Showing posts with label Blind. Show all posts
Showing posts with label Blind. Show all posts

Thursday, 28 August 2025

Ruben se een minuut storie: Ek is 'n gewone mens. Ek kan net nie sien nie!


Maats, vandag plaas ek Morné se storie wat ek in hulle tydskrif, InFokus, raakgelees het. Hierdie merkwaardige verhaal moet met ander gedeel word en daarom plaas ek dit in sy direkte woorde.

My naam is Morné van der Merwe en ek is op Donderdag, 13 Augustus 1981, in Welkom in die Vrystaat gebore.  

Aanvanklik kon ons nie agterkom dat ek wel blind is nie. Eers op drie maande het 'n dokter bevestig dat ek aan 'n oogtoestand bekend as RETINALE DISPLASIE, ly. Dit beteken dat die retinas nie ten volle ontwikkel het nie. Vir my ouers was dit natuurlik 'n groot skok. In daardie jare was die persepsie taamlik algemeen dat blinde persone nie iewers in die wêreld sal kom nie.

'n Blinde fisioterapeut (ook 'n oudskolier van Pionierskool) van Welkom, Stafie Pelser, het ons in kontak gebring met die Pionierskool op Worcester en ek is in 1985 daar toegelaat.

My skoolloopbaan was een suiwer plesier; gekenmerk deur vreugde, hartseer en blydskap. In 1986 het ek die voorste lid van my regterwysvinger in 'n ongeluk verloor. Dit het beteken dat ek Braille moes lees met die middelvinger. Dit was 'n groot aanpassing. My vader is in 1989 oorlede en die verlies was (en is steeds) baie groot.

In 1999 het ek matriek geskryf en in 2000 begin studeer by die Pionierskool se afdeling vir loopbaanontwikkeling. My vakke was N4, N5, telefonie en kantoorpraktyk. In hierdie stadium kry ek ook vir Rabat, my gidshond. Ek het hom met gemengde gevoelens ontvang. Ek was skepties om my kierie te ruil vir 'n hond, maar na gereelde oefensessies deur die dorp met hom, erken ek nou dat ek vir Rabat met my lewe kan vertrou.

In 2001 het ek begin studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek was 'n bietjie op my senuwees vir die nuwe omgewing, maar met Rabat en my mobiliteitsintrukteur aan my sy het ons twee weke voor die klasse begin het die omgewing verken. Na slegs vier ure toe weet ek en Rabat reeds hoe om by my klasse uit te kom! Ek het baie vriende gemaak en bly in Huis De Villiers. Ek volg 'n BA Taal- en Kultuurkursus met vakke Afrikaans, Duits, Geskiedenis, Sielkunde en Musiek. Ek is baie lief vir musiek, veral my viool. Ek het reeds in graad 5 begin met lesse. Musiek bekoor my nog steeds.

Ek is trots om te bevestig dat ek en my blinde vriende die persepsie dat blinde persone nêrens in die wêreld sal kom nie, verkeerd bewys het!  

[Bron: InFokus, Nuus van die Instituut vir Blindes, Augustus 2001]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Mense wat nie kan sien nie, is gewone mense.
* Daar is in elkeen se lewe ontelbare genade, ten spyte van 'n klomp struikelblokke.
* Dat blinde persone wel êrens in die lewe kan kom.
* Moenie mense oordeel nie - loop eers in hulle skoene voordat jy 'n opinie uitspreek.

Wednesday, 27 December 2023

Kindertjies is baie spesiaal vir God!

Ek saam met die sanger
Matthys Roets
Ek is Katie Marais en ek is met longontsteking gebore. 

Die antibiotika wat ek vir die longontsteking moes drink, is die rede dat ek my gehoor verloor het. Niemand het dit geweet nie en ons het dit eers uitgevind toe ek 3 jaar oud was. Na baie toetse het ek apparaatjies gekry en 'n nuwe lewe het vir my begin. Ek het dit só geniet om die voëltjies te hoor sing en almal te hoor lag en praat. 

Tóg was dit nie altyd maklik nie. Ek moes 3 jaar se spraak inhaal. Met die spraaktannie en God se hulp het ek dit binne 6 maande alles ingehaal. 

Toe kom my volgende skok ...

Ek het oornag in Covid-tyd my gehoor nog verder verloor. Ek het my linkerkant se 50% alles verloor en 'n verdere 1% regs. Ons moes ander tipe apparaatjies kry. Vandag het ek net 4% gehoor.

Uitdagings is daar baie, want met te veel vog, gaan my apparate net dood. Soms in skooltyd! Dan voel ek sommer lus om te sit en huil. Maar dan druk my Juffrou my styf vas en ek weet sommer God het daardie drukkie gestuur. Alles gaan regkom.
 
Ek saam met die akteur van
o.a. Binnelanders, Eric Holm
Daar was dae wat ek vir Mamma gesê het dat ek nie apparate wil dra as ek groot is nie. Ek kon sien Mamma was bekommerd en ek is seker sy het vir Liewe Jesus hulp gevra. Die volgende dag het ons na 'n danskompetisie gekyk. Iets wat ons nooit doen nie. Een van die wenners was Rose en raai wat? Sy is doof en dra haar apparate met trots. Sy het dadelik my hero geword en ek het besef dat God my eintlik geseën het om my so uniek te maak. 

Ek is vreeslik lief vir dans en sing. Ek het ook aan die skool se Revue deelgeneem. Ek is in 'n hoofstroomskool en met God en al my geliefdes se hulp, presteer ek baie goed in die skool. Ek maak baie staat op liplees, maar met elke uitdaging is ek in God se Hande. 

Ek het besef dat daar baie kinders is wat doof is, wat verlam is, wat blind is en wat ook sonder ouers is. Ons het almal een ding in gemeen: Ons is God se spesiale kinders. Hy hou ons altyd vas, al weet ons dit nie. Ons kan enige tyd van die dag of nag met God praat. Hy luister en Hy het ons lief. Ook in die Bybel lees ons dat kindertjies baie spesiaal vir God is. 

Ons moet altyd weet dat al is ons omstandighede of dag sleg, daar is altyd iets om oor bly te wees, want God het ons lief.

Klik HIER om die bladsy met my Dinsdaggedagtes te lees.