Showing posts with label Mamma. Show all posts
Showing posts with label Mamma. Show all posts

Wednesday, 13 August 2025

MAMMAS: Ietsie om 'n bietjie oor te lag!

Antwoorde gegee deur graad 2-outjies.

Hoekom het die Here mammas gemaak?
1. Sy is die enigste een wat weet waar die sellotape en prestick is!
2. Sy moet eintlik net die huis skoonhou.
3. Sy moet ons uithelp as ons gebore word.

Hoe het die Here mammas gemaak?
1. Hy het grond gebruik net soos met almal van ons.
2. Hy het bonatuurlike kragte en baie tou gebruik.
3. Die Here het my ma gemaak net soos vir my. Hy het net groter goed soos kop, arms en bene en goeters gebruik.

Van watter bestandele is mammas gemaak?
1. Die Here het mammas gemaak uit wolke, engeltjievlerkies en hare en baie ander lekker goed in die wêreld. Maar ook 'n klein bietjie weird goed, want sy is partykeers kwaai.
2. Hulle het begin om mammas te maak van mans se bene, maar ek dink hulle het meestal 'n klomp tou en lyn gebruik.

Hoekom het jy JOU mamma gekry en nie sommer enige ander mamma nie?
1. Ons is familie.
2. Die Here het geweet sy hou meer van my as ander kinders.

Toe jou mamma klein was, watter soort dogtertjie was sy?
1. My mamma was altyd net my mamma en niks van daardie ander soort goed nie.
2. Ek weet nie, want ek was nie daar nie. Maar ek dink sy was nogal baie baasspelerig.
3. Hulle sê sy was baie gaaf en lief.

Voordat sy met jou pa kon trou, wat moes sy van hom weet?
1. Sy van ...
2. Sy moes weet van sy agtergrond. Lyk hy soos 'n skelm? Word hy dronk as hy bier drink?
3. Maak hy ten minste R56 000,00 per jaar? Sy moet weet of hy JA of NEE gesê het vir drugs. Ook of hy JA of NEE sê vir los werkies soos huiswerk?

Hoekom het jou mamma met JOU pappa getrou?
Die beste ene ooit!!!!
1 . My ouma sê sy kan dit nie verstaan nie, my ma het seker nie mooi reguit gedink nie.

Wie is die baas in julle huis?
1. Mamma wil nie die baas wees nie, maar sy moet, want sy sê my pa is dom-onnosel.
2. Ma is. Jy kan dit sien as sy na my kamer kom kyk. Sy sien al die goed onder die bed raak.
3. Ek dink my ma is die baas. Maar net omdat sy soveel meer goed het om te doen as my pa.

Wat is die verskil tussen ma's en pa's?
1. Mammas werk by die werk én hulle werk by die huis. Pa gaan werk net by die werk.
2. Mammas weet hoe om met my juffrou te praat sonder om haar bang te maak.
3. Pappas is groter en sterker, maar mammas het invloed en gesag, want jy moet haar vra as jy by 'n maatjie wil gaan oorslaap.
4. Mammas het 'n towerstokkie. Hulle kan jou beter laat voel sonder medisyne.

Wat doen jou mamma in haar vrye tyd?
1. Niks. Want Mammas het nie vrye tyd nie.
2. Jy moet haar hoor! Sy betaal rekeninge die hele dag lank.

Hoe kan mens jou mamma perfek maak?
1. Aan die binnekant is sy reeds perfek ... Buitekant ... ek dink een of ander soort plastiese operasie.
2. Die kleur van haar hare. Ek dink miskien blou.

As jy iets kon verander aan jou ma, wat sal dit wees?
1. Sy het hierdie nare ding in haar kop dat ek my kamer moet aan die kant hou. Ek sou daarvan ontslae raak!
2. Ek sou haar slimmer maak, dan sal sy weet dit was my sussie wat dit gedoen het en nie ek nie.
3. Ek sou graag wou hê daardie onsigbare oë agter in haar kop moet uitval!

[Dankie, Rosetta vir die aanstuur van juwele.]

Sunday, 23 March 2025

As 1 Korintiërs 13 net vir Mammas geskryf was ...

Al sou mamma die mooiste huis besit
en die lekkerste etes vir ons voorberei,
maar dit nie met liefde doen nie,
dan is dit so waardeloos soos 'n leë kastrol.

Al is mamma die besigste mamma op die beheerraad
en koop vir my eendag die duurste sporttoerusting,
maar mamma het nie die tyd
om my langs die sportveld aan te spoor nie,
dan sal dit my niks baat nie.

Al koop mamma 'n kamer vol van die duurste opvoedkundige speelgoed
en betaal sakke vol geld vir ekstra klasse,
maar mamma sit nie ook self by my
en speel of sukkel met die skoolwerk nie,
dan sal dit my niks baat nie.

'n Liefdevolle mamma is geduldig met my,
sy tel maar partykeer my speelgoed en klere op.
'n Liefdevolle mamma is lankmoedig en vriendelik,
sy laai haar motor maar somtyds vol kletsende,
bakleiende, swetende skoolkinders.

Mammas vergelyk nie hul kinders met ander kinders nie
en is nie verwaand oor prestasies nie.
Mammas bedek skrape met liefde en pleisters en glo in my,
hoop net die beste vir my en verdra die klaery en kritiek.

My gewasde en gestrykte wasgoed word weer vuil
en 'n netjies huis weer deurmekaar ...
maar 'n opregte drukkie
en 'n intieme gesprek sal vir altyd in my kinderhartjiebly.

Eendag sal ons huis en sy binnekant tot niet gaan,
maar mamma en ons gesin se siele sal ondersoek word.

Toe mamma nog 'n jong meisie was,
was mamma gesteld op mamma se mooi voorkoms en aardse besittings,
maar noudat mamma 'n MA is, het ons kinders die belangrikste geword.

Een van die dae kyk mamma miskien vas in 'n opstandige tienergesig,
maar eendag as ek groot geword het,
sal ek die vrugte pluk van die LIEFDE
wat mamma in my kleintyd gesaai het.

En nou bly, AANDAG, GEDULD en LIEFDE, hierdie drie,
maar die waardevolste hiervan
is die onvoorwaardelike LIEFDE van 'n mamma!

* Die waarde van 'n mamma moet elke dag raakgesien en gewaardeer word, nie net op Moedersdag nie.

Klik HIER om 1 Kor. 13 vir pa's te lees.