Showing posts with label Moeder. Show all posts
Showing posts with label Moeder. Show all posts

Sunday, 23 March 2025

As 1 Korintiërs 13 net vir Mammas geskryf was ...

Al sou mamma die mooiste huis besit
en die lekkerste etes vir ons voorberei,
maar dit nie met liefde doen nie,
dan is dit so waardeloos soos 'n leë kastrol.

Al is mamma die besigste mamma op die beheerraad
en koop vir my eendag die duurste sporttoerusting,
maar mamma het nie die tyd
om my langs die sportveld aan te spoor nie,
dan sal dit my niks baat nie.

Al koop mamma 'n kamer vol van die duurste opvoedkundige speelgoed
en betaal sakke vol geld vir ekstra klasse,
maar mamma sit nie ook self by my
en speel of sukkel met die skoolwerk nie,
dan sal dit my niks baat nie.

'n Liefdevolle mamma is geduldig met my,
sy tel maar partykeer my speelgoed en klere op.
'n Liefdevolle mamma is lankmoedig en vriendelik,
sy laai haar motor maar somtyds vol kletsende,
bakleiende, swetende skoolkinders.

Mammas vergelyk nie hul kinders met ander kinders nie
en is nie verwaand oor prestasies nie.
Mammas bedek skrape met liefde en pleisters en glo in my,
hoop net die beste vir my en verdra die klaery en kritiek.

My gewasde en gestrykte wasgoed word weer vuil
en 'n netjies huis weer deurmekaar ...
maar 'n opregte drukkie
en 'n intieme gesprek sal vir altyd in my kinderhartjiebly.

Eendag sal ons huis en sy binnekant tot niet gaan,
maar mamma en ons gesin se siele sal ondersoek word.

Toe mamma nog 'n jong meisie was,
was mamma gesteld op mamma se mooi voorkoms en aardse besittings,
maar noudat mamma 'n MA is, het ons kinders die belangrikste geword.

Een van die dae kyk mamma miskien vas in 'n opstandige tienergesig,
maar eendag as ek groot geword het,
sal ek die vrugte pluk van die LIEFDE
wat mamma in my kleintyd gesaai het.

En nou bly, AANDAG, GEDULD en LIEFDE, hierdie drie,
maar die waardevolste hiervan
is die onvoorwaardelike LIEFDE van 'n mamma!

* Die waarde van 'n mamma moet elke dag raakgesien en gewaardeer word, nie net op Moedersdag nie.

Klik HIER om 1 Kor. 13 vir pa's te lees.

Sunday, 12 May 2024

Moedersdag: Wat kan ons daaruit leer?

Ma's, regte moeders het moederharte waardeur hulle deur die lewe moet gaan, hulle moet sensitief wees, hulle moet weet wanneer om stil te bly en wanneer om te praat, wanneer om 'n drukkie uit te deel en wanneer om iemand aan te spreek. Daar is soveel gebroke en gekweste siele wat 'n ma se pad kruis, dat as sy daardie mens met haar moederhart omarm, sy baie meer as 'n sielkundige kan vermag. 

Die westerling en ons jong geslag is behep met sukses, prestasie en materiële sukses, en is nie daarop ingestel om die behoeftes van ander mense raak te sien nie. En dis net hier waar jy as jongeling 'n gesprek met jouself moet hê. As jy in 'n huis grootgeword het waar omgee en moederliefde nie deel van julle gesinspakket is nie, hoef jy nie so te wees nie. Jy moet en jy kan 'n beter ma vir jou kinders wees as wat jou ma vir jou was. Jy het geleer uit haar foute, jou foute en ook jou verlange na 'n omgeema.

God is die bron van liefde en omgee. En as jy Hom nie ken nie, kan jy nie 'n liefdevolle ma wees nie. Die Here is geduldig, Hy is lief vir elkeen en Hy dra jou belange op die hart, maar jy moet Hom ook in jou lewe toelaat en volgens Sy wil leef. 

Here, vandag bid ons vir alle moeders, ma’s, oumas, instaanma's en moederfigure wat die verantwoordelike taak het om kinders op die regte pad te hou. Dankie vir die liefde, omgee en uitreik wat so deel is van hulle daaglikse bestaan. Seën hulle en maak ons dankbare kinders wat die waarde van ons ma's besef. Leer ons om gehoorsaam te lewe. Amen.