die skool!

Ek voel sommer soos 'n alleenplasing in een van die gedigte wat ons doen.

My hart is altyd seer en dit lyk vir my asof my moeilikheid nie einde het nie. 

Ek het vir my oupa in die hospitaal gaan kuier. Hy kon sommer op 'n distansie sien dat dinge nie goed gaan nie. Nadat hy die storie uit my geryg het, was sy kommentaar: "My Seun, ek gaan nêrens heen nie. Ek gaan by jou bly totdat jy oud is. Jy is 'n baie sterk kind. Ek weet dit. En ek glo in jou. As jou klasmaats vir jou koggel oor jou omstandighede, sê vir hulle jy gee nie om nie, want jy weet presies wie jy is en waarheen jy op pad is!"

Die volgende dag was ek baie positief en baie opgewonde om skool toe te gaan ... vir die heel eerste keer in my lewe. My lewenshuis het skielik 'n sterker fondasie gekry en die suidewind wat aanhoudend waai, kon my nie ontstel nie, want ek het geweet my lewenshuis is sterk genoeg.

Dankie, Oupa ...  

[Bongani Khambule - 2015]

Thursday, 21 March 2024

Verhaal: My lewe sal beter wees as ...

Ek het jou in my lewe nodig!

Liewe Pa

Ek wens dat ek Pa elke dag kon sien - van aangesig tot aangesig, maar ek hoor een maal 'n maand van Pa. Dit is al wat ek ken. Ek hoor mense sê: "'n Seun het 'n pa in sy lewe nodig." Ek het dit nooit in my lewe ervaar nie. Die soort verhouding wat ek ken, is 'n finansiële verhouding. 

Pa, ek glo in liefde, nie in geld nie. 

Mamma is die heel beste. Sy is meer as net 'n moeder vir my. Sy is elke dag aan my sy. Sy is my pa en my ma. Sy is my silwer en my goud. Weet Pa dit?

Ek droom altyd oor hoe ons verhouding moes wees. 'n Pa-seunverhouding. Die liefde, die lekker geselsies, die goeie raad en sommer net die dáár wees vir ons gesin. Maar dis net drome, ek sal nooit die voorreg hê om dit te sien nie. Pa, ons het soveel tyd gemors. Ek is jou oudste kind ... jou oudste seun, maar ons ken mekaar nie. En hiervoor, Pa, moet ek vir jou dankie sê! Jy sal op papier my vader wees tot aan die einde van tyd.

Verlede jaar toe Pa in die hospitaal was, het ek gesien hoeveel liefde daar eintlik tussen ons kon wees. Drie maande later is ek ook in die hospitaal opgeneem, ook hartprobleme, maar myne was nie so erg soos Pa s'n nie.

Ek is lief vir Pa, ek sal altyd lief bly vir Pa. Ek is dankbaar vir die finansiële bystand wat ek elke maand van Pa ontvang het. Dit het die las op ma ligter gemaak. Ek is baie dankbaar vir die R200 000 wat Pa nou vir my gegee het. Ek belowe dat ek net so 'n suksesvolle man soos Pa sal wees, maar ek wil eendag 'n baie beter pa as Pa wees ...

My lewe sou baie beter gewees het, as ... as ek net 'n pa gehad het, 'n omgee-pa, nie 'n OTM-pa nie.

Pa se dankbare seun.   

[Anoniem 9 Februarie 2015]

Sunday, 10 March 2024

My gedagtes: Die toekoms is 'n reis

Toekomsplanne is die begin van ons reis - ons lewensreis!

Matriek is baie belangrik vir jou toekoms. Jou punte sal die pad aandui wat jy gaan loop. My ma herinner my altyd: "Jou matriekpunte is die sleutel tot jou toekoms. Daardie sleutel sluit jou spesifieke deur oop. Jou toekoms is letterlik in jou eie hande."

My toekoms is belangrik ... so my fokus is op my punte. Al is ek moeg of doodmoeg ... ek sal werk. Die rede is omdat ek die beste toekoms wil hê wat ek kan kry. Ek sien te veel mense rondom my wat nie hard genoeg in hulle matriekjaar gewerk het nie.

Maar ek is bang ...

As jy nie goeie matriekpunte het nie of as jy glad nie matriek het nie, is jy werkloos. Slegte punte beteken dat jy nie baie of miskien nie die beste geleenthede gaan kry nie Jy kan nie na 'n universiteit toe gaan nie. Jy kan nie 'n goeie werk kry nie en dit alles is die gevolg omdat jy nie lus was om in matriek hard te werk nie. En hierdie een verkeerde besluit sal maak dat jy vir die res van jou lewe gaan rondval en sukkel. Niemand is bereid om jou te help as jy jouself nie op skool gehelp het nie. Terwyl jy in die skool is, is daar altyd onderwysers of sportafrigters wat bereid is om jou te help en só dikwels maak 'n leerder nie daarvan gebruik nie.

Sal my harde werk en slapelose nagte die moeite werd wees?  Het ek hard genoeg vir my eindeksamen gewerk of is ek besig om met my toekoms te speel? 

Ek weet nie, maar my PUNTE sal dit wys. Ek wil graag 'n baie stabiele en goeie werk hê, sodat ek vir my ouma kan help. Ek hunker na 'n goeie lewe, maar drome sonder aksies is net nog 'n wens. Ek moet hard werk, ek moet goeie punte kry, sodat ek die sleutel wat my toekoms gaan oopsluit, in my hande kan vashou en ek wil graag my ouma trots op my maak! Die een mens wat haar knieë vir my deurgebid het en dit nog steeds doen!

Ouma is die padaanwyser op my lewensreis. 

Hendrew Rantsie - 1 Junie 2022

Thursday, 7 March 2024

Verhaal: Sport

Ek was 'n baie goeie atleet ...

Nou is ek in die sop ...

Ek kon nie die druk hanteer nie.

Ek was deel van die Suid-Afrikaanse atletiekspan. Ek was die afgelope drie jaar die kaptein van die Vrystaatse atletiekspan. Almal ken my naam. En elke keer as ek hardloop, hoor ek hoe die skare my naam skree ...

Dit het alles binne 'n sekonde verdwyn ...

15 Mei. Sasolburg. Vrystaatse interprovinsiale byeenkoms. Seuns o/18. Ek was in baan drie. Die twee seuns langs my was gespanne. Ek kon die wen in my bloed voel ...

Thabang Zungu het ander planne gehad. Hy was in baan ses. 'n Maer seun. Hy kom van een of ander plaas af. Ek het nog nooit van hom gehoor nie.

Nou kan ek hom nie uit my kop kry nie.

My begin was goed. Ek was gefokus. Alles het egter by die 30 m-merk verander. Iets aan my linkerkant het my aandag afgetrek. 'n Seun in 'n geel trui wat kaalvoet hardloop ...

Dit is nie Thomas Kruil nie, kan dit Thabang wees ...

Die afstand tussen ons het groter geword. Die mense het opgehou skree. Daar was niks nie, net stilte ... doodse stilte ...

Toe hy by die wenpaal kom, was die afstand tussen ons so groot soos die afstand tussen Welkom en Bloemfontein. Hy was 'n hele drie sekondes voor my ...

Die kaalvoet seun - Thabang Zungu. Hy was op almal se lippe. Hy was al onderwerp by die skool. Van Maandag tot Vrydag.

Dit was asof ek nie daar was nie. Dit was kompleet asof ek nie bestaan het nie.

Die druk het te veel geword ... Ek het kortisone in my spiere gepomp. Kitsoplossing! En hard geoefen.

'n Mens kon duidelik sien hoe die son my gebrand het. Maar ek is in die moeilikheid. Groot moeilikheid. Want vanjaar gaan hulle ons toets. As hulle hierdie geheim van my uitvind, sal ek in my lewe nooit weer mag deelneem nie. Ek sal weer op die voorblad van die koerant wees, maar om die verkeerde redes.

So, vandag is ek in die sop ...   

[Tlotliso Matile - 2015] 

Thursday, 29 February 2024

Kinderverhaal: Eers vyande, nou vriende ...

Hy het gesê dat ons vriende sal wees wanneer varke kan vlooi ...

Dit is nou al twee jaar dat ek in Kerkstraat Plettenberg woon. Ek woon saam met my gesinnetjie in 'n pragtige huis, in die mooiste straat in die dorp. Maar ongelukkig bly my grootste vyand, die kat Cesar ook daar. Cesar is eintlik 'n wildekat - hy is groot en vinnig en het baie skerp kloue. Hy mag met liefde in hierdie groot huis bly, want anders as ek, is hy 'n werkende inwoner.

Ek is die pa van twee meisiemuise en die wyfie in my lewe, is ook die moeder van my kinders. Ek moet vir my gesin sorg ... 'n muis moet doen wat 'n muis moet doen. Elke oggend, sommer baie vroeg gaan lê ek 'n vinnige besoek aan mev. Iris, die eienaar van die pragtige huis, se kombuis af. Ek gaan kos soek, meer spesifiek - kaas!

Elke keer stap ek vinnig by my klein deurtjie uit nadat ek links en regs en weer links en regs gekyk het. 'n Mens kan nie te versigtig wees nie. Hoor ek die onheilspellende miaaaau, dan weet ek dat ek vandag moet hardloop dat my rug hol word, want Cesar is in die onmiddellike omgewing. Somtyds is ek gelukkig en kry ek kos in die hande, en somtyds nie ... My vrou en kinders sit elke oggend doodbenoud om die tafel en wag op my veilige terugkoms.

Verlede Sondag het ons Carte Blanche gekyk en een sinnetjie wat ek baie nuttige gevind het, is die feit dat een van die polisiemanne gesê het dat 'n mens nie elke dag dieselfde roetine moet hê nie. Kriminele hou jou dop ... verander jou roete werk toe en moenie elke dag jou huis op presies dieselfde tyd verlaat nie. En skielik het ek lig gesien. Cesar hou my dop! Ek moenie elke oggend my huis om 06:00 verlaat nie. Ek moet my uitgaantye afwissel. En baie belangrik, ek moenie altyd na die kaas mik nie, brood is net so vullend. Lekkerbekkigheid gaan my nog my lewe kos en wie gaan dan na my gesin omsien? 

Een wintersoggend het my hele lewe verander ... Ek sal daardie dag nooit vergeet solank ek lewe nie. Ek het by my huisie uitgesluip en Cesar was soos gewoonlik kort op my hakke. Skielik hoor ek net: "Eina!" Cesar het op 'n naald getrap. Ek kyk vinnig om, bang dat dit 'n nuwe vangmetode van sy kant af is, maar daar sit die wilde dapper kat en huil. Ek moes 'n belangrike besluit in sekondes maak. Ek besluit om die kos te los en hom te help. Ek het die naald met my tande uitgetrek. Ek was die hele tyd doodbang, want ek is 'n hap ver van sy bek af, maar sy gesig het skielik verander. "Dankie, en baie jammer vir al die ander tye wat ek jou lewe so mislik gemaak het."

Hierdie was 'n wonderwerk.

Nou maak ons twee eertydse vyande of hy my agtervolg as ek uitglip om te gaan kos soek ... maar hy laat my toe om die kos te kry en huis toe te bring ... elke keer.

En dit is hoe my vyand my vriend geword het. 

Die wiel het gedraai!

[Rethabile Molelekoa 2015]   

Sunday, 24 September 2023

God maak nie foute nie


Kort voor Kersfees 2004 word 'n eerstelingseun vir Edwina van Khayelitsha gebore. 'n Pragtige kind, Raemondo. Maar die vreugde duur nie lank nie. Op drie weke ontdek sy ma 'n ongewone klopping in sy keel. Khayelitsha hospitaal verwys hom dadelik na die Rooikruis Kinderhospitaal. Daar vind hul uit hy het ’n ekstra aar wat veroorsaak dat te veel bloed na sy hart gepomp word. Raemondo was nog te klein en hul moes drie maande wag om te opereer. Hy kon eers weer huis toe gaan op vyf maande oud.

Tog is iets nie pluis nie. Raemondo het ’n verskriklike uitslag op sy vel en mettertyd begin die punte van sy vingers en tone pikswart vertoon. Weereens word hy na die Rooikruis Hospitaal gehaas en volg ’n skokkende diagnose - meningokokkale meningitis. Bloedsirkulasie in sy liggaam word beperk en sy ledemate gaan letterlik stukkie vir stukkie dood ...

Raemondo se toestand versleg en hy verval in ’n koma. Op 'n dag vra 'n dokter sy ma: ”Watter kwaliteit .van lewe kan hy nog hê, Mamma? Let him go." Depressie en onsekerheid oorval haar. Tot sy 'n boodskap op Radio Tygerberg hoor: "God maak nie foute nie." Net daar besluit sy: Ek is nie in beheer van sy lewe nie. Raemondo het aangehou veg en die lang pad van operasies en amputasies het begin.

”Dit was eers sy voete. Daarna sy handjies. En weer die bene en toe die arms.

Ons het "count” verloor van al die operasies.”

Hy was reeds in graad 2 toe hy sy laaste operasie ondergaan het.

Te midde van alles het Raemondo ontwikkel in ’n gelukkige kind met 'n aansteeklike glimlag. Stilsit was net nooit 'n opsie nie ...

Van kleins af was hy mal oor sport. Eers gholf en later tafeltennis waarvoor hy in 2019 provinsiale kleure verwerf. Toe nooi die Roxy Davis Foundation hom om 'n branderplanksessie by te woon. En daar byt die ”surfing”gogga hom. Soveel so dat hy in die eerstejaar WP-kleure kry! By die Nasionale Para-Branderplank Kampioenskap behaal hy ’n tweede plek. In Desember gaan hy sy 16de verjaardag in Kalifornië vier terwyl hy aan die Wéreldkampioenskap sal deelneem!

Raemondo het sy skoolloopbaan in Astra-skool begin, maar hulle bied net onderrig tot graad 9. Sy ma was vasberade dat hy matriek moet voltooi en Jan Krielskool was boaan die lys. Hier is koshuisgeriewe, verskeie terapeute en spesialispersoneel. Die Jan Kriel Sentrum vir alternatiewe leer stel hom in staat om werksopdragte en huiswerk met sekere konsessies te voltooi - hy skryf immers self met sy "geboude hand!" Veral sy verblyf in die koshuis - met die nodige dissipline wat alle 15-jariges benodig - het ’n groot verskil in sy skoolwerk gemaak.

Sy lewensleuse dryf hom elke dag:

Never give up. No matter how hard the situation.” 

Bron: Jan Kriel-nuusbrief (Nov. 2022)

Thursday, 5 May 2022

Donderdag: Dink hieroor ... Dis my boetie se beurt ...

'n Verhaal word vertel van 'n matriekklas by 'n sekere skool wat geregeer is deur die belhamel-element. Die klas het haas onregeerbaar geword en een ná die ander onderwyser het sy of haar goed gevat en geloop omdat dit nie vir hulle enigsins moontlik was om dissipline en orde te handhaaf nie. Daar is advertensies in al die koerante geplaas, maar soos wat die onderwysers aangestel is, so het hulle 'n paar weke later maar weer hul goed gevat en geloop.

Maar een oggend was daar 'n ligte kloppie aan die skoolhoof se deur en n tingerig geboude man het daar gestaan. Die skoolhoof het gegroet en toe stel die man homself voor: Ek is Mnr Buys en ek het kom aansoek doen vir die pos van matriekonderwyser. Die skoolhoof het die man op en af gekyk en toe vir hom gesê: Dankie Mnr Buys, maar groter en sterker manne as jy het al aansoek gedoen en het maar weer stert tussen die bene 'n paar weke later weggesluip.

Mnr Buys het die skoolhoof in die oë gekyk en toe gesê: Dan het jy mos niks om te verloor deur my 'n geleentheid te gee nie. Ek sien kans vir hierdie klas. Die skoolhoof het sy bedenkinge gehad, maar het te sleg gevoel om vir hierdie man te sê dat hy heeltemal te klein en maer is vir hierdie klomp belhamels en het hom toe aangestel.

Die volgende oggend was die matriekklas op hul beste, die geraas is deur die hele skool gehoor. Daar was 'n vreeslike rumoer wat deur die gange ge-eggo het. Die klasdeur het oopgegaan en mnr Buys het stadig by die deur ingeloop terwyl hy die hele spul so op en af bekyk, hy het agter sy tafel gaan staan en net gekyk, nie 'n woord gesê nie.

Daar het skielik 'n doodse stilte oor die matriekklas neergedaal. Of dit verbasing was omdat so 'n klein verpiepte mannetjie die mannemoed gehad het om by hulle klas in te stap, en of dit net die atmosfeer was wat die man omvou het - wat ook al die rede - die stilte was voelbaar.

Mnr Buys het van die geleentheid gebruik gemaak om die klas te groet, homself voor te stel en hulle te vra om asb hulle plekke in te neem. Hy verduidelik toe vir hulle dat hy orde en dissipline gaan toepas, maar met die verskil, dat hulle die reëls en die straf sal bepaal. Hy gaan staan toe voor die swartbord en vra hulle watter reëls hulle wil instel. Die een groot belhamel met die naam van Jakobus spring toe op en skree:"Daar mag geen diefstal wees nie", en mnr Buys skryf toe GEEN DIEFSTAL.

Die volgende ou spring toe op en sê daar mag geen vloekery wees nie, en mnr Buys skryf GEEN VUIL TAAL, en so het die klomp hul totaal en al oorgegee aan die genot van die maak van die reëls. Toe staan mnr Buys eenkant en sê dit is nou goed so, maar wat van die straf as een van hierdie reëls verbreek word. O dit is maklik skree ou Jakobus weer, 10 van die bestes met die rottang. Goed sê mnr Buys, so sal dit wees en skryf toe die straf ook op die bord.

Die dag het redelik vlot verloop en die pouse het aangebreek.

Na pouse storm Jakobus die klas binne en sê vir mnr Buys, "My toebroodjies is gesteel, en die reëls sê daar mag nie gesteel word nie, so die skuldige moet asb gestraf word". Mnr Buys vra toe of hy weet wie die brood gesteel het, Ja, sê Jakobus, dit was Klaas. Mnr Buys vra toe wie Klaas is, en agter in die klas staan 'n maer, verwaarloosde seun stadig op. Mnr Buys vra hom toe of hy die brood geneem het en hy sê toe ja, hy het. Mnr Buys kyk toe vir die kind en sien dadelik die hongerpyne op die seun se gesig raak, maar hy het ook besef as hy nie die nodige disipline toepas nie, gaan hy ook druipstert die skool verlaat. Hy versoek toe vir Klaas om vorentoe te kom.

Klaas was die toonbeeld van armoede, die skoene was stukkend, en oor sy skoolbroek het hy 'n oorgrote baadjie gedra wat hy styf voor toegevou het. "Klaas trek uit jou baadjie en kom buk". Klaas kom toe vorentoe en buk met die baadjiepante nog steeds styf vasgehou. "Nee Klaas, die baadjie is te lank en dit hang oor jou boude, jy moet dit asb uittrek". "Ag meneer", smeek Klaas, "ek sal buk want ek is skuldig, maar asb meneer, net nie my baadjie nie".

Mnr Buys voel hoe sy binneste ruk, want hy weet hier is groot behoefte, maar ter wille van die dissipline van die klas moet die seun gestraf word. Hy versoek toe weer vir Klaas om sy baadjie uit te trek, en weer smeek hierdie maer verwaarloosde kind: "Meneer, ek sal enigiets doen, maar asb meneer, ek kan nie die baadjie uittrek nie".

Mnr Buys kon ook nie toegee nie, en sê weer: "Kom Klaas, uit met die baadjie" en toe Klaas sien hy gaan die baadjie moet uittrek, maak hy dit oop en laat dit stadig grond toe gly en staan voor die onderwyser met net die broek aan sy lyf.

"Klaas waar is jou hemp" vra mnr Buys. "Meneer, in ons huis is daar net een hemp en een baadjie en dit was vandag my boetie se beurt om die hemp te dra. En meneer ek het nie bedoel om die brood te neem nie, ek het gedink Jakobus gaan dit net weer in die asblik gooi soos elke dag, en ek was so honger, toe dink ek hy sal nie eens agterkom dat die brood weg is nie".

Mnr Buys het gemaak of hy na iets op die bord kyk om hom geleentheid te gee om sy emosies onder beheer te kry. Toe draai hy om en sê: "Klaas, jy verstaan dat ek wel die dissipline moet toepas. Jy verstaan dat ek nie 'n uitsondering kan maak nie", en Klaas kyk hom in die oë en sê: "Ja meneer, ek verstaan" en toe buk hy, en Mnr Buys tel die rottang op om die eerste hou te slaan, toe breek Jacobus se stem die stilte in die klas, "Wag Meneer moenie hom slaan nie." Mnr Buys kyk na Jacobus en sê: "Nee die straf moet toegepas word vir die oortreding van die reëls". "Nee meneer, moenie hom slaan nie, hy was honger, los hom ek sal in sy plek kom buk om die straf te kry."

Daar was nie n droë oog daardie dag in daardie klas nie. Maar net so het daar Iemand ook voor die Vader gestaan en gesê, Asseblief Vader moenie hulle straf nie, Ek sal in hulle plek die straf neem. Kom ons maak 'n punt daarvan om in hierdie nuwe dag, hierdie nuwe week opnuut vir Jesus dankie te sê vir die straf wat Hy namens ons verduur het. Laat mens dink, dink voor jy praat en doen aan andere wat jy graag wil hê gedoen moet word aan jou.

Sien ook die nood raak van die ander met wie jy 'n pad kruis.

JY KAN 'N VERSKIL MAAK! MAG GOD JOU SEEN!

[Dankie, Carine Lubbe, wat dit met ons deel.]

Thursday, 7 April 2022

Donderdag: Dink hieroor ... 12 wisdom rules


1. God wants spiritual fruit, not religious nuts.
2. There is no key to happiness. The door is always open.
3. Silence is often misinterpreted, but never misquoted.
4. Dear God, I have a problem, it’s me.
5. Laugh every day, it’s like inner jogging.
6. Blessed are the flexible for they shall not be bent out of shape.
7. The most important things in your home are the people..
8. As a child of God, prayer is kind of like calling home everyday.
9. He who dies with the most toys is still dead.
10. It’s all right to sit on your pity pot every now and again. 
Just be sure to flush when you are done.
11. Surviving and living your life successfully requires courage. 
The goals and dreams you’re seeking require courage and risk taking. 
Learn from the turtle, it only makes progress when it sticks out it’s neck.
12. Be more concerned with your character than your reputation, because your character is what you really are, while your reputation is merely what others think you are.

Author: Unknown

Thursday, 3 March 2022

Donderdag: Dink hieroor ... Beperkings in jou lewe


Die man stap verby ‘n trop olifante wat vasgebind staan. Hy stop skielik en is verbaas dat hierdie enorme diere deur so ‘n dun tou aan die voorpoot vasgehou kan word. Geen kettings, geen hokke, behalwe die dun tou aan die voorpoot en ‘n pen in die grond.

Dit was duidelik dat die olifante, indien hulle wou, maklik kon losbreek van die tou wat hul vashou, maar vir een of ander duistere rede, het hulle nie losgebreek nie.

Hy sien daar naby een van die afrigters van die olifante staan en vra hom hoekom die olifante net daar staan en nie ‘n poging aanwend om los te breek van die toue nie.

“Wel,” sê die afrigter, “terwyl hulle nog baie jonk en heelwat kleiner was, het ons presies dieselfde dikte tou gebruik as nou, dit was voldoende om hulle so vas te hou dat hulle nie kon losbreek nie. Soos wat hul groter geword het was hulle so gekondisioneer dat hulle steeds glo hulle kan nie losbreek nie. Hulle glo die tou kan hulle steeds vashou en daarom probeer hulle nie eens meer om los te breek nie.”

Die man was verstom. 

Hierdie diere kan enige oomblik loskom van die bande wat hulle vashou, maar omdat hulle glo hulle kan nie, is hulle presies waar hulle nou is.

Hoeveel van ons, net soos die olifante, gaan deur die lewe en glo ons kan nie iets doen nie, slegs omdat ons eenkeer onsuksesvol was toe ons dit probeer het?

Soms het die toue vir ons ‘n verskoning geword sodat ons nie weer hoef te probeer nie en ons skuil agter die verskoning van die toue om onsself nie bloot te stel aan moontlike mislukking nie.

Les: Mislukking is deel van leer. Jy misluk nie omdat jy bestem is om te misluk nie, maar daar is lesse wat jy nodig het om te leer om aan te gaan in die lewe. SUKSES IS DALK NET EEN MISLUKKING VER. MAAR JY SAL NIE WEET AS JY NIE PROBEER NIE.

Klik HIER om terug te gaan na Inspirasiestories.

Thursday, 3 February 2022

Donderdag: Dink hieroor ... Robbie se verhaal

Ek wil vir jou die storie van Robbie vertel. 

Robbie kom uit ’n baie moeilike huis. Mens kan sê ’n slegte huis, ’n huis sonder ’n pa, met ’n ma wat die meeste van haar lewe onder die invloed van drank was. Sy het vir Robbie baie sleg behandel, het hom soms genadeloos geslaan, hy het dikwels nie veel gekry om te eet nie, want daar was nie geld nie.

Robbie het egter gewonder hoe sy die drank en sigarette kon gekoop het. Hy het vir ’n paar jaar skool toe gegaan, maar hy was altyd gespot en sleggesê en het uiteindelik begin stokkiesdraai en wegbly van die skool af. Daar was dikwels mans by sy ma, maar hy het nie geweet of een van hulle dalk sy pa was nie.

Toe hy sy ma eendag vra waar sy pa was, het sy gesê dat rubbish soos hy nie ’n pa kan hê nie. So het die een oom hom Robbie Robbish begin roem en lustig deelgeneem aan die mishandeling. Op 'n dag kon Robbie net nie meer nie, en hy loop toe weg. Hy het homself belowe dat hy nooit weer sal terugkom nie en hy het op die straat begin lewe. Met bedel, kos soek op vullishope en soms iets uit ’n winkel steel, het hy aan die lewe gebly.

Hy was vry ... so het hy gedink. Robbie het baie van Jesus gehoor. By die skool het hulle ’n Bybel-periode gehad. By die huis het hy die naam Jesus ook gereeld gehoor, wanneer sy ma kwaad was en dit uitgeskree het. Dit het hom verwar, want by die skool het hy gehoor van Jesus se liefde, maar by die huis het hy gedink dis ’n vloekwoord. Nadat Robbie weggeloop het, het hy soms gewonder of iemand na hom soek. Hy het nooit weer huis toe gegaan nie en op die straat gelewe.

Robbie het in ’n stegie geslaap onder goed wat hy op ashope opgetel het. Diep in sy hart was iets goeds geskryf wat hy nooit verstaan het nie. Hy het probeer om niemand skade aan te doen nie. En toe, op een goeie dag, kom daar mense van ’n kerk en hy kry die grootste geskenk van sy lewe: ’n splinternuwe kombers en ’n sakbybeltjie. Omdat hy nie goed kon lees nie, het hy maar saans net so bietjie daarin rondgeblaai. Die een naam wat heeltyd opgeduik het, was Jesus. Hy het meer en meer begin wonder wie dit was. Daar was ’n ouer man wat ook in die stegie geslaap het. Sy naam was Dave. Dave het vir hom vertel dat hy ’n geleerde ou is en op Universiteit was, maar die lewe het sy rug op Dave gedraai en hy is uit sy gesin uit en het ook ’n boemelaar geword. Maar Dave was slim en het geweet van die Bybel. Hy het dit ook gereeld gelees en soms met Robbie oor Jesus gepraat. Hy het gewens Dave was sy pa. Eendag het Robbie verby ’n kerk geloop en daar was ’n groot bord met die woorde: “Jesus is die antwoord”. Maar hoe goed hy ook al op die bord gelees het, het hy nie geweet wat die vraag is nie. As Jesus dan die antwoord is, wat is die vraag? Dit het hom verwar.

Een Sondagoggend het hy buite die kerk gestaan en luister na die prediker wat gepraat het oor liefde. Maar hy het nie geweet wat liefde is nie. Dié aand het hy vir Dave gevra wat liefde is. Dave het gesê: “Jesus is liefde”. Toe is hy nog meer verward oor die vraag. Hy het ’n antwoord, maar nie ’n vraag nie. Hy het gedink hy kan seker nie weet nie, want hy is mos ’n rubbish. Een aand het Robbie vir Dave gevra hoekom mense vir Jesus ken en hy wat Robbie is, nie. Hy het ook nie verstaan hoekom dit net ryk mense is wat vir Jesus ken nie. Eendag het hy weer buite die kerk gaan luister en gehoor die pastoor praat oor die wet. Dié aand het hy vir Dave gevra om dit vir hom te lees. Eks 20:1-17 Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie. Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Dit was egter vir Robbie die spyker in die doodskis. Hy het nie sy ouers geëer nie, hy het sy ma gehaat. Hy het soms iets gesteel; hy het nie God geëer nie, hy het dikwels gelieg as hy gebedel het. En hy het begeer – veral as hy gesien het hoe iemand smul aan iets lekker. Toe sê hy vir Dave: “Ek kan nie hierdie goed doen nie. Ek is te sleg. Ek is ’n Robbish. Dit is nie vir my nie”. Dave het toe hierdie woorde gesê: “Robbie, Jesus is die antwoord”. Robbie het amper omgeval, want toe kry hy die vraag van die antwoord. Dave het verder vir hom verduidelik: “Omdat jy nie kan nie, kan Jesus. Jesus is die antwoord op alles”. 

Robbie het besluit hy gaan hierdie pad probeer. Daardie aand het Robbie sy ma vergewe, onvoorwaardelik. Dave het vir hom die Onse Vader-gebed gelees en hy het verstaan waar sy daaglikse brood vandaan kom. Die volgende oggend het Robbie nie wakker geword nie. Dave het hom gekry met ’n salige trek op sy gesig. Yskoud. Hy het in sy slaap gesterf. Dave het besef dat daar geen teleurstelling vir Robbie is nie. hy het dit gemaak. Hy was op die beste plek. Dave het by homself gedink, Robbie was geen rubbish nie, want God maak nie rubbish nie, al het Robbie dit in sy kort lewe geglo. 

Hy het ook geweet Robbie glo nou anders. Hy het gewonder hoekom die Here vir Robbie so vroeg in sy lewe kom haal het. Hy het egter vertroosting gekry in Lukas 16, die deel oor Lasarus en die ryk man. Luk. 16:22: “Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham”. Hy het ook gedink aan die reëltjie uit die lied Starry Starry Night (wat oor die lewe en sterwe van Vincent van Gogh gaan): “But I could have told you, Vincent (Robbie), this world was never ment for one as beautiful as you”

Robbie was nie ’n Robbish nie. Jy is ook nie, weet jy? Want die Here maak nie robbish nie. Dis teen die aard van Sy liefde. Ten spyte van swaarkry en moeilikheid, bly Hy steeds die antwoord, ongeag wat jou vraag is. Hy bly altyd die antwoord op alles. Die probleme gaan nie noodwendig altyd weg nie, maar Jesus is steeds die antwoord. Altyd. En of ek en jy ons lewe lank die Here dien, of net-net betyds die Here vind, soos Robbie, is ons uiteinde dieselfde. 

There is no disappointment in heaven. 

Wednesday, 12 January 2022

Skep moed ...

Onthou jy dalk die werklike verhaal van Bethany Hamilton? 

Sy het in Hawaii grootgeword. Die meeste van ons dink aan Hawaii as die plek waar mense so lekker branderplank ry. Sy is geen uitsondering nie. Teen 7-jarige ouderdom het sy al klaar branders met haar branderplank kon ry. Maar toe tref ’n aaklige tragedie haar in 2003.

’n Haai byt haar linkerarm af.

Soos sy in die herstelproses gaan, maak sy twee beloftes aan haarself. Die ene is dat sy nie sal kla oor hierdie slegte ding wat gebeur het nie. Die tweede is om weer terug te klim op haar branderplank. Die meeste ander mense sou dink hulle gaan nooit weer die see aandurf nie. Maar nie Bethany nie. Na slegs 26 dae was sy terug op haar branderplank!

Sy skryf toe in vir kompetisies en is in ’n stadium gereken as een van die top 50 vroue branderplankryers in die wêreld! Daar is ook ’n fliek oor haar lewe gemaak met die titel Soul Surfer

Was sy soms gefrustreerd? Natuurlik. Sy het nog meer as die gewone hindernisse gehad deur sonder ’n arm te leer branderplankry en met die bestes mee te ding. Maar sy het geleer om haar vrese te bowe te kom en moeilike situasies te oorkom. Een van die dinge wat haar gehelp het, was haar geloofsvertroue in haar God.

Die belangrikste ding wat ons moet bly onthou, is dat elkeen ’n keuse het om jou lewe te verryk soos Bethany, of jy het ’n keuse om uit te klim en nie weer op jou branderplank te klim nie.

Dankie, dr. Jannie le Roux, dat ons hierdie stukkie inspirasie kan leen. 

[Jannie le Roux - http://jannieleroux.co.za/drie-re-om-jou-te-verryk/

Sunday, 3 January 2021

'n Koester Karos-dankie vir elkeen se betrokkenheid

'n Baie groot dankie aan elke leser wat betrokke gelees en gereageer het. 

Dankie aan elkeen wat so gereeld gedurende 2020 berigte, idees, planne en foto's gestuur het om hierdie blog van KOESTER KAROS aan die gang te hou. 2020 was nie 'n maklike jaar nie en baie ouers se planne het opgeraak hoe om hulle kleuters en kleintjies besig te hou, maar deur te deel, het almal daarby gebaat.  . 

2021 begin in 'n sekere sin waar 2020 opgehou het, daarom vra ons dat elkeen wat betrokke was, sal voortgaan om nuus, idees, foto's en inspirerende boodskappe te stuur. Ons sien uit daarna. 

Koester 2021 en maak hierdie 'n jaar wat oorloop van hoop.

Sunday, 14 June 2020

Henry John Heinz

Lees verder
HIER
Op ouderdom ses jaar het Henry John Heinz sy ma begin help om na die klein tuin agter hul familiewoning om te sien. Op twaalf het hy 'n tuin van drie-en-half akker bewerk, met 'n perdekar aflewerings , driekeer per week, aan kruidenierswinkels oral oor die stad Pittsburg gedoen. Uiteindelik het hy sy eie maatskappy gestig en dit 57 Varieties genoem.

Die Henry John Heinz-maatskappy is in 1905 geïnkorporeer, en tans, meer as honderd jaar later, verkoop dit meer as eenduisend-driehonderd produkte wêreldwyd, van tamatiesous tot babakos. Maar daar is ander dinge wat jy moet weet: Henry John Heinz was lief vir Jesus en diep betrokke by die bevordering van Sondagskool in Pittsburg en oor die wêreld heen.

Sy maatskappy was bekend vir die baanbrekerswerk in veilige en higiëniese voorbereiding van kos en was sy tyd voor op die gebied van arbeidsverhoudinge. Hy het gratis mediese voordele, swem- en gimnasiumfasiliteite gegee, en vroue bevorder tot poste met groter verantwoordelikheid deur hulle toesighouers te maak. Hy het aansien verwerf vir die verbetering van werk- en verblyftoestande van sy werkers.

In sy testament het Henry John Heinz gesê: 'Ek het die wens om ter aanvang van hierdie testament, as die belangrikste punt daarin, die belydenis van my geloof in Jesus Christus as my Verlosser te stel. Ek het ook die wens om te getuig van die feit, dat regdeur my lewe, waarin daar ongewone vreugde en verdriet was, ek op wonderlike wyse ondersteun is deur my geloof in God deur Jesus Christus. Hierdie nalatenskap kom van my toegewyde moeder, 'n vrou met sterk geloof en aan wie ek die sukses wat ek behaal het, toeskryf.