Saturday 31 July 2021

Die rooi vragmotortjie

Tannie Gerty was 82 in 2012. Sy het deur die jare talle inspirerende stories, gemik op die jeug, geskryf. 

‘n Joernalis by ‘n koerant het elke jaar, net voor Kersfeestyd, gevra dat kinders vir hom briefies moet stuur om te vra wat hulle graag vir Kersfees wil hê. Hy het elke briefie met liefde gelees en al die geskenkies uit sy eie sak aangekoop.

Die geskenkies is sorgvuldig toegedraai en dan per pos na die kindertjies gestuur. Die oom was baie lief vir Jesus en sy geskenke aan die kinders, was een van sy dankbaarheidsdade. Die Bybel sê mos duidelik in 1 Johannes 3:18 – “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid”.

Op ’n dag kry hy ’n briefie van ‘n seuntjie wat vra of hy tog nie asseblief ‘n mooi, rooi vragmotortjie kan kry nie. Die briefie is met ‘n bewerige hand op geel, verkreukelde papier geskryf. Hy koop ‘n groot, helderrooi vragmotortjie en draai dit toe in vrolike geskenkpapier en bind ’n groot rooi lint daarom. Hy kyk na die adres wat aangegee is en sien toe dat die woonbuurt waar die seuntjie bly, nie baie ver van sy werk af is nie. Die verslaggewer besluit toe om die geskenkie self te gaan aflewer.

Die adres lei hom na 'n eenvoudige, maar netjies versorgde huisie. Hy klop en die seun se moeder maak die deur oop. Sy groet baie vriendelik. Die verslaggewer verduidelik wat die doel van sy besoek is en dat hy graag die geskenk persoonlik aan die seun wil gee. Die tannie neem hom na ‘n slaapkamer agter in die huis. Voordat hulle die vertrek binnegaan sê die tannie vir hom dat die seuntjie ‘n kankerlyer is en baie ernstig siek is. So siek, dat hy enige tyd kan sterwe.

Die tannie gaan staan toe voor die seuntjie se bed en roep saggies: “Marius!” Hy maak sy oë oop. “Die oom van die koerant is hier. Hy wil net gou aan jou ’n geskenk oorhandig”. Marius beur orent. Hy glimlag toe hy die oom sien, neem die geskenk en maak dit baie versigtig oop. Sy oë rek! Dit is die mooiste rooi vragmotor wat hy nog ooit gesien het! Sy gesig straal van blydskap. Sy beker loop oor van geluk!

“Baie, baie dankie oom! Nou het ek ’n geskenk vir my boetie. Hy wou nog altyd so graag ‘n rooi vragmotortjie hê! Dit sal my laaste Kersgeskenk aan hom wees.” Trane rol vrylik oor die wange van sy mammie en die oom. Marius praat weer saggies: “O Mammie, Jesus is so goed vir my. Om te dink Hy het in die oom se hart gewerk om my laaste wens te vervul; ’n geskenk aan my boetie. As ek eendag nie meer daar is nie, sal hy my onthou, elke keer as hy met sy rooi vragmotortjie speel.”

Marius se mammie was ‘n weduwee. Hulle pappie was op daardie stadium reeds agt jaar oorlede. Hulle was maar arm, maar hulle was ryk in die Here. Hulle het almal aan Jesus Christus behoort en Hom baie liefgehad, soos Marius deur sy liefdesdaad op sy sterfbed, gewys het.

Marius is drie dae na Kersfees oorlede, maar leef steeds in sy geliefdes se harte.

Maats, “Laat julle lig ook so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matt.5:16)

Liefde
Ouma Gerty

Monday 19 July 2021

Vir die ouers en onderwysers ...

Dié wat heelmaak, laat gedy
Maretha Maartens

Medies en regte is natuurlik prestige-studierigtings. Geseënd is die ouer met 'n slim kind wie se kop net in één rigting staan: 'n eie mediese of regspraktyk. En so-so status van studente wat in hierdie millennium waarin almal veronderstel is om na die sterre te reik, kies om onderwysers te word.

Onderwys, vermoed ons mos, is maar 'n valerige joppie vir vaalsiele. Met hierdie voorveronderstelling gaan jy deur die lewe totdat jy op 'n grys dag in jou eie lewe begin bid vir die regte onderwyser vir 'n kind wat jou hart uit jou liggaam geruk het.

Eers het jou hart ook mos maar net gesit waar harte gewoonlik sit: stil en pynloos, onwaarneembaar en heel in die middel van jou borskas. Dan tref die spesiale kind jou lewe: 'n Kind wat jou hart laat bloei en breek - 'n kind wat wil-wil ontspoor of reeds ontspoor het, 'n kind met emosionele probleme, 'n sukkelkind, 'n pynlike skaam kind, 'n kind met letsels en beletsels, 'n kind wat moeilik verstaan, 'n huilkind en naelkoukind, 'n rolstoelkind, 'n kind wat elke seisoen van meet af aan moet leer swem, 'n wiskunde-verskrikte kind, 'n hartuitrukkind.

Skielik is jou hart buite jou borskas: rou en kloppend, seer en woedend en bewend. En dan, as jou gebede verhoor word, beland die kind wat jou hart uit sy plek geruk het, in die reënboog-aura van 'n gebore onderwyser, die merkwaardige individu wat sy of haar plek tussen die heiliges kan inneem. Hierdie heilige onderskryf die woorde van Ina Huges:

Ons (die onderwyser) aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat dit geniet om gekielie te word, wat met skoolskoene en al in die waterplasse sal rondplas, hul nuwe skoolklere bemors, kort voor aandete 'n verbode versnapering sal eet en nooit hul skoene kan opspoor nie.

Ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir kinders wat nie nuwe skoene besit nie, wat in plekke gebore is waarin ons vir geen geld ter wêreld sou wou rondloop nie; wat nooit sirkus toe gaan nie en wat grootword in 'n milieu wat 'n X-gradering gehoort te dra.

Ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir dié soort kind wat nooit nagereg kry nie, wat nie 'n kamer het wat opgeruim moet word nie wie se foto nêrens op enigiemand se lessenaar staan nie. Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat tussen werklike monsters leef.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat al hulle sakgeld voor Dinsdag uitmors, tantrums in die supermark gooi, vol fiemies oor kos is, nie in die kerk stilsit nie.

Maar ons aanvaar ook verantwoordelikheid vir dié soort kind wie se nagmerries in helder daglig na hulle toe aankom; kinders wat enigiets sal eet, nog nooit 'n tandarts besoek het nie, wat honger ken soos wat ander fynproewerskos ken, wat hulleself aan die slaap huil.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders wat rondgedra wil word en vir dié wat rondgedra móét word; vir kleintjies met wie ons die stryd net nooit gewonne gee nie en vir dié vir wie niemand 'n tweede kans gee nie.

Ons aanvaar verantwoordelikheid vir kinders vir wie ons kan stukkend druk, so oulik is hulle en vir 'n ander soort kind wat enigiemand wat genadige oogkontak maak, se hand sal gryp.
- Ina Huges, uit Engels vertaal, met aanpassings.

Op 'n onderwyssimposium in New York is gevra: "Watter eienskappe onderskei suksesvolle onderwysers van minder suksesvolle leerkragte?" Steve Rivkin van Amherst het gesê dat dit min of meer onmoontlik is om by die aanstelling van onderwysers waarborge vir sukses te identifiseer. Gevorderde opleidingskwalifikasies of werksonderwinding is dit nie. Eric Hanushek van die Universiteit van Stanford beweer dat die antwoord op hierdie vraag soos die Heilige Graal - die beker waaruit Jesus by die laaste Awendmaal gedrink en waarin Josef van Arimatéa sy bloed volgens die oorlewering van die kruis sou opgevang het - is. "Dit is die moeite werd om die antwoord te probeer vind,"sê Hanushek, "maar ek twyfel of dit ooit gevind sal word. Miskien het ons met oorerflikheid te doen. Miskien word sekere individue gebore om uitsonderlike onderwysers te wees."

As so 'n onderwyser eers jou en jou kind se hart heel gemaak het, as so 'n onderwyser jou kind lank gelede gehelp het om te glo hy kan 'n dokter of 'n regsgeleerde word, 'n suksesvolle entrepreneur of die beste tromspeler wat enige orkes kan begeer, salueer elke toegewyde onderwyser wat môre elke soort kind onder die son in die klaskamer gaan ontvang.

Bron: Goeiemôre, Volksblad