Showing posts with label Dirk van Heerden. Show all posts
Showing posts with label Dirk van Heerden. Show all posts

Monday, 22 July 2024

Hartswarmte is jou eie geknoopte kombers

Vandag was sommer 'n baie lekker en spesiale dag by Christina Kiddie. Elke inwoner het twee stukke materiaal gekry en Tinike Lombaard (een van die mej. Diamantveld-finaliste) het vir elkeen gewys en  geleer hoe om hierdie komberse te knoop. Waar die handjies te klein was om te knoop, het sy hand bygesit.

Wat 'n heerlike kleurvolle aktiwiteit was dit nie? Elkeen was ernstig besig om 'n pragstuk te knoop wat die Noord-Kaapse winterkoue buite gaan hou. Dankie vir al jou tyd, Job se geduld en Tinike-vriendelikheid om vandag 'n super lekker onthoudag te maak. 

Tuesday, 9 July 2024

Ruben se vakansie-oorsig

Liewe Maats

Ek moet bieg, hierdie koue vakansie was ek werklik besiger as die hele tweede kwartaal. Daar het so baie dinge gebeur dat dit vir my voel asof ek nog steeds aan die hardloop is. Die derde kwartaal het vandag begin, maar voordat ek daaraan aandag kan gee, wil ek net vir julle so 'n neutedopopsomming gee van wat alles gedurende die vakansie plaasgevind het.

Ek begin sommer by die Bybelskool, met die kinderfeestema, wat regtig 'n besondere ervaring was. Drie van ons inwoners is tydens die eerste week opgelei as kringleiers en die tweede week was ons kniediep by alles betrokke wat die fees gebied het. Daarna het ons heerlike dankie-sê-koekies gebak vir die Bybelskoolorganiseerders en -deelnemers.

Tussendeur het ons 'n heerlike bederfbesoek van Dirk en Tinike gekry - gaan kyk asseblief na die artikels wat oor hulle kuier handel. Daarna het WOW 'n spesiale pretdag saam met ons deurgebring en het ons baie uit die kognitiewe speletjies geleer wat ons deur die loop van die dag gespeel het. Gaan lees gerus my briefie van 21 Junie 2024 waar ek breedvoerig oor die dag uitbrei. En dan het ons 'n verrassingsbesoek van Timney Greyling en Ben Burger gekry.

Ons klomp het 'n besoek aan die DBV gebring, maar ek moes by die Jeugsorgsentrum agterbly om die plek op te pas. Was ek nou spyt dat ek die enigste manspersoneellid daardie dag aan diens was. Ek sou so graag 'n draai by die DBV wou maak om te kyk wat hulle alles daar doen. En so 'n bietjie skinder tussen ons vierpotiges is mos nie te versmaai nie. Ek kan egter met trots sê dat Christina Kiddie nie met leë hande daar opgedaag het nie, maar kat- en hondekos saamgeneem het. Hou gerus ons webwerf dop, daar gaan nog foto's van hierdie besoek geplaas word.

Koekies bak een Saterdagmiddag was ook op ons lang vakansielys van doendinge en die versiering van kolwyntjies het ons kreatiewe kant na vore laat kom. 

En dan was daar speeltye ... sommer in hoofletters! Die seuns het paaie gebou, lughawens opgerig en plase uitgelê, terwyl die dogters heerlik pop gespeel het. Hulle babas is omtrent bederf. Elke ma moes met die hulp van tannie Christelle die bababedjies van karton met lap oortrek en vir elke bedjie was daar 'n matras, 'n kussing en 'n warm kombersie. Elke baba het ook 'n naam gekry en so al spelende is daar ook waarhede van kindergrootmaak onder die ma's uitgeruil. 'n Paar dae later het elkeen ook 'n bababottel gekry wat nuwe dimensie aan die spelery gegee het. Al spelende het ure van die vakansie net onder ons uitgeglip.

'n Groot verrassing was die besoek van Matilda Tandemuis. Ons het nie eens geweet dat sy by ons Jeugsorgsentrum ingetrek het nie. Die eerste sigbare tekens was toe sy vir haar boumateriaal betaal het en sommer 'n dankie-briefie in die skoen gelos het.

Gister het ons vrolike geraamde Portchie-skilderye opgedaag. 'n Hartskenking van die kunstenaar homself. Ek sou nie vir een oomblik kon dink dat hierdie wêreldberoemde man van Stellenbosch van ons klompie hier in die Noord-Kaap bewus is nie. Sy kleurvolle werke het my so geïnspireer dat ek lus voel om self 'n poot op papier te sit.

Ons het 'n begin gemaak met ons huisbiblioteek, en sal deur die loop van hierdie kwartaal daaraan aandag gee. My groot ideaal is om lesers van elke leerder te maak en ons weet almal dat lesers leiers is. Ek het so 'n paar planne gemaak, maar na hierdie vakansie sien ek duidelik dat ek my leesplanne sal moet hersien.

Die ACVV het ons bederf met 'n klomp kindertafeltjies en -stoeltjies, speletjies en 'n trampolien. Dit voel asof die seëninge hierdie vakansie op ons gereën het. Ons is regtig so dankbaar daaroor.

Die hoogtepunt aan die einde van die vakansie en die begin van die nuwe kwartaal is die jungle gym wat besig is om uit die grond te verrys. Ons klomp hou die grawery, plantery en aanmekaarsittery van hierdie klouterraam met valkoë dop. Binnekort is die oefenvoordele wat hierdie nuwe gym inhou, ons s'n. 'n GROOOOOT dankie aan Dirk en Tinike vir 'n langtermynbelegging in ons speeltoekoms. Julle is twee ware ysters. Ek gee sommer 'n ekstra blaf vir julle!! Binnekort gaan die foto's van hierdie aanmekaarsittery van die klouterraam op die web verskyn.   

Ek is seker ek het 'n aktiwiteit of drie uitgelos. Om so aan die gang te wees, het sy eie uitdagings aan my gestel. Ek dink ek moet in die aande as almal slaap, die jungle gym tot my fiksheidsvoordeel gebruik. 

Ek skryf binnekort weer vir julle oor 'n ander saak wat my na aan die hart lê, maar wat ek nie in my hoogtepuntbriefie wil aanraak nie.

Tot 'n volgende keer.

Ruben-groete!

             

Monday, 17 June 2024

Kersfees in Junie


Kersfees is mos 'n tyd vir gee, en ook 'n tyd vir omgee!  

Maar vir sommiges lê Desember nét te ver en daarom het Dirk en Tinike besluit om die gee en omgee van Kersfees na Junie te verskuif. 

Die dag voor die skool vir die Junievakansie gesluit het, het Dirk en Tinike al die skenkings wat hul ontvang het, by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum kom afgee - klere, speelgoed, toiletware, inkleurboeke, blikkieskos, en nog vele meer koestergeskenke.
Daar was egter een kersfeeshekkie wat hulle amper gepootjie het - Kersvader se takbokke en slee, saam met sy bekende rooi kersfeespak was nie op kort kennisgewing beskikbaar nie en hy het per e-pos laat weet dat hy nie betyds vir hierdie geleentheid gaan wees nie. Skielik moes daar geïmproviseer word en mense met omgeeharte is gevra om in te staan. Die takbokke en slee is vervang met 'n wit bakkie en sleepwa. Oom Louis het vir kersvader ingestaan, maar o wee, kersvader se pak was myle te groot en met 'n rooi kortmoubaadjie het oom Louis agter die stuur van die bakkie ingeskuif, want dit was 'n kosbare vrag wat betyds afgelewer moes word.  

Dirk en Tinike het die elwe se rol oorgeneem, terwyl tannie Irene as hoof-elf moes instaan. Die gee-gees van Kersfees was Donderdag voelbaar tussen hulle wat die geleentheid bygewoon het. 
'n Groot dankie aan almal wat ingestaan het vir die Desember-kersfeesspan - Juniemaand se kersfeesspan is staatmakers en ware wenners!

Vrywillige fotograaf: Irene van Heerden