Showing posts with label Petrusburg. Show all posts
Showing posts with label Petrusburg. Show all posts

Thursday, 7 May 2026

Resep: Ongekookte fudge

Annette Human sal haar hande saamslaan as sy op ouma Annie se resepteskat afkom. Een ding wat ek sonder teenspraak van ouma kan sê en dit is dat sy nie suinig was met 'n resep nie. Hierdie ongekookte fudge-resep het sy geruil by Friedel Lewis vir haar sjokolade fudge-resep.

Ek deel dit met julle. Maak gerus vir jou kosblik van hierdie beloningsblokkies.

Benodighede:
125 g peperment-sjokolade
90 g (100 ml) regte egte botter
90 g (150 ml) sultanas of korente of enige fyn gesnipperde droë vrugte van jou keuse
90 g (150 ml) gepelde amandels of pekaneute, grof gekap.
5 ml vanieljegeursel
37,5 ml kondensmelk
500 g (950 ml) versiersuiker
1 ekstra-groot eier, geklits

Metode:
* Voer 'n 34 x 27 cm pan uit met waspapier.
* Smelt die peperment-sjokolade en die botter saam.
* Voeg die ander bestanddele, behalwe die eier, by en meng!
* Voeg die eier by en meng goed.
* Skep uit in die voorbereide pan.
* Plaas in die yskasom styf te word en sny in blokkies.
* Bêre in die yskas.

Die resep lewer ongeveer 54 fudgeblokkies. Dis 'n heerlike sagte fudge.

Baie liefde uit 'n warm Noord-Kaap en gaan groot!

Thursday, 5 February 2026

Resep: Onfeilbare resep vir deegklei

Liewe Maats (soos wat my Ouboet altyd sy briewe begin)

My ouma Annie het nie net koek gebak nie, sy het vir die kleuterskool waarin al haar kinders was en kleinkinders nog steeds is, 'n resep vir deegklei uitgetoets en dan sommer vir hulle gereeld 'n mengsel gemaak.

Ek het die resep op 'n flentertjie papier ontdek en boaan het sy in groot letters geskryf ONFEILBAAR. Ek deel dit graag met julle en hoop julle kan die chemiese klei van die winkels vervang met 'n gesonder klei. Lekker speel!

Benodighede
* 500 ml (2 koppies) meelblom
* 200 ml sout
* 30 ml kremetart
* 500 ml (2 koppies water)
* 30 ml kookolie
* 3-5 ml kleursel

Metode
1. Meng meelblom, sout en kremetart in kastrol.
2. Voeg water, kookolie en kleursel by en meng deeglik met draadklitser.
3. Verhit oor redelike hoë hitte en roer aanhoudend met houtlepel tot klont begin vorm.
4. Skakel plaat laer en skraap voortdurend van boom tot klammigheid verdwyn.
5. Laat effens afkoel. Knie 5-10 minute.
6. Bêre in lugdigte houer. (Dit word hard indien dit buite gelaat word.)   

Baie liefde uit 'n snikhete Noord-Kaap en gaan groot!

Sunday, 21 December 2025

Ruben deel sy vriendin Talana se brief


Liewe Maats

Vandag gaan ek met 'n ander een se kalwers ploeg. Ek kan dit egter nie beter stel nie en ek glo dat liewe Talana nie sal omgee as ek haar brief met julle gaan deel nie. Sy het die tienerrubriek in die KEUR hanteer in 1994 - julle is reg - dit voel soos eeue terug. Nietemin, lees asseblief haar brief en laat weet my wat julle daarvan dink.

Dus kry julle vandag 'n brief binne 'n brief.

Liewe Tieners

Wel, waar ons die pylvak van nog 'n jaar binnegaan, wil ek vir julle vra dat julle my groete vir die Kerstyd en die hartlikste wense vir 'n aangename, geseënde en voorspoedige nuwe jaar aan julle ouers sal oordra ... en natuurlik ook vir julself elkeen 'n groot skep goeie wense neem. Julle is immers die belangrikste rede hoekom hierdie rubriek bestaan.

Julle sien, al lyk dit nie elke dag so nie en al voel julle soms bedruk en hartseer en onvoldoende toegerus vir al die eise wat aan julle gestel word, bly julle nog steeds die hoop vir ons land se toekoms.

Ons is oud, uitgedien en het ons beurt gehad, goed of sleg. Dis verby. Maar julle, wat nog jonk is en vir wie die wêreld wyd en oop lê, kan die toekoms maak of breek.

Jy kan bou of afbreek. Jy kan glo of ongeloof laat hoogty vier. Jy kan verbeter of versleg. Jy kan groei of stagneer.

Niemand kan jou máák bou, glo, verbeter of groei as mens en persoon as jy nie sélf wil nie. Jy sit met die magtigste wapen in jou tienerhande: dat jy jou eie toekoms en jou eie lewe kan beheer.

Die boustene is daar wat jy moet benut: geloof, opvoeding, norme en waardes, tradisie en kultuur. Wat jy daarmee gaan doen in die nuwe jaar, weet net jyself. Ek glo voluit in julle as tieners en in jul potensiaal.

Jy hoef nie berge te versit of brûe te bou in een dag nie, maar 'n klein, klein klippie van geloof, liefde, aanvaarding, selfrespek,  trots en vasberadenheid elke dag kan aan die einde van volgende jaar 'n stewige muur gevestig hê waarop jy dag na dag, jaar na jaar kan voortbou in geloof in die toekoms. Dit kan jou beskut, jou anker, en aan jou 'n vastrapplek gee om te waag in die lewe.

Die grootste dam het begin met een druppel water. Die hoogste boom het begin as 'n nietige saadjie. Die rykste mens moes iewers die eerste keer 'n enkele sent in sy hand gehou het. Die beste spreker in die belangrikste parlement het ook op 'n tyd probeer ba-ba-ba sê en dit reggekry.

Die geheim is dat jy daardie eerste woord, eerste tree, eerste aksie sal probeer, en dit regkry. Dis maklik. Dan moet jy daarop voortbou. Tree vir tree, woord vir woord, sent vir sent en druppel vir druppel, tot jy kom waar jy wil wees. probeer dit. Voordat jy jou kom kry, is jy magtig, ryk en beroemd, deur die filosofie van one step at a time.

Die tweede geheim is dat jy nooit jou oorsprong sal vergeet nie. Al is jy eendag hoe ryk, hoe magtig, hoe beroemd, sou jy niks gewees het, sonder daardie een enkele tree, daardie sukkelende woord, daardie nietige geldstukkie nie. Wanneer jy op die toppunt is, kan jy ander se hande vat en hulle help op daardie eerste tree, met daardie eerste woord en aan daardie eerste sent. Want hierdeur kan 'n mens ryk, magtig en beroemd bly én gelukkig wees in alles wat jy doen. 'n Mens koop nie geluk nie. Jy skep dit vir andere en dit reflekteer duisendvoudig keer na jouself ...

Probeer dit. 

Maats, hier is soveel goeie wenke en gedagtes vir 'n blink toekoms, dat ek julle graag wil uitdaag om dit ter harte te neem. Skryf een gedagte voor in jou huiswerkboek en werk die nuwe jaar daaraan, sodat 2026 'n onthoujaar vir jou sal word.

Hartlike groete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben













[Bron:  Kom ons gesels met Talana KEUR 14 Januarie 1994]

Tuesday, 4 November 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Soetkoekies

Ek en ouma Annie is spreekwoordelik weer op goeie poot. Ek het besef ek het nie my belofte nagekom nie en het weer by ouma Annie gaan kuier om die saak op te klaar. Dis so lekker om hierdie spesiale verhouding met ouma te hê en die beleid by Koester Karos is juis om die verhouding tussen kleinkinders en grootouers te koester. 

Ek en ouma het 'n hele baksel soetkoekies gebak en hierdie deeg kan op 'n verskeidenheid maniere aangepas word sodat die nederige soetkoekie steeds 'n plekkie op vandag se moderne tafel kan kry. Ek plaas volgende maand so 'n paar variasies. Hierdie deeg is 'n wenner!! En daarom plaas ek vandag ouma se soetkoekieresep met 'n lekker hart.

Bestanddele:
6 koppies meel
2 koppies suiker
2 teelepels kremetart
1 teelepel bakpoeier
1 teelepel koeksoda
1 teelepel vanielje
1 koppie botter (250 g)
4 eiers

Metode:
Klop botter en suiker tot room.
Sit eiers een vir een in en klop goed na elke byvoeging,
Gooi geursel in.
Sif die meel en voeg by.
Voeg rysmiddels by.
Voeg ekstra meel by indien deeg te slap is.
Bak teen 180°C tot koekies gaar is (ongeveer 15 minute).

Wenk:
Ouma Annie klits haar botter eers alleen en dan voeg sy die suiker by en klits dit tot dit donsig geel is.

Geniet dit en gaan groot!!!

Saturday, 1 November 2025

Ruben-humor: Tannie Liz se ongewone raad

[Hierdie wysheid kom uit my Petrusburg-dae uit!] 

* 'n Wyse man het eenkeer niks gesê nie.

* Die lewe is kort. Glimlag terwyl jy nog tande het.

* Die donkerste uur is net 60 minute lank.

* Skop jou skoene uit en ontvriend jou vrese.

* In die bed en in die kis maak lengte nie saak nie.

Sunday, 26 October 2025

Ruben praat oor hoe jy teenspoed kan hanteer

Liewe Maats

Ek skryf eintlik hierdie brief vir myself, want ek kry ook maar baie hobbels, hekkies en heuwels langs my lewenspad wat ek moet hanteer, sorteer, elimineer en dan tevrede met my besluit moet saamleef - goed of sleg.

Kom ek vertel vir julle 'n storie en dan besluit jyself hoe jy teenspoed wil hanteer:

’n Tienerdogter kla teenoor haar pa oor haar lewe en hoe moeilik dit vir haar is. Sy het nie geweet hoe sy dit gaan maak nie en sy voel lus om moed op te gee oor al die teenspoed wat sy ervaar. Sy was moeg om te sukkel en te veg vir alles. Net sodra die een probleem opgelos is, dan duik die volgende een op. Haar punte is net-net nie hoog genoeg nie. Sy kort net 1% om onder die top 10 te wees. Sy is 'n reserwe vir die eerste netbalspan, maar speel op hierdie stadium vir die tweede span. Dit voel vir haar dat haar beste haar net-net laat uitval. 

Haar pa, ’n sjef by The Heights Restaurant & Bistro in Kimberley, neem haar na sy kombuis en plaas drie kastrolle met water in op die stoof. Sommer gou-gou kook die water in die kastrolle.

In die een kastrol plaas haar pa wortels, in die ander eiers en in die laaste een gemaalde koffiebone. Hy laat die kastrolle met bestanddele verder kook sonder om ’n woord te sê.

Die dogter byt haar onderlip en wonder ongeduldig wat haar pa besig was om te maak. Sy het probleme en hy is besig om een of ander vreemde konkoksie aan mekaar te slaan. Eintlik wil sy net 'n vinnige antwoord hê, want kosbare tyd gaan nou verlore en sy het regtig nie lus vir 'n preek nie. 

Na ongeveer ’n halfuur stap hy na die stoof en haal die drie kastrolle van die stoof af. Hy haal die wortels uit die kastrol en sit dit in ’n opskepbak. Hy haal die eiers uit die kastrol en sit hulle in ’n ander opskepbak. Hy neem ’n opskeplepel en versigtig skep hy van die koffie in 'n klein koppie.

Hy draai na sy dogter en vra: “My Meisiekind, wat sien jy?”

Selfvoldaan en effens geïrriteerd  antwoord sy: “Wortels, eiers en koffie.”

Hy vra haar om aan die wortels te vat en te voel hoe hulle voel. Sy maak so en sê dat hulle sag is. Hy vra haar toe om een van die eiers af te dop. Nadat al die doppe af is, sê sy vir haar pa dat die eier hard is. Toe vra hy haar om ’n slukkie van die koffie te neem. Sy trek haar gesig op ’n plooi nadat sy die vreeslike sterk koffie proe. Sy sê vir haar pa dat dit sterk en bitter is, maar dit laat tog 'n aangename smaak in haar mond. 

Sy is nou regtig nuuskierig en vra: “Wat beteken dit nou alles, Pa?”

Hy begin verduidelik. “Elkeen van die drie het dieselfde teenspoed ervaar, 98 grade Celsius kokende water. Maar ten spyte daarvan het elkeen van hulle anders reageer.”

“Die wortels was sterk, hard en onbuigsaam toe ek dit in die kastrol met warm water gooi. Maar nadat dit deur die kookwater is, het dit sag en swak geword.”

“Die eiers was breekbaar en broos en 'n rou eier moet 'n mens versigtig hanteer. ’n Dun buitelaag, die dop, bedek die vloeibare inhoud. Maar na die kokende water het die inhoud hard geword.”

“Maar die koffiebone daarenteen, is uitsonderlik. Na die kookwaterbehandeling het dit sterker en ryker geword.”

“Watter een is jy?” vra hy vir sy dogter, terwyl hy haar liefdevol en met baie begrip aankyk.

Wanneer teenspoed klop aan jou deur, hoe reageer jy?

Is jy ’n wortel, ’n eier of ’n koffieboon?

Is jy die wortel wat sterk lyk, maar met die geringste teken van pyn en teenspoed verwelk jy en word sag sonder krag?

Of is jy die eier, wat begin het met ’n sagte hart en vervulde gees? Maar na ’n slegte rapport, ’n gebreekte been wat jou uit die span uithou, 'n beste maat wat agter jou rug stories opmaak en jou geheime wat jy met haar of hom gedeel het, uitlap aan 'n ieder en 'n elk, die boelie jou weer verneder het of jou pa wat weer dronk by die huis aangekom het, word jy hard. Jou buitekant lyk dieselfde, maar diep binne is jy so verbitterd en hard met ’n ongevoelige gees. Jy is 'n moeilike een om mee saam te werk en niemand wil met jou maats wees nie.

Of is jy soos die koffieboon? Die koffieboon bereik nie sy optimale smaak en aroma totdat dit aan 98 grade Celsius blootgestel is nie. Wanneer die water warmer word, verbeter die smaak. Wanneer dinge al hoe erger word, hoe beter word jy. Wanneer mense jou die meeste benadeel, verhoog jou insette en die vlak waarop jy werk. Wanneer jou uur die donkerste is, verhoog jou aanbidding van ons Almagtige Koning tot ’n nuwe heerlike vlak.

Hoe hanteer jy vandag teenspoed? 

Maats, hierdie storie het my aan die dink gesit. Ek het besluit dat as my probleme my wil oorweldig, gaan ek my meet teen die inhoud van die drie kastrolle. Ek gaan nie moed opgee nie, maar gaan besluit of ek soos 'n wortel of 'n eier of 'n koffieboon optree.   

Koffie-groete uit Kimberley.


Saturday, 25 October 2025

Ruben-humor: Tannie Liz se ongewone raad

[Hierdie wysheid kom uit my Petrusburg-dae uit!] 

* Leer uit ander mense se foute. 
Jy gaan nie lank genoeg lewe om al die foute self te maak nie.

* As jy al jou huiswerk gedoen het, gaan die onderwyser nie daarna kyk nie.
Doen dit in elk geval elke dag.

* As die skoen jou pas, is dit onbekostigbaar.

* Lewe elke dag so dat die mense eerder jou handtekening as jou vingerafdrukke wil hê.

* As jou skip eendag inkom, sal selfs onbekende mense jou help aflaai.

Tuesday, 21 October 2025

Tyd staan beslis nie vir Tommie stil nie!

Liewe Maats

Ek kan nie wag dat die son sy eerste strale oor Kimberley gooi nie. Dan vlie ons almal op en sing vir Tommie Veels geluk liewe maatjie omdat jy verjaar ... Tommie is vandag 'n volle jaar oud. Hy het egter so baie dinge gedoen en beleef dat 'n mens kan sê dat Tomme twee jaar se aktiwiteite in een jaar ingepas het.

Ek is so trots op my kleinboet, nog blyer dat ons dieselfde huis deel en die blyste dat tannie Christelle ons mensmamma is. Wat Christina Kiddie se inwoners in die mou voer vir Tommie se verjaardag, weet ek regtig nie. Ek het my ore gespits en snuif-snuif met my neus in die lug geloop, maar dis verniet of ek iets kon agterkom. My speurwerk was egter nie tevergeefs nie. Ek het 'n heerlike ontdekking gemaak waarvan niemand maar niemand weet nie. 

Net eers 'n bietjie agtergrond, voordat ek die aap uit die mou laat. Ouma Annie het vir Tommie leer koek bak, maar hy het nie regtig belanggestel nie, want niemand kan so met 'n houtlepel en 'n mengbak toor soos ons ouma nie. Die laaste keer wat ons in Petrusburg was, het ouma vir Tommie so 'n bietjie die fynere kunsies gewys en ook 'n geheim of twee met hom gedeel. Daaroor swyg hy natuurlik soos die graf en nie eens ek kon iets uit hom trek nie. Intussen het ek by myself gedink dat Tommie se belangstelling net 'n bietjies te oordrewe is en dat hy seker maar net in ouma se goeie boekies probeer kom.

Min het ek besef dat hierdie man met 'n plan werk. In die aande as ek my sekuriteitsrondtes doen, het hy na die kombuis gesluip en ouma Annie se resepte uitgetoets. Ek het skelm 'n foto van Tommie voor die stoof geneem, want ek weet julle sal my nie glo nie. Tommie het sy eie koek vir sy verjaardag gebak. Hy gaan blykbaar almal na skool by die swembadarea trakteer op sy fyngebak. Maats, sien ek nou uit na hierdie geleentheid! As julle kans kry, onthou julle is enige tyd na skool welkom om 'n draai by ons te maak. Wys net hierdie brief as julle toegangskaartjie by die hek.

Julle kan gerus vir hom 'n verjaardagkaartjie by die kantoor afgee - hy maak kaartjies bymekaar en elke keer as ons Petrusburg toe gaan, werk hy en ouma deur die kaartjies en oe en aa hulle twee dat dit 'n naarheid is. 

Tommie, namens die lesers en maats wil ek graag vir jou baie geluk met jou verjaardag sê. Dankie dat jy so 'n wonderlike broer, vriend, maat en luisteraar is. Dankie dat niks vir jou te veel is nie en dat jy altyd bereid is om die ekstra myl te loop en terwyl jy op die pad is, sommer ook die kalf uit die put te haal. Mag jou nuwe lewensjaar propvol vreugdespronge, baie blaf, min knor en baie snoepgoed wees. Ons is lief vir jou!

Hiep hiep hoera uit Kimberley! 
Ruben



Tuesday, 7 October 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Rice Crispy

Mensig, maats, ek is goed oor die kole gehaal en deur niemand anders as my eie ouma Annie waarvoor ek so lief is nie. Die korterige vakansie is só volgeprop met aktiwiteite dat ek en Ruben net gou so 'n vinnige draai by ouma Annie gemaak het. Petrusburg is per slot van rekening die plek waar ons wortels lê. En daar lees ouma Annie vir my die leviete baie deeglik voor. Dag en datum is voor my kop gegooi toe haar laaste resep op Koester Karos verskyn het. Die ergste verwyt van haar kant af is dat ek poot en bek belowe het om dit te plaas en op hierdie manier ons familieresepte vir die nageslag te bewaar en ek het nie woord gehou nie. Kyk, ek voel so sleg dat ek en Ruben besluit het om ons kuiertjie maar kort te knip, want ons sal ons agteroor moet buig om weer in haar goeie boekies te kom.

Voordat ek die resep plaas, 'n waardevolle stukkie ongevraagde advies van my en Ruben.
* Moet nooit iets vir jou ouma of oupa belowe en dit dan nie nakom nie.
* As jy iets belowe het en dit nog nie gedoen het nie, stel dit dadelik reg.
* As jy drooggemaak het, vra verskoning en verander die situasie. Verskoning sonder onmiddellike aksie, is vals en toon duidelik dat jy nie respek vir jou ouma of oupa het nie.
* As kleinkinders het ons sekere voorregte in oupa en ouma se huis. Ongehoorsaamheid laat ons sekere voorregte verbeur.
ONTHOU: Ons preek nie net vir julle nie - ons is self in die moeilikheid en ons deel maar net ons gedagtes met julle.        
SKRYF vir ons - dalk kan ons mekaar motiveer om beter kleinkinders te word!

Hier volg my ouma Annie se resep wat sy nog by haar ouma gekry het.
(Die oorspronklike resep sê: Sit die pot op die vuur en gebruik 1 pond dadels! Ek het die resep bietjie aangepas!) 
 
Bestanddele:
7 koppies Rice Crispies
2 koppies suiker
450 g dadels
4 eiers
2 eetlepels botter
Klapper soos nodig

Metode:
Sny dadels fyn.
Gooi botter, suiker en geklitste eiers by.
Roer in pot vir ongeveer 10 minute.
Haal af, gooi Rice Crispies by en roer goed.
Maak bolletjies en rol dit in die klapper. 

Wenk:
Fyn klapper werk beter as die growwe klapper.
Geniet dit en gaan groot!!!

Ek gebruik my ouma Annie se gunstelingfoto - al lyk ek lankal nie meer so nie!!

Tuesday, 2 September 2025

Ons word daagliks herinner aan God se troue sorg


Ons wil graag vir die boer van Petrusburg baie dankie sê vir sy liefdevolle skenking - 50 sakke aartappels en 30 koolkoppe. Hierdie praktiese betrokkenheid stel ons in staat om die inwoners met gesonde groente te bederf.

Dankie, Fanie du Plooy, dat jy die belange van Christina Kiddie KJSS op jou hart dra en dat geen moeite vir jou te veel is nie. 

Die betrokkenheid van ons skenkers hou ons arms omhoog om die ekstra myl vir ons kinders te loop!

Sunday, 27 July 2025

'n Besige verjaardagweek


Die afgelope week was 'n bedrywige verjaardagweek by Christina Kiddie. Die verjaardagwense was soet in die mond van hulle wat verjaar het.


'n Groot DANKIE aan Charlotte van die *Sandwich Shop wat aan elkeen die verjaardagkoek van sy of haar drome gebak het. Jy sit daardie ekstra onthou in 2025 se verjaardae en maak dit só spesiaal vir elke verjaardagmaatjie.

Sunday, 22 June 2025

Ruben praat oor kinderjare-onthou


Liewe Maats

Ek is só opgewonde, ek moet net die nuus met iemand deel. Ek het die afgelope week regtig 'n lekker verrassing gekry. Skielik het ek sommer verlang na my kinderjare, my maats, my skooljare en sommer net na die hele Petrusburg. Sal iemand vir my 'n foto kan stuur van Petrusburg? Is die strate nog so skoon en netjies? En kuier die kinders nog na skool by Uncle Charlie se kafeestoep? Op daardie stoep is groot drome gedroom, versugtinge uitgespreek en met verlange gepraat oor die groot stede met die mooi huise, duur karre en baie werksgeleenthede wat nie in Petrusburg bestaan het nie. Ek lê vanmiddag onder my dinkbank en ek wonder wat van al daardie kinders geword het. Kon hulle hul kinderdrome verwesenlik en leef hulle hul kinderdrome uit of  beleef hulle 'n nagmerrie op die stoep van die lewe.

Terug na my verrassing. Tannie Charlotte het verlede week die verjaardagmaatjie se koek kom aflewer. Nooit het ek geweet dat *Ruzanne se droomverjaardagkoek 'n kinderfoto van my sou ophê nie. Maats, daardie foto het my gedagtes met 'n spoed terug in tyd gestuur en soos 'n rolprent het my grootwordjare op Petrusburg voor my afgespeel. Ek het Ruzanne sommer net daar 'n leksoen teen die wang gegee, drie draaie om haar gehardloop, my stert amper afgeswaai en uitbundig van vreugde geblaf. Nie lank nie, of die buurt se honde het teruggeblaf! Wat 'n heerlike warm gevoel het in my binneste kom nesmaak.

Maats, tannie Charlotte se koekpresent vir Ruzanne was my herinneringsgeskenk. En op daardie oomblik het ek besef dat 'n mens onthou-oomblikke moet skep. Kinders moet speel, rondhardloop, boomklim, eenbeentjie spring (miskien ken julle dit as Hopscotch), kat-en-muis speel, kennetjie, aan-aan en so kan ek aangaan. Die speletjie waarvan ek die minste gehou het, was kennetjie - heeltemal te veel reëls vir 'n hond wat hou van hardloop. Speel julle nog hierdie speletjies of is julle vasgeplak aan julle fone? En by die huis is dit seker die TV of X-box? Weet julle daar is 'n opwindende lewe weg van die skerms?

Kinders kom die lewe in met bondels energie, baie idees en planne en 'n oop gemoed om te leer. Moenie dit voor 'n skerm deurbring nie. Kyk om jou en spring, lag en gesels. As jy eendag werk of te oud is vir speel, is dit die lekker herinneringe wat 'n reg-rondom-glimlag op jou gesig sit.

Weet julle outjies, ek het ook op Uncle Charlie se kafeestoep gestaan - elke dag - en oopmond geluister na kinderdrome. En ek het gewonder hoe my lewe na Petrusburg gaan uitdraai. En al wat ek in my geestesoog kon sien, was om iemand se waghond te wees. Die lewe het my tienvoudig geseën met 'n ongelooflike sinvolle lewe. Natuurlik is sekuriteit my hoofaktiwiteit, en ek doen dit met soveel liefde, want ek is vir baie meer as net my veiligheid verantwoordelik.

Ek is in Yvonne se woorde: 'n glimlagmaker, 'n trooster en 'n beste vriend. Dit is die lekkerste deel van my werk. Met my fyn ingestelde sesde sintuig weet ek sommer wie het 'n oor of 'n drukkie of net stilte nodig. Ek loop met bondels geheime in my binneste rond, ek herkou aan elkeen en probeer sover as moontlik die regte leiding gee.    

Ek (jare terug) tussen ouma
Annie se blomme. 
Die lewe gaan so vinnig verby - bou aan julle kinderherinneringe. Dankie, tannie Charlotte, dat jy ons verjaardae só spesiaal maak. Dat jy vir ons die genot gee om ons droomkoek te kan beskryf en jy ons koekprentjie in 'n werklikheid omskep.

Dankie, Ruzanne, dat jy my kinderprentjie gekies het - ek wonder wie jou gehelp het.

Dankie, tannie Christelle, dat jy elke vakansie met speelherinneringe vul wat eendag die rede vir ons reg-rondom-glimlag sal wees.

Speelgroete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben

(* Naam verander.)






Friday, 13 June 2025

Ruben se Junie-jeugboodskap vanuit 'n koue Kimberley


Liewe Maats

Ek skryf hierdie briefie uit 'n baie koue Kimberley. Die temperature het die laaste paar dae drasties geval en ek het so in my enigheid gehoop dat dit hier by ons sou sneeu. Dan was al die gebibber en gebeef die moeite werd en kon ons met foto's van sneeumanne en sneeuballe by julle spog. Maar op hierdie stadium is daar geen glansryke foto's van my en Tommie nie. Ons twee kruip saans met ons teddies styf teenaan ons in die bed vir 'n bietjie teddiehitte. Bedags as die sonnetjie floutjies agter die horison uitkruip, dan is ons egter gereed vir die dag se take. Ons draf so 'n paar keer op en af langs die heining, blaf uit volle bors vir die verkluimde voetgangers en as jy jou oë uitvee, lyk ons nie meer soos twee Koue Bokkeveld vierpotiges nie.  

Kom ek begin by gister se klein kringetjie vergadering (KKV) wat Tommie ongenooid bygewoon het. Maats, julle weet mos sekuriteit is my afdeling en Tommie is my ekstra paar oë en ore. Dit blyk dat dié klompie 'n verrassingsverjaardagpiekniek vir een van hulle maats beplan. Almal kon sinvolle kommentaar op die voorstelle lewer. Tommie se bek werk vinniger as sy brein, gevolglik blaf hy eers en dan dink hy. Hy blaf in geen onduidelike taal dat dit
'n doodgebore idee is. Die koue saam met die aktiewe westewind, is piekniek langs die swembad nie in die winter haalbaar nie. Hy is egter sy blaf belet, gevolglik het hy in stilte verder na die sinlose voorstelle geluister. 

Die klompie het toe besluit om oor die voorstel te gaan slaap en die volgende dag terug te kom. Ek weet nie of Tommie toegelaat sal word om die volgende KKV by te woon nie.

Terwyl ek nou so flink aan die skryf is, gaan ek sommer met julle my gedagtes oor Vadersdag en Jeugdag deel. Dié twee dae lê my naby aan die hart. Eintlik is dit die ironie wat hierdie twee dae verteenwoordig, wat 'n yslike bekommernis vir my is en ek wonder ook of hierdie twee dae vir julle dinkdae is en of die betekenis van dié spesifieke dae by julle verbygaan.

Dit is ‘n mooi gedagte om een spesifieke dag te gebruik om spesiaal vir pa's dankie te sê vir al hul liefde en opofferings deur die jaar vir ons. Maar my gevoel is dat elke dag eintlik Vadersdag behoort te wees. Ons moet elke dag vir ons pa's dankie sê vir alles wat hulle vir ons doen. Hulle is nie net daar om 'n salaristjek huis toe te bring en in die gesin se finansiële behoeftes te voorsien nie. Hulle het 'n belangriker doel - hulle verteenwoordig die Hemelse Vader hier op aarde. 
Ek en pa - jare terug op Petrusburg

Dit is egter net hier wat al my hare op my rug orent staan. As ons een vir een in die eetsaal moet opstaan en sê wat ons van ons pa's weet, gehoor het, ervaar het of waardeer, hoeveel van ons kan dit met vreugde doen?

Ons almal kan boekdele vol skryf oor afwesige pa's. Pa's wat nie omgee of daar vanaand kos op die tafel is en of ons skoolgeld betaal word nie. Pa's wat nie vir ons gelukwens met ons verjaardae nie en pa's wat naweke saam met sy pêlle by die kuierplekke rondhang omdat die verantwoordelikheid van pa-wees lankal vir hulle geskiedenis geword het. Outjies, niks wat ek sê kan of gaan julle situasie verbeter nie, maar onthou dit: Leer uit jou pa se foute, maar die heel belangrikste is - wees jý 'n beter pa vir jou kinders as wat jou pa vir jou is. En meisies, kies vir julle eendag 'n lewensmaat wat in alle opsigte 'n goeie pa vir sy kinders sal wees - dit is my hartswens vir elkeen van julle hierdie Vadersdag. Ons kyk vorentoe en nie agtertoe nie, want dis nie waarheen ons op pad is nie. 

Pa en Tommie in 2024
En vir julle wat 'n prima-pa het: bederf hom, waardeer hom, leer van hom en koester hom, want hy is een uit 'n miljoen. Loop in sy voetspore en volg sy voorbeeld. 

Dit bring my by Jeugdag ... 'n dag wat so belangrik is, dat dit 'n nasionale vakansiedag is. Hoe belangrik is Jeugdag vir jou? Dink jy oor die jeug, jou eie jeug en oor jou toekoms? 

Ek wil regtig nie soos my ouma Annie van Petrusburg klink nie, maar as ek elke aand die nuus kyk, verstaan ek hoekom sy met elke foonoproep vir my en Tommie preek. Die nuus oor ons jeug skok my tot in my kleintoontjie. Bendegeweld, dwelms, misdaad en opstande is aan die orde van die dag. Jeugdag is vir my die dag waarop ons as Suid-Afrika ons toekoms vier. Maar hoe kan ons ons toekoms vier as ons klaar verkeerde keuses gemaak het?

My Kiddie-maats, onthou altyd: 'n mens kry elke dag keuses om te maak tussen reg en verkeerd. Tussen lig en donker. Tussen lewe en dood. Moenie hierdie kans om die regte keuse te maak, verbrou nie. En as jy sukkel met jou keuses, kom maak 'n draai by my of Tommie, tannie Christelle of jou huisma. 

Ons hartsbegeerte vir elkeen van julle is om doelgerig verantwoordelikheid te neem vir jou toekoms. Wees vasberade dat die verkeerde besluite wat jou pa gemaak het, nie jou keuse gaan wees nie. Onthou, daar is GEEN beperking op wat jy kan bereik nie.

Maats, op hierdie noot van hoop en moontlikhede, wil ek vir julle 'n heerlike jeugdag toewens! 

Warm groete tot 'n volgende keer!
Ruben

 
 

Sunday, 11 May 2025

Ruben sê dankie vir ma's, oumas en tannies langs sy lewenspad

Liewe Maats

Julle weet dat dit vandag Moedersdag is. Moedersdag is die één spesiale dag van die jaar waarop ons opreg kan dankie sê vir daardie mens in jou lewe. Dié persoon wat jou nog altyd mildelik met liefde, deernis, trots en wysheid hanteer en omarm het.

Die tweede en belangrikste Ruben-rede hoekom ons Moedersdag moet vier is om ons daaraan te herinner dat elke dag eintlik 'n Moedersdag behoort te wees.

Die ma-figure in ons lewens kan verskillend wees, óf dit biologies, aanneem, instaan óf geestelik is, hulle is die sout van die aarde en ook in ons lewens. En daarom is dit vir hulle moontlik om die beste geure in ons na vore te bring.

Hier in Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum hoor ek dikwels hoe van julle outjies met en oor julle ma's praat. Somtyds swel my ou hondehart sommer van trots en gee ek 'n vreugdesblaf omdat ek saamstem en ander kere is ek so ontsteld dat ek sommer onder my geliefkoosde dinkbank gaan lê.

In ons familie (ons oupas, oumas en ouers) in Petrusburg, weet ons dat die deurlopende dryfkrag wat ons almal op die regte pad hou, by ons ouma begin het. My ma se grootste vreugde is as sy al daardie eienskappe van deernis, intelligensie en integriteit in haar kinders en selfs kleinkinders sien reflekteer.

Ek wil graag vir die ma's wat my stukkie lees, dankie sê dat julle ons veilige vangnet is, maar dat julle ook vlerke aan ons drome gee.

Liewe Maats, Moedersdag beteken vir ons elkeen iets anders, want ons omstandighede verskil. Daarom wens ek namens my en Tommie vir elke tannie hier by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum geluk met Moedersdag, en sê ons twee dankie vir al die goeie waardes wat julle in elkeen van ons belê. Dankie dat julle tannies tyd maak vir ons, ons met liefde omring en die regte pad vir ons wys in hierdie moeilike en uitdagende tyd waarin ons leef. 

Liewe hartsma's ... tannie Christelle, tannie Katrien, tannie Sanette, tannie Meloni, tannie Elsie, tannie Mittah, tannie Dorah, tannie Maria, tannie Stella en tannie Mpho, saam met ons maatskaplike ma, tannie Chrizelna, dankie vir die juwele wat julle in ons almal se lewenstassie van herinneringe sit. In hierdie onthoutassie sit ons die waardevolle lesse wat ons by julle leer, julle navolgingswaardige voorbeeld en eendag kan ons ook soos my ma in Petrusburg van vreugde blom omdat waardevolle lesse deel van ons lewens geword het. 

Namens ons almal wil ek ook vir Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum se bestuur 'n besondere Moedersdag toewens. Met apologie aan Sophia Loren weet ek dat tannie Raedun, tannie Melanie, tannie Philda, tannie Natasha en tannie Anja nooit alleen is met hulle eie gedagtes nie. Hulle moet altyd twee keer dink, een keer vir hulself en een keer vir Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum.

Dankie vir al die tyd wat ongevraagd, direk en indirek aan elke inwoner afgestaan word. 

Vreugde vir hierdie besondere dag.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

Maats, gaan lees asb. my storie oor ma's HIER!!

Thursday, 1 May 2025

Ruben praat met die kinders oor Werkersdag


Liewe Maats

Dit voel vir my asof ons van een vakansiedag na 'n volgende een hardloop. Vandag is Internasionale Werkersdag. Ek dink al die afgelope week oor wat ek vir julle gaan sê. Hoekom is Werkersdag oor die wêreld heen dan so belangrik? Daar is seker baie redes, maar die belangrikste een, volgens my, is om hulle te eer wat getrou en hard werk en volhard daarmee, al is die omstandighede nie altyd goed nie. Ook om vir ons ouers dankie te sê vir al die opofferinge wat hulle vir ons doen. 

Vir ons wat nog op skool is, is al die gepraat en toesprake nie regtig belangrik nie, behalwe as jou ouers deel van die 42% van die bevolking is wat nie werk het nie. Dan kyk en luister jy anders na die wêreld. Dan bestaan werkersdag nie vir jou nie, want daar is niks om te vier nie. Die bekommernis staan diep gelyn op jou ouers se gesigte en die hoop in hul oë word daagliks minder en minder. Jy, as kind, voel asof jy kan versmoor in die atmosfeer van bekommernis en die dampe van armoede. Jy voel skuldig, maar terselftertyd ook magteloos en dan luister jy na al die werksbeloftes wat niks verder as die radius van televisieklank strek nie.

Wat kan my bydrae as skoolkind tot werkersdag wees?

Wel, Maats, dit is nie nou die tyd om fees te vier en op ons louere te rus nie. Dit is tyd vir aksie. As jou pa of ma miskien nie werk het nie, beteken dit nie dat jy nie gaan werk hê nie. Maak nou 'n keuse. Wees beter as die gemiddelde.

Ek glo dat elkeen van ons harder moet leer en beter moet doen. Dit is ons WERK! En slegs as my punte wys dat ek meer as my beste gedoen het, dan weet ek dat ek eendag 'n nuttige bydrae kan lewer. Van middelmatigheid het die wêreld genoeg.

Ek lees die koerant, luister na die radio, kyk televisie en hoor wat die optimiste, die pessimiste en die doemprofete te sê het. En ek glo in my hart dat elkeen van julle Kiddies suksesvol gaan wees in wat jy gaan doen en as jy eendag 'n volwassene is, gaan jy Internasionale Werkersdag vier, omdat jy 'n werk het.

Sit skouer aan die wiel tot 'n volgende keer! 

Sunday, 27 April 2025

Ruben praat oor Vryheidsdag


Liewe Maats

Vandag wil ek graag vir elkeen van julle 'n gelukkige Vryheidsdag toewens. Dis regtig 'n spesiale dag in ons geskiedenis.

Ons word regtig in opwindende tye groot. Ons kan ons sterte waai van opwinding. Maar Maats, vryheid beteken elkeen van ons het 'n groot verantwoordelikheid. Ons gewone outjies hier op grondvlak moet net kyk dat ons almal ordentlik behandel en verdraagsaam teenoor mekaar optree. Ken julle die groot, maar kort woord ETIEK?  Moenie jou etiek verkwansel in 'n kliek van rebelse honde en oneerlike mense nie. Dis belangrik dat ons op hoë vlakke van ordentlikheid funksioneer.  

Julle leer mos presies hoe belangrik 27 April is. Vryheidsdag is 'n openbare vakansiedag wat ons jaarliks herdenk ter herinnering aan die land se eerste demokratiese verkiesing wat op dié dag in 1994 begin en die dag daarna geëindig het. 

Maats, ek kan nog die opwinding onthou. Ons almal het vasgenael voor die televisie in my ouma Annie se huis in Petrusburg gesit. Opgewondenheid is nie net 'n menslike emosie nie. Ons klomp kinders en kleinkinders het in verskillende tale geblaf, en ouma moes ons meer as een keer maan om stil te bly, want sy kon nie hoor wat die televisie-aanbieder sê nie.

Maar wat beteken vryheid vandag vir ons??

Die mag of reg om op te tree, te praat of te dink soos ’n mens wil, maar nie sonder verantwoordelikheid nie. 

Julle sien, daar is verskillende vorms van vryheid wat ons tot ons beskikking het. Onthou, ons kan en moet vir onsself doelwitte binne hierdie grense van vryheid skep. Moenie dat ander inwoners in die koshuis hulle vryheid misbruik om jou vreugde te steel nie. Daar is baie vreugdestelers in ons land, ons skool, ons familie ... Almal wat jaloers is op jou, gebruik hulle ongelukkigheid om jou reg tot vreugde te steel. Onthou, jy het die vryheid tot keuse. Kies in hierdie deurmekaar wêreld dinge wat vir jou goed en heilsaam is.

Daar is egter 'n groot bekommernis wat swaar op my hart lê. Hierdie baie vakansiedae kan lei tot luiheid. En nou wonder ek hoe hanteer jy die klomp vakansiedae? Gooi jy darem 'n oog in jou boeke? Goeie punte is 'n vorm van vryheid wat vir jou deure oopmaak tot verdere vryheid. Het jy dit geweet?  

Mag jy 2025 se Vryheidsdag jou persoonlike vryheid en vreugde geniet, want jy mag!

En op hierdie hoë noot, blaf ek vir elkeen van julle 'n heerlike dag toe.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!

Saturday, 5 April 2025

Ruben-humor: Tannie Liz se ongewone raad

[Hierdie wysheid kom uit my Petrusburg-dae uit!] 

* Moenie nooit tussen 'n hond en 'n lamppaal staan nie.
(In Petrusburg het ons gesê moet nooit tussen 'n hond en 'n boom staan nie.)

* Moet onder geen omstandighede terugslaan as jou broer of jou suster jou slaan nie. Jou ma sien net die tweede hou raak.

* As jy nie goed kan spel nie, help dit as jy lelik skryf.
(Nou wonder ek mos oor dokters se handskrif.)

* Deesdae is gesond eet die inding. Dit beteken dat ons almal gesond gaan doodgaan.

* Die naaste helpende hand is aan die einde van jou eie arm.
(Ons skoolhoof se raad.) 

Tuesday, 18 February 2025

Ruben sê dankie vir sy verjaardagboodskappe


Liewe Maats 

Hierdie is net 'n kort briefie om vir julle dankie te sê vir die goeie verjaardagwense. Ek is skoon verras met die stortvloed van boodskappe. Dankie vir al die WA's wat ek op my mensma se foon gekry het. Elke een wat my op die stoep of in die tuin raakgeloop het, het vir my 'n kloppie op die rug gegee of my tussen die ore gevryf. Die belangstelling was verstommend. En dadelik het dit my getref: GESINDHEID! Wedersydse gesindheid teenoor mekaar maak die verskil. Julle goeie gesindheid teenoor my maak 'n verskil in my lewe.

Ek het werklik geliefd gevoel en om die dag af te kon hê, was al klaar vir my 'n groot present. Ek het egter nie my waaksaamheid verslap nie. Dis mos deel van my DNA en ek het nog steeds met gespitste ore deur die dag gegaan. 

Ek het vir tannie Christelle gevra om my verjaardagpartytjie klein te hou en 'n bietjie uit te stel. Na almal se vreugde, opgewondenheid en uitgelatenheid met Valentynsdag, gaan julle nie my verjaardagpartytjie met dieselfde entoesiasme benader nie. My verjaardag-in-aksie lê nog voor. Intussen suurdeeg ek sekere gedagtes by die inwoners wat met my kom hartsake gesels.

Ek het besluit my verjaardagpartytjie se tema moet gesindheid of gesindhede wees. Ek het besef hoe belangrik gesindheid is, veral in 'n koshuis soos hier by ons. Ons is een groot familie, elkeen met sy eie drome, probleme, agtergrond en aanpassingshekkies wat ons moet leer om te oorkom. Daarom moet ons ook mekaar help en dit vir mekaar makliker maak, al moet ons ook van ons kant af opoffferinge doen. Dink julle maats dat dit 'n goeie tema is? Julle moet weet in Petrusburg, my geboorteplek, is goeie karaktereienskappe by ons ingedril. My ouma Annie het gereeld gesê dat die dag wanneer ons die huis verlaat, word ons 'n lopende, blaffende en knorrende advertensie vir ons ouerhuis. My en Tommie se optrede op ander plekke weerspieël wat die wêreld van die jongmense van Petrusburg gaan dink.

As dinge in jou lewe sleg gaan, of die lewe se probleme en ongelukkigheid druk swaar op jou hart, kom praat met my. As ek nie op en af draf langs die heining om die pad te inspekteer nie, kan ons lekker op die gras onder die koelteboom sit en kuier. Ek is 'n baie goeie luisteraar en ek blaf nie mense se geheime uit nie. As van die kinders jou wegstoot, baklei of sleg behandel, skok hulle met jou gesindheid. Dis nie maklik nie, maar ek kan jou daarmee help en vir jou 'n bietjie van raad bedien. Onthou, ek het ook maar probleme gehad, ek was dikwels my blaf belet, ek was ook geboelie, maar my ondersteuningstruktuur het my deur hierdie kniehalterende probleme gedra. Wees mekaar se ondersteuningstruktuur.   

Maats, ek wil nie vir julle preek nie, maar ek is besig om vir Tommie die belangrikheid van goeie gesindheid te leer. En as julle my daarmee kan help, sodat Tommie kan sien hoe praat, speel en ondersteun outjies mekaar wat 'n positiewe gesindheid het, sal dit my werk ook makliker maak. Dis juis Tommie se opvoeding, die deel waarvoor ek verantwoordelik is, wat my aan die dink gesit het.

Op hierdie punt, my liewe maats, vra ek voorstelle vir my verjaardaggeselligheid. Hoe kan ek my tema gebruik dat ons hope pret en plesier kan hê, maar terselftertyd ook die Ruben-lewenslesse vir altyd sal onthou???    

Dankie, Petrusburg, vir die lekker koubene wat Courier Guy vir my afgelewer het. Tannie Christelle bêre dit vir my in die vrieskas en as ek op 'n Saterdag of Sondag wil herkou aan dinge wat my pla, dan kan ek dit al kouende aan 'n been doen.    

Maats, mag julle positiewe gesindheid die res van die week blom.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!


Monday, 30 December 2024

Ruben sê: "Ouboetwees is nie maklik nie."


Liewe Maats

Die dinamika hier op die CK-werf het drasties verander. Almal se sintuie is nou Tommie-skerp. 

Tommie is 'n boompie wat gebuig moet word, voordat slegte gewoontes kan kans kry om pos te vat. Ons moet kyk dat hy nie verdwaal nie, dat hy nie wegloop nie, dat hy nie baklei of ander terg nie, dat hy nie onnodig blaf nie, dat hy sy maats reg sal kies, dat hy besef wat is die gevare in en om die huis en nog hope ander dinge. Dis 'n verskriklike groot verantwoordelikheid om 'n ouboet te wees. En dan moet ek onthou dat ek eintlik die oë en ore van Tannie Christelle is, dat die sekuriteit van CK nog my belangrikste taak is en dan wil-wil my knieë knak onder die verantwoordelikheidsbesef.

Tommie se lekkerste tydverdryf is gate grawe. Baie gate. Orals. Daarom moet hy 24/7 dopgehou word, want om 'n gat onderdeur die heining te grawe, en stil-stil tussen neus en oë te verdwyn, is nie moeilik nie. En Tommie besef nie die gevare in die stad nie. Hy kan so maklik raakgery word, of ontvoer word of in 'n hondegeveg betrokke raak met die rondloper skolliehonde en die onderspit delf. Onthou, hy kom van Petrusburg af waar almal na almal se kinders, katte en honde kyk. En as jy jou dáár op 'n verkeerde plek bevind, word jy aangepraat, die lyne warm gebel en is jy spoedig terug onder jou ma se dak waar jy hoort. 

Nie in die stad nie. Hier raak 'n mens onsigbaar en verdwyn baie maklik tussen die skare. Hier moet jy 'n doelbewuste besluit neem om nie die hoofstroom te volg nie. Dit is dus noodsaaklik om 'n mentor of  'n "voorloper" te hê. Ek wil nie net Tommie se ouboet wees nie, ek wil 'n voorbeeld vir hom stel. Ek wil nie vir hom vertel wat reg of verkeerd is nie, hy moet dit in my lewe sien ... in my elke dag se doen en late.  

2025 gaan sy eie uitdagings aan my stel en Tannie Christelle se standaarde is hoog. Vir haar wil ek nooit teleurstel nie. Daarom is my grootste doel vir hierdie nuwe jaar om met soveel entoesiasme en blydskap te lewe dat ander jaloers gaan wees op my lewensvreugde, 'n voorbeeld vir Tommie te stel, en die beste sekuriteitsbeampte te wees wat ek kan wees. 

Ek kan nog baie byvoeg en ook vir julle maats 'n paar wenke en gedagtes gee om julle aan die dink te sit, maar dit moet so 'n dag of drie oorstaan. 'n Mens moet besin oor wat jy met jou lewe wil doen en op watter manier 'n mens 'n positiewe bydrae kan maak. Daar is genoeg moeilikheid en probleme in die wêreld. 2025 kan nie net 'n herhaling van 2024 wees nie, dan het 'n mens mos niks geleer nie en ook nie emosioneel gegroei nie.  

Ek groet eers - gaan 'n paar balle saam met Tommie skop en vir hom saamneem op my heininginspeksierondte. Hy moet sommer vroeg-vroeg al leer wat verantwoordelikheid is.  

Ruben-groete tot 2025!

Wednesday, 25 December 2024

Ruben se blink Kersfeesster


Liewe Maats

Hier is my beloofde brief waarin ek my superduper goeie nuus met julle wil deel. Geeneen van vanjaar se hoogtepunte (en daar was baie) kan kers vashou by Vrydag, die 13e Desember nie. Eers kon ek my oë nie glo nie en baie versigtig dog ek dis 'n kuiergas, want kuiergaste kom en gaan, maar toe Tannie Christelle vir my kyk en knik, toe weet ek hierdie kuiergas het gekom om te bly. 

Met drie bokspringe, wou ek dit aan die wêreld uitblaf, maar Tannie Christelle het gesê dat dit eintlik my Kerspresent is wat 'n bietjie vroeër gekom het, sodat ons kan sien of  hy sal aanpas. Maar ek moet nie nou al vir almal vertel dat ek my Kerspresent gekry het nie - dit kan dalk groot ongelukkigheid tot gevolg hê! So my verstand het my tot stilswye gemaan, as my hart wou hand uitruk.

Maats, my borskas het dubbeld die grootte geswel van vreugde en trots. Ek kon glad nie my kraaghemde dra nie, want 'n trotse man, sukkel om sy hemp se knope toe te kry. Ek voel asof ek sweef en geen werk was die afgelope twee weke moeite nie!

Ja, Tommie het Vrydag, die 13e, in my lewe en in my hart ingestap!

Bitter groot was my blydskap toe ek hoor dat ons nie net van dieselfde dorp af kom nie, maar dat ons bloedfamilie is. Ons is volbloed Vrystaters, Petrusburgers, maar word in die Noord-Kaap getoë.

Ek is nou 'n ouboet! Tommie is my eerste prioriteit. Genugtig maats, skielik het my verantwoordelikheidsmeter die hoogte ingeskiet. Besef julle dat ons mekaar se prioriteite is? Dat ons moet uitkyk vir mekaar, mekaar moet bemoedig, mekaar moet aanmoedig en sorg dat ons die spieël is waarin die ander een na sy of haar weerkaatsing kan kyk? 

My eerste gedagtes in die oggend is Tommie en in die aand as ek my moeë oë toemaak, is dit met 'n glimlag, want Tommie was deel van my besige dag!

Tommie was vreemd en onseker en ek onthou my eerste dag by Christina Kiddie soos gister. Bangerig - vreemd - alleen en half verlore - en julle outjies het my dadelik ingetrek, en my 'n volbloed Christina Kiddie-inwoner gemaak - want elkeen van julle onthou julle eerste dag soos gister! 

Ons is die Christina Kiddie-familie - ongeag - en met hierdie wete het ek Tommie se skaduwee geword. Voorwaarts ontdek hy sy nuwe wêreld, nuuskierig toets hy grense en tandeknersend laat ek alles net tot op 'n punt toe voordat ek voel ek moet ingryp. Saam met vryheid, kom verantwoordelikheid. So het julle outjies my leer ken. Ons moet mekaar voortdurend motiveer, aktiveer, en werklik inspireer, maar beslis ook dissiplineer.

Die wêreld lê oop voor Tommie, daar is soveel leergeleenthede en dis ons elkeen se plig om goeie spore in Tommie se lewe te trap. 

Ons praat gou weer. En intussen moet ons seker maak dat ons gekalibreer is vir 2025.

Ruben-groete!