Sunday 28 October 2018

'n Gebed vir ons matrieks wat eksamen skryf ...

Ek staan op die brug, Here, tussen gister en môre.
Nou.
Tussen kindwees en grootwees
is ek nou.
En ek weet: nog nooit het ek soveel geweet nie, of so min ...
Nog nooit was ek so groot nie, of so klein ...
Nog nooit was ek so honger vir die lewe, of so bang nie ...
as juis nou!
Here, wees U by my, langs my oor hierdie brug want sonder U, Here,
wil ek omdraai en vlug!
Here, help my om gister suksesvol af te sluit; help my om myself vir môre te slyp.
Help my fokus, Here, help my lees.
Gee my moed en insig en krag.
Vir elke vraestel; elke eksamendag.
En in elke vak wat ek studeer, o Heer, laat my opnuut die wonder van u aarde, u skepping sien.
Die Hand van die Almagtige God wat ek dien.
Maak my rustig, Heer, kalm en stil;
Hou spanning en angs weg van my.
Laat my hand in U s'n bly.
Bid daarvoor in die Naam van ons Here Jesus Christus.
Amen.
[Bron: Nederduitse Gereformeerde Kerk Outeniqualand - besoek gerus die webwerf]

Saturday 20 October 2018

Die vulliswa ...

Hoe gereeld laat jy toe dat ander mense jou gemoedstoestand beïnvloed?

Laat jy toe dat ‘n swak bestuurder, ongeskikte kelner, ‘n norse baas of ‘n onsensitiewe medewerker jou dag ruïneer? So iets kan jou hele dag omkrap en jou in ‘n slegte bui laat vir ‘n groot gedeelte van die dag. Maar, dit is waar die onderskeiding van die suksesvolle persoon intree naamlik, hoe vinnig kan jy jou fokus terugkry na so insident op dit wat belangrik is.

Ses en twintig jaar gelede het ek dié les agter in ‘n huurmotor geleer. Ek het ‘n huurmotor gekry en was op pad na die stasie. Terwyl ons in die linkerkantste baan ry, was daar skielik ‘n swart motor wat vanuit ‘n parkeerruimte voor ons ingery het. Die huurmotorbestuurder het baie vinnig gerem en die motor het begin gly, ons het die motor met sentimeters gemis.

Die bestuurder van die swart motor ruk sy kop agtertoe en begin in die vreeslikste taal op ons skel. My huurmotorbestuurder het net vir die ander bestuurder geglimlag en gewaai. Hy was werklik opreg vriendelik met hom. Ek vra toe vir hom, “Hoekom het jy dit gedoen? Die ou het amper jou motor afgeskryf en ons amper hospitaal toe gestuur. Dit is wat die huurmotorbestuurder vir my gesê het wat ek nou noem: “Die Wet van die Vulliswa”.

Baie mense is soos vulliswaens. Hulle hardloop rond vol vullis, vol frustrasie, vol woede en vol van teleurstelling. Soos wat die vullis ophoop soek hulle ‘n plek waar hulle dit kan stort. As jy hulle toelaat, sal hulle dit op jou stort. Indien iemand dit wel op jou stort, moet dit nie persoonlik opneem nie. Glimlag, waai, wens hulle voorspoed toe en gaan aan. Jy sal baie bly wees jy het dit gedoen.

So dit was dit. “Die Wet van Vulliswaens.” 

Ek begin te dink hoeveel keer laat ek toe dat vulliswaens reg bo-oor my ry? Hoeveel keer neem ek hulle gestorte vullis en versprei dit weer aan ander mense by die werk, by die huis en op straat? Dit was die dag waarop ek besluit het tot hiertoe en nie verder nie, ek gaan dit nie meer doen nie. Ek het begin om die vulliswaens raak te sien.

Ek sien hulle nou al aankom, ek sien die vrag vullis wat hulle dra en ek sien dat hulle dit wil kom stort. Soos my huurmotorbestuurder, maak ek dit nie ‘n persoonlik ding nie, ek glimlag net, waai, wens hulle voorspoed toe en beweeg aan. Die geheim om ‘n gelukkige en suksesvolle dag te ervaar is om nie toe te laat dat ander mense se vulliswaens jou lewe oorneem of beheer nie.

Die lewe is te kort om elke oggend met verwyte op te staan, dus … wees lief vir diegene wat jou goed behandel en die res ... wens vir hulle voorspoed toe. 

Wednesday 17 October 2018

'n Pa se oë ...

In Derde Laan staan ‘n klein huisie met 'n pragtige roostuin en 'n groot populierboom. Dit is hier waar Theo en sy pa gebly het. Hulle het alleen daar gebly, want sy ma is jare gelede al oorlede.

Almal in die dorp het dié twee se verhouding bewonder. Theo se pa het nie een van sy rugbywedstryde misgeloop nie. Of dit nou mooiweer of stormweer was, jy kon verseker weet, Theo se pa was daar. Hy was sy seun se grootste aanhanger.

Ironies, Theo het nooit in ‘n wedstryd gespeel nie; hy was altyd die reserwe. Ná elke wedstryd was sy pa se woorde: “Miskien speel jy volgende keer.” Dan het sy pa altyd met sy arm om Theo se skouer daar weggestap.Sonder enige druk van sy pa se kant, het Theo aangehou oefen en het hy altyd sy beste by elke oefening gegee. Hy het egter deur sy hele hoërskoolloopbaan die reserwebank vol gesit, want - omdat die skool klein was - het hulle net een span in sy ouderdomsgroep gehad.

Maar sy pa het steeds getrou al die wedstryde bygewoon.Dit was voor een van die laaste wedstryde in sy matriekjaar dat ‘n tragedie Theo tref. Sy pa is skielik dood. Dit was vir hom ‘n baie groot skok. Hy het die afrigter gevra om dié week van die oefeninge verskoon te word. Die afrigter het vir hom gesê: “Theo, neem soveel tyd as wat jy wil, want dis ‘n groot verlies wat jou getref het.”

Die Saterdag met die wedstryd daag Theo in sy rugbyklere by die wedstryd op. Hy gaan staan voor die afrigter en pleit-vra: “Meneer, kan ek asseblief vandag speel?” Die afrigter het gevoel dat hy met so ‘n belangrike wedstryd nie kon bekostig om ‘n swak speler in te span nie, maar besluit toe tog om hom te laat speel. Hy het geredeneer: Hoeveel jare lank oefen hy nou al getrou sonder om te speel en boonop is sy pa dood. Ek sal hom ‘n kans gee.

Theo speel fantasties en druk selfs die wendrie. Na die tyd stap die afrigter na Theo: “Waar het jy al die tyd hierdie talent gebêre? Jy was briljant.” Theo het met trane in sy oë gesê: “Meneer, my pa is in die hemel. Meneer weet hy het getrou al die wedstryde bygewoon, al was hy blind. Wel, vandag was die eerste keer dat hy my kon sien speel. Ek wou vir hom wys … ek kán speel!”

Monday 8 October 2018

"Pa was my pa, dis hoekom"

Ek weet nie wie van julle kan ds. Hannes Noëth se stukkie in Twyfelhoekie van Woensdag, 26 September 2012 onthou nie, maar omdat dit só treffend is en só relevant, deel ek dit baie graag met julle.

"Sy was twee maande in die moederskoot toe haar pa en ma se verhouding verbreek is. Sy was twee dae oud toe hy aangedring het op vaderskaptoetse. Sy was drie jaar oud toe haar ma die onderhoudshof moes vra om te help met onderhoudsgeld. Selfs met die hulp van die hof het die hulp nooit werklik geword nie.

Op ses jaar het sy begin agterkom hy wil nie kontak maak nie, al kan hy. Op tien jaar het dit ál minder begin seermaak. Toe sy 13 jaar oud geword het, het sy self probeer om hom te bel. Hy wou nie met haar praat nie.

Lankal al het sy van beter geweet as om 'n geskenk van hom te verwag. Hy het nie eens die naweke gebruik wat hy haar kon sien nie, al was dit vir hom moontlik. Op 14 jaar het sy vir almal vertel sy het nie 'n pa nie. Op 18 jaar het sy heimlik gewens hy kon haar in die rok vir haar matriekafskeidgeselligheid sien. Die dag toe sy haar universiteitsgraad ontvang het, het sy opsetlike gereël vir 'n oop stoel en het sy hom in haar gedagtes daar sien sit.

Dit was haar halfbroer wat haar op haar troue ingebring en afgegee het.

Op haar 40ste verjaardag het hulle gebel en gevra of sy hom kan versorg. Hy is terminaal siek. Hy het niemand anders nie. Sy het ja gesê. Sy het dit gedoen. By sy graf was dit sy wat gehuil het. Oor 'n pa wat sy sou wou hê al wou hy haar nie hê nie.

Voor sy dood het hy gevra: "Hoekom doen jy dit vir my?" Sy het nie geantwoord nie. Vandag hier by die graf, nou antwoord sy: "Pa was my pa. Dis hoekom. Pa het my ontken, ek het Pa nooit ontken nie."

[Uit: Noordkaap 26 September 2012] 

Friday 5 October 2018

Happy teacher's day ...


Wie is Anna Emm?

[Ek plaas graag hierdie storie, omdat stories baie keer die meer effektiewe pad is om te vat, in plaas van preek, baklei en raas. Haar adres verskyn aan die einde van hierdie uittreksel.]

“Toe ek sewe jaar oud was, moes ons ‘n mondeling op skool doen oor wat ons wil wees as ons eendag groot is. Ek het gesê ek wil ‘n skrywer word, want dit was al wat ek ooit wou wees vandat ek kan onthou. Maar die onderwyser het my baie mooi laat verstaan dat skryf ‘n stokperdjie is – nie ‘n beroep nie. Dit sou baie jare van frustrasie en ongelukkigheid neem voordat ek sou leer om my nie aan ander se opinies te steur nie. Voordat ek sou besef dat ek nooit werklik vrede sal hê as ek nie my stories kan skryf nie...” – Anna Emm

Toe Anna Emm besluit om onderwys te gaan studeer in die Boland, het sy geen idee gehad waarheen hierdie pad haar uiteindelik sou lei nie. In 1997 het sy begin skoolhou, as jong onderwyseressie met groot planne om die wêreld te verander. Maar sy was gou ontnugter. Die 8-jarige kinders in haar klas het uit arm, agtergeblewe gemeenskappe gekom. Sy het gou besef dis amper nutteloos om vir kinders te probeer skoolhou, terwyl hulle honger, verwaarloos, getraumatiseerd en stukkend is. Nadat een van die dogtertjies in haar klas gemolesteer is en ‘n ander kind se ma in gesinsgeweld doodgeskiet is, het Anna die kinders probeer troos met die enigste ding wat ooit werklik vir háár gewerk het: stories.

Sy het ure elke dag vir die kinders in haar klas stories voorgelees en later het sy begin om haar eie stories vir hulle te skryf en te vertel. Sy het die kinders in haar klas self die helde in haar stories gemaak en hulle met haar verbeelding op allerhande avonture gestuur! Die uitwerking wat die stories op hierdie kinders gehad het, was ongelooflik. Nie net het die luister na stories hulle rustiger gemaak nie, maar dit het ook hulle kreatiwiteit en selfvertroue gevoed en gou het hulle leervermoë drasties begin verbeter. Selfs die swakste leerdertjies het begin om kleurvolle prente te teken, hulle eie stories te skryf en met entoesiasme en verbeelding deel te neem aan klasgesprekke! Hulle kon feite beter onthou. Hulle kon slegte ervarings beter verwerk en makliker daaroor praat.

Anna het begin navorsing doen oor die gebruik van stories as terapie en sommer gou het sy geweet dat sy haar droom om die wêreld te verander, kon uitleef met die skryf van haar stories.

In 2001 het sy uit die onderwys bedank op soek na ‘n platform vir haar droom.

Nadat sy waardevolle ervaring as skrywer en regisseur op die stel van twee televisie-reekse opgedoen het, het die multimedia­gogga haar gebyt en het sy besluit om die stories wat sy as onderwyseres geskryf het, op CD te laat opneem. Hierdie stories was die heel eerste reeks storie-CD’s uit die pen van Anna Emm en sou die eerste produkte word wat deur Anna Emm (Pty) Ltd vrygestel en vervaardig is. Vandag, meer as tien jaar later, is hierdie maatskappy die grootste vervaardiger van Afrikaanse kinderstories in die land, met meer as 2 000 nuwe stories op CD, DVD en in boekvorm! Bekende name soos Gys de Villiers, Anna-Mart van der Merwe, Chris Chameleon, Koos Kombuis, Anrich Herbst, Vicky Davis, en talle ander, het al kom kinderstories opneem.

Meeste van die stories is deur Anna self geskryf.

“Ek glo in die krag van stories. Ek glo dat ‘n goeie storie kan inspireer, motiveer, aktiveer en genees soos geen ander medium op aarde nie. Dit is my hoop dat Anna Emm (Pty) Ltd ‘n bron van sulke stories sal wees.” – Anna Emm

Lees Anna se getuienis nou in haar outobiografie
DIE STORIEVERTELLER SE BOEK / THE STORYTELLER'S BOOK!

Inligting HIER en ook HIER.

Monday 1 October 2018

Maak seker dat die regte wolf wen!

Daar is 'n Cherokee legende oor 'n omgee-oupa wat vir sy kleinseun meer oor die lewe wil leer. "Seun," sê hy, "Binne ons almal bly daar twee wolwe. Hierdie twee wolwe is in stryd met mekaar. Die een wolf is kwaad. Hy is vol woede, afguns, jaloesie, hartseer, teleurstelling, gierigheid, arrogansie, selfbejammering, skuldgevoelens, wrok, minderwaardigheid, leuens, valse trots, superioriteit en ego. "

Dié oupa vertel verder: "Die ander wolf is goed. Hy is vol van vreugde, vrede, liefde, hoop, kalmte, nederigheid, vriendelikheid, welwillendheid, empatie, vrygewigheid, waarheid, deernis en geloof. "

"Dieselfde stryd is elke dag binne-in jou aan die gang en binne-in elke ander persoon," verduidelik die wyse Cherokee-oupa. Die kleinseun het so 'n bietjie oor die nuwe inligting gedink vir 'n minuut of wat en vra toe vir sy oupa: "Watter wolf sal wen?"

Die oupa antwoord eenvoudig: "Die wolf wat jy elke dag kos gee."