Monday 24 August 2020

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Ou vriend (Spr 27:9)

Voetspore in die Agter-Kalahari
Divine Life Bediening
(HJ & Dalene Cronjé)
WhatsApp: 081 568 7549


Die spore van die Genadewa se breë bande lê vandag so bietjie dieper as gewoonlik in die sanderige tweespoorpaadjie. Miskien is dit maar omdat hierdie winter se koue dalk so bietjie dieper as gewoonlik sny, dink ek met die uitklim om die Mooiste Mooi te help met 'n  moedbreekhek. Dit is Woensdag en ek en die Mooiste Mooi het besluit weer 'n slag by 'n spesifieke beleggingsplaas se mense te gaan oorstaan.

Skaars het die Genadewa staning langs die groot wit duin gemaak toe die bibber koelte van klip tot klip skuif om lateraan die hele werf met sy yskoue arms te omvou. Terselfdertyd kuier-kuier ‘n klompie kaalnek-plaashoenders stadigaan na hul slaapstellasie. Soek-soek word daar lusteloos rondgekrap na 'n laaste pikseltjie.

Die somtotaal van die drietal vrouens op die beleggingsplaas se groet is spontaan, warm en gemoedelik. Hulle opregtheid is eg, want elkeen is op haar eie unieke manier dankbaar bly vir die oorstaan. Al laggend en skertsend word ek en die Mooiste Mooi soos hartsvriende om die beurt lank en styf omhels en gedruk. So al asof hulle ons vir altyd hier by hulle wil hou.

'n Rukkie later sit almal snoesig met uitgestrekte arms en hande om 'n klein vuurtjie. Gelukkig is dit windstil, want die koue suidewindjie het al met sonsak slaapplek gaan opsoek. Vredevol en salig voorwaar. Hulle bestook ons egter met vrae betreffende ons persoonlike welstand en ook oor ons doen en late en natuurlik wat alles tydens die laaste klompie voorwêreld toere gebeur het. So antwoord en vertel ek en die Mooiste Mooi al om die beurt. Die lekkerste is natuurlik om te laat loop oor Vader se seëninghand. Veral as Sy goddelike warmte ander se bibber koue laat verdwyn by wyse van bemoediging, redding, voorsiening, genesing en vergifnis.

As daar so gekuier en vertel word van die Skepper, die Kêrelkind en die Veilige Gees se doendinge, is dit gewoonlik grafstil. Al wat moontlik gehoor sal word, is 'n sagte en spontane "Prys die Here" of "Amen", maar dit gebeur maar min. Miskien het hulle so oor die jare heen maar geleer om met 'n amperse heilige hongerte te luister en met 'n gewyde dorstigheid diep aan sulke vertellinge te drink. So by so dat die konstante meet, weeg en kritiese beoordeling van hul bestaan hier in die vergeetkant van die land, heel vergete en blou jare ver agter hulle lê.

Donderdagoggend draai en druk 'n ysige suide wind sy onwelkome en onaangename voelers teen my gebeendere vas terwyl ek nog voor sonop met my oranje koffiebeker vir die dagbreek wag. Kosbare en aangename gedagtes van gisteraand lê kraakvars in my hart, want hierdie oorstaan was voorwaar besonders en spesiaal. Die klompie ure wat ons gisteraand saam met daardie Kalahari-boorlinge spandeer het, was meer waardevol en bemoedigend as vele "maak-tog-gou-want-ek-is-haastig-kuiers" wat so deel van die mens se bestaan en leefswêreld geword het. 'n Leefwêreld wat so maklik gekenmerk word deur onvervullende plastiese gesprekke en verhoudinge met skynheilige geselsgenote waar onbedoelde handelinge, geykte sêgoeters en kinderagtige kwinkslae vol in die blom staan.

Onwillekeurig sit ek 'n skietlig op my eie leefwêreld en my verhoudinge met vriende. Ek onthou weer van Abraham se vriendskap met Hom wat op die Koningstroon sit asook Dawid en Jonatan se siele wat aan mekaar verkleef was. Vriendskapsbande wat gesmee is op onwrikbare geloof in Hom, asook wedersydse respek en onvoorwaardelike liefde vir mekaar ongeag omstandighede.

Ek laat my kop in skaamte sak, want diep in my hart staan ek skuldig. Skuldig teenoor Hom en skuldig teenoor my vriende, want sien ... soms wankel my geloof en soms is ek nie eerlik, opreg of eg in my handelinge met my vriende nie.

Die Skepperbelofte staan vas dat Hy sal vergewe as ek vra. En ek het ... sommer net daar. Al wat nou oorbly is om vir jou as vriend jammer te sê en vergifnis te vra as ek moontlik een bibberende wintersdag - op pad na ‘n snoesige staanplek in die son - dalk verby jou gewaai het sonder om eers by jou te vertoef en dan saam te neem na waar Sy goddelike warmte ons woestynwêreld se bibber koue laat verdwyn.

Spr 27:9 (NLV) = "Eerlike raad van ’n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook."

Sandkorrel baie seëninge.
Divine Life Bediening

[Baie dankie, Valerie Kilian, dat jy hierdie besondere boodskap vanuit Noenieput in die Agter-Kalahari, met ons Koester Karos-lesers deel.]

Saturday 1 August 2020

Naweekpret


Ons model wat al die idees op die proef stel -
Luan Herbst!


'n Heerlike aktiwiteit om binnenshuis te
doen. Geniet dit en stuur foto's van julle
skeppings. Dankie, juffrou Chantelle Gebhart
dat jy hierdie heerlike aktiwiteit met ons
Koester Karos-lesers deel. Nog idees HIER!!