Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Terug na HOME PAGE

Ek is Katie Marais en ek is met longontsteking gebore. 

Die antibiotika wat ek vir die longontsteking moes drink, is die rede dat ek my gehoor verloor het. Niemand het dit geweet nie en ons het dit eers uitgevind toe ek 3 jaar oud was. Na baie toetse het ek apparaatjies gekry en 'n nuwe lewe het vir my begin. Ek het dit só geniet om die voëltjies te hoor sing en almal te hoor lag en praat. 

Tóg was dit nie altyd maklik nie. Ek moes 3 jaar se spraak inhaal. Met die spraaktannie en God se hulp het ek dit binne 6 maande alles ingehaal. 

Toe kom my volgende skok ...

Ek het oornag in Covid-tyd my gehoor nog verder verloor. Ek het my linkerkant se 50% alles verloor en 'n verdere 1% regs. Ons moes ook ander tipe apparaatjies kry. Vandag het ek net 4% gehoor.

Uitdagings is daar baie, want met te veel vog, gaan my apparate net dood. Soms in skooltyd! Dan voel ek sommer lus om te sit en huil. Maar dan druk my Juffrou my styf vas en ek weet sommer God het daardie drukkie gestuur. Alles gaan regkom. 

Daar was dae wat ek vir Mamma gesê het dat ek nie apparate wil dra as ek groot is nie. Ek kon sien Mamma was bekommerd en ek is seker sy het vir Liewe Jesus hulp gevra. Die volgende dag het ons na 'n danskompetisie gekyk. Iets wat ons nooit doen nie. Een van die wenners was Rose en raai wat? Sy is doof en dra haar apparate met trots. Sy het dadelik my hero geword en ek het besef dat God my eintlik geseën het om my so uniek te maak. 
Hier is ek saam met ds. Hannes Noëth,
bekende skrywer van die NK. Klik HIER
vir een van sy stukkies op Koester Karos.

Ek is vreeslik lief vir dans en sing. Ek het ook aan die skool se Revue deelgeneem. Ek is in 'n hoofstroomskool en met God en al my geliefdes se hulp, presteer ek baie goed in die skool. Ek maak baie staat op liplees, maar met elke uitdaging is ek in God se Hande. 

Ek het besef dat daar baie kinders is wat doof is, wat verlam is, wat blind is en wat ook sonder ouers is. Ons het almal een ding in gemeen: Ons is God se spesiale kinders. Hy hou ons altyd vas, al weet ons dit nie. Ons kan enige tyd van die dag of nag met God praat. Hy luister en Hy het ons lief. Ook in die Bybel lees ons dat kindertjies baie spesiaal vir God is. 

Ons moet altyd weet dat al is ons omstandighede of dag sleg, daar is altyd iets om oor bly te wees, want God het ons lief.

Ek gaan die volgende 52 Dinsdae met julle gesels. Daar is baie gedagtes, spreuke en versies wat ek elke keer gebruik om vir my moed te gee. Ek deel graag hierdie gedagtes met julle en hoop dat dit vir julle net so baie sal beteken. Onthou altyd: moeilike dae en probleemdae maak van ons sterker mense.


No comments:

Post a Comment