Showing posts with label Eksamen. Show all posts
Showing posts with label Eksamen. Show all posts

Monday, 21 July 2025

Binnekringnuus: Innerlike motivering

Interne korrespondent: Hierdie gesprek het in een van die senior meisies se kamers net voor skool plaasgevind. Ek deel dit met julle omdat ons almal 'n bietjie innerlike motivering nodig het.

"Al draai die hele wêreld teen jou en jy loop die pad alleen en jy kan steeds in hierdie omstandighede die Here loof en prys, dan sal jy oorwin. Jy is nie vanmôre alleen nie, al moet jy alleen jou rapport gaan haal, jy stap nie alleen in daardie eksamenlokaal in nie, al voel dit soms of jy niemand het wat jou in jou donkerste uur by staan nie, weet net daar is Een Ware Vriend wat ons het, en Jesus is Sy Naam! Hy het belowe om jou nooit te begewe of te verlaat nie, Hy is die een wat jou hand vashou en sê: 'Kom, jy kan' as jy wil moed opgee ... Hou vas in die Here,want partykeer is Hy jou Enigste Hoop in hierdie deurmekaar wêreld wat nie altyd sin maak nie. Tel jou kop op en glimlag vir die wêreld, want jy weet dat jy 'n Bondgenoot het, wat die wêreld vierkantig in die oë kan kyk."  

Monday, 30 December 2024

Ruben sê: "Ouboetwees is nie maklik nie."


Liewe Maats

Die dinamika hier op die CK-werf het drasties verander. Almal se sintuie is nou Tommie-skerp. 

Tommie is 'n boompie wat gebuig moet word, voordat slegte gewoontes kan kans kry om pos te vat. Ons moet kyk dat hy nie verdwaal nie, dat hy nie wegloop nie, dat hy nie baklei of ander terg nie, dat hy nie onnodig blaf nie, dat hy sy maats reg sal kies, dat hy besef wat is die gevare in en om die huis en nog hope ander dinge. Dis 'n verskriklike groot verantwoordelikheid om 'n ouboet te wees. En dan moet ek onthou dat ek eintlik die oë en ore van Tannie Christelle is, dat die sekuriteit van CK nog my belangrikste taak is en dan wil-wil my knieë knak onder die verantwoordelikheidsbesef.

Tommie se lekkerste tydverdryf is gate grawe. Baie gate. Orals. Daarom moet hy 24/7 dopgehou word, want om 'n gat onderdeur die heining te grawe, en stil-stil tussen neus en oë te verdwyn, is nie moeilik nie. En Tommie besef nie die gevare in die stad nie. Hy kan so maklik raakgery word, of ontvoer word of in 'n hondegeveg betrokke raak met die rondloper skolliehonde en die onderspit delf. Onthou, hy kom van Petrusburg af waar almal na almal se kinders, katte en honde kyk. En as jy jou dáár op 'n verkeerde plek bevind, word jy aangepraat, die lyne warm gebel en is jy spoedig terug onder jou ma se dak waar jy hoort. 

Nie in die stad nie. Hier raak 'n mens onsigbaar en verdwyn baie maklik tussen die skare. Hier moet jy 'n doelbewuste besluit neem om nie die hoofstroom te volg nie. Dit is dus noodsaaklik om 'n mentor of  'n "voorloper" te hê. Ek wil nie net Tommie se ouboet wees nie, ek wil 'n voorbeeld vir hom stel. Ek wil nie vir hom vertel wat reg of verkeerd is nie, hy moet dit in my lewe sien ... in my elke dag se doen en late.  

2025 gaan sy eie uitdagings aan my stel en Tannie Christelle se standaarde is hoog. Vir haar wil ek nooit teleurstel nie. Daarom is my grootste doel vir hierdie nuwe jaar om met soveel entoesiasme en blydskap te lewe dat ander jaloers gaan wees op my lewensvreugde, 'n voorbeeld vir Tommie te stel, en die beste sekuriteitsbeampte te wees wat ek kan wees. 

Ek kan nog baie byvoeg en ook vir julle maats 'n paar wenke en gedagtes gee om julle aan die dink te sit, maar dit moet so 'n dag of drie oorstaan. 'n Mens moet besin oor wat jy met jou lewe wil doen en op watter manier 'n mens 'n positiewe bydrae kan maak. Daar is genoeg moeilikheid en probleme in die wêreld. 2025 kan nie net 'n herhaling van 2024 wees nie, dan het 'n mens mos niks geleer nie en ook nie emosioneel gegroei nie.  

Ek groet eers - gaan 'n paar balle saam met Tommie skop en vir hom saamneem op my heininginspeksierondte. Hy moet sommer vroeg-vroeg al leer wat verantwoordelikheid is.  

Ruben-groete tot 2025!

Wednesday, 25 December 2024

Ruben se blink Kersfeesster


Liewe Maats

Hier is my beloofde brief waarin ek my superduper goeie nuus met julle wil deel. Geeneen van vanjaar se hoogtepunte (en daar was baie) kan kers vashou by Vrydag, die 13e Desember nie. Eers kon ek my oë nie glo nie en baie versigtig dog ek dis 'n kuiergas, want kuiergaste kom en gaan, maar toe Tannie Christelle vir my kyk en knik, toe weet ek hierdie kuiergas het gekom om te bly. 

Met drie bokspringe, wou ek dit aan die wêreld uitblaf, maar Tannie Christelle het gesê dat dit eintlik my Kerspresent is wat 'n bietjie vroeër gekom het, sodat ons kan sien of  hy sal aanpas. Maar ek moet nie nou al vir almal vertel dat ek my Kerspresent gekry het nie - dit kan dalk groot ongelukkigheid tot gevolg hê! So my verstand het my tot stilswye gemaan, as my hart wou hand uitruk.

Maats, my borskas het dubbeld die grootte geswel van vreugde en trots. Ek kon glad nie my kraaghemde dra nie, want 'n trotse man, sukkel om sy hemp se knope toe te kry. Ek voel asof ek sweef en geen werk was die afgelope twee weke moeite nie!

Ja, Tommie het Vrydag, die 13e, in my lewe en in my hart ingestap!

Bitter groot was my blydskap toe ek hoor dat ons nie net van dieselfde dorp af kom nie, maar dat ons bloedfamilie is. Ons is volbloed Vrystaters, Petrusburgers, maar word in die Noord-Kaap getoë.

Ek is nou 'n ouboet! Tommie is my eerste prioriteit. Genugtig maats, skielik het my verantwoordelikheidsmeter die hoogte ingeskiet. Besef julle dat ons mekaar se prioriteite is? Dat ons moet uitkyk vir mekaar, mekaar moet bemoedig, mekaar moet aanmoedig en sorg dat ons die spieël is waarin die ander een na sy of haar weerkaatsing kan kyk? 

My eerste gedagtes in die oggend is Tommie en in die aand as ek my moeë oë toemaak, is dit met 'n glimlag, want Tommie was deel van my besige dag!

Tommie was vreemd en onseker en ek onthou my eerste dag by Christina Kiddie soos gister. Bangerig - vreemd - alleen en half verlore - en julle outjies het my dadelik ingetrek, en my 'n volbloed Christina Kiddie-inwoner gemaak - want elkeen van julle onthou julle eerste dag soos gister! 

Ons is die Christina Kiddie-familie - ongeag - en met hierdie wete het ek Tommie se skaduwee geword. Voorwaarts ontdek hy sy nuwe wêreld, nuuskierig toets hy grense en tandeknersend laat ek alles net tot op 'n punt toe voordat ek voel ek moet ingryp. Saam met vryheid, kom verantwoordelikheid. So het julle outjies my leer ken. Ons moet mekaar voortdurend motiveer, aktiveer, en werklik inspireer, maar beslis ook dissiplineer.

Die wêreld lê oop voor Tommie, daar is soveel leergeleenthede en dis ons elkeen se plig om goeie spore in Tommie se lewe te trap. 

Ons praat gou weer. En intussen moet ons seker maak dat ons gekalibreer is vir 2025.

Ruben-groete!

Sunday, 15 December 2024

Ruben is nie skaam om sy tekortkominge in die oë te kyk nie. Hy gaan daaraan werk!


Liewe Maats

Ek het regtig baie lank terug vir julle geskryf. Ek voel skoon skuldig, maar met al my verpligtinge hier op die terrein en die eindeksamen, het ek werklik my pote volgehad met ongesiene toesig en natuurlik veiligheidswerk.

Gelukkig kan ek darem rapporteer dat ons almal kan asemhaal na 'n spanningsvolle en vinnige vierde kwartaal en dat ons nou net kan vakansie hou.

Ek was Donderdag so opgewonde dat jy met my kan toor. My rede was die blou swembad, voor die hoof se kantoor. Die een wat toegegrendel is en waaroor 'n mens nie eens kan klim vir 'n vinnige afkoelswem nie. Ek hou hierdie swembad al 'n hele klompie maande dop en wonder hoe dit sal voel om my pote nat te maak. Maar ek het nog nooit die geleentheid gekry nie. As die kinders swem, is ek gewoonlik op hekdiens en dan hoor ek net hoe almal gil en jil en ek wonder of ek ook só plesierig sal voel.

Wel, Donderdag, die 12e, was my kalenderkringetjiedag! Tannie Christelle het besluit dat ek saam met die kinders kan speel, baljaar en swem. Ek dink die hittegolf het die swembad se hek oopgedwing en onder die wakende oog van ons ma, kon ek nie wag om in te spring nie. En daar moet ek tot my bittere skande uitvind dat ek effens versigtig vir die water is. Ek kan nie spontaan swem soos wat ek verwag het nie. 

Miskien het dit iets met my grootwordjare te doen. Julle moet weet ek kom van Petrusburg se omgewing en het my verstand in die dorre Noord-Kaap gekry. Dit beteken water is nie iets waarmee of waarin jy speel nie. Dit is kosbaarder as korale in hierdie droë areas. En dan moet ek verder bieg: Die veearts het vir Tannie Christelle gesê ek doen duidelik te min oefeninge en as ek volgende keer vir my verpligte besoek by haar 'n draai maak, wil sy 'n verskil op die skaal sien. My veerkragtigheid waarmee ek laas somer so kon spog, het hierdie somer verander in 'n hoop minder beweeglike spiere. En treetjie vir treetjie is ek die swembad in - my verskoning - ek wil nie golwe in die water maak terwyl die kleintjies so lekker baljaar nie. Ek het my eerste draaie in die koel blou waters gemaak, maar dit het nie die bekoring ingehou wat ek verwag het nie. Ek het gedink ek sal soos Eno's borrel en bruis, maar helaas was ek eintlik 'n besadigde Ruben wat net sy lyf so effens natgemaak het. Net daar op die swembadtrappie het ek besluit om minder onder die koeltebome te lê, minder draaie by die kombuis te maak, terwyl ek so uitbundig vir die personeel knipoog en my stert swaai en met groter ywer my patrolliewerk te doen - dubbeld die hoeveelheid, want dit gaan sommer ook nou my fiksheidsoefeninge wees. Fiksheid van been, kan dalk net my swempogings verbeter.  

Ek het gelukkig 'n video waarop my historiese wateroomblik vasgevang is. Ek gaan dit nie op FB sit nie. As 'n lewenscoach is ek voortdurend op soek na temas waaroor ek met die jongmense kan praat en as ek self 'n VOOR- en 'n NA-ervaring het, kan ek mos uit ondervinding praat. Ek gaan die video volgende jaar vir julle wys, want Donderdag was wel my eerste swem, maar nie my laaste swem nie.

Die kringetjie op my kalender is om te herinner aan my opgewondenheid, my intense teleurstelling en my vasberade voorneme dat swem my nie gaan wen nie. Ek sal julle op hoogte hou van my vordering.

Ek groet tot volgende week, wanneer ek my breë-bors-nuus met julle gaan deel. En daarvan het ek heelwat foto's. Raai gerus! Ons praat weer.

Ruben-groete!

  

Thursday, 31 October 2024

Gedig

Ken jóú huis ook die eksamenatmosfeer?
Met kinders tog so opgewerk:
een glo vas die eksamenrooster
is só opgestel om háár te benadeel.
Ek is die een wat oral móét help.
Ek buk oor en verduidelik
maar word gekap:
"Dis net 'n 60%-antwoord, Ma!
Ek soek méér!"
Vergeet my eie stapels merkwerk

Eintlik soek ék ook meer

DeVerra Vollgraaff

[Bron: Klasgids 45:3 Augustus 2010 bl. 58 - klik HIER vir die jongste Klasgids] 

Monday, 21 October 2024

10 dinge wat ELKE tiener in eksamen moet weet

(geleen by Lizel van Niekerk Conradie )

1. ‘n Ma wat karring is ‘n ma wat omgee.

2. Daar gaan altyd iemand wees wat vra of jy reg is vir die eksamen. Niemand weet regtig wat die regte antwoord hierop is nie. Vermy hulle maar eerder.

3. Vermy ook mense wat heeltyd vra: “Wat gaan jy volgende jaar doen?” Dit is soos om op jou verjaardag te vra wat jy vir volgende jaar se verjaardag beplan.

4. Rekeningkundevraestelle is gemaak om nooit te balanseer nie.

5. Harde lekkers in ‘n eksamenlokaal is net so erg soos iemand wat heeltyd praat in ‘n fliek.

6. Een pen is te min, twee penne is veilig, tien penne is gretig.

7. Calculators sal heeljaar werk ... tot die dag van die eksamen. Koop ekstra batterye.

8. Eet iets voor die eksamen. ‘n Grommende maag is soos ‘n lastige kleurblind eks wat nie die blou merkies op whatsapp kan sien nie - dit hou nie op nie.

9. Dit is makliker om water in ‘n sif op te vang as om minute voor die eksamen nog nuwe dinge te probeer leer.

10. As jy ‘n break wil vat doen dit. Probeer iets te doen wat nie veel breinkrag vereis. Soos om die kat te kam.

Bonuswenk! Daar is twee tipe mense wat net op jou senuwees gaan werk: dié wat voor die tyd sê hulle het niks geleer nie (al kry hulle altyd volpunte vir die toets), en dié wat na die tyd al hul antwoorde vergelyk met ander mense se antwoorde. Vermy hulle.

Onthou: jy gaan fine wees!

BAIE VOORSPOED EN STERKTE MET DIE EKSAMEN !!!

(Krediet: DR OWEN)

Friday, 18 October 2024

Ruben dink terug aan sy matriekjaar en gee padlangs raad vir die graad 12's


Liewe Maats en al my graad 12-vriende

Ek het besluit om my goeie wense vandag, julle amptelike laaste dag by die skool, oor te dra. Ek het 'n paar van julle raakgeloop in julle getekende hemde en groot smiles. By 'n paar het ek stilgestaan, my stert geswaai en 'n paar lekker uitbundige blawwe gegee sodat julle weet ek dink aan julle. Ek verstaan julle gesplete gevoelens op hierdie stadium. Julle is só bly en opgewonde, want amptelik is skool iets van die verlede - vir altyd, maar die oomblik as julle aan Maandag se twee vraestelle dink is julle aan die eenkant bly dat dit nie wiskunde is nie en aan die anderkant is 6 ure se vraestelle 'n dodelike sit wat bepaald in die nie-eksamen-fiks-gebeentes gaan inklim.

Op 'n ernstiger noot - die jaar is verby, nog net die laaste hekkie van julle graad 12-wedloop en dan is julle in die pylvak. 15 Januarie word die lint gebreek as julle uitslae bekend gemaak word. Dan is dit jy en die grootmenswêreld daar buite.

Ek kan nie help om aan my matriekjaar terug te dink nie. My matriekjaar was vir my 'n heerlike ondervinding. Ek het geleer om baie leerwerk in 'n kort rukkie baas te raak, goed op te let in die klas - die enigste rede was dat my leerwerk by die huis dan die helfte minder was. Ons was so baie kinders by die huis en ons moes elke dag ons kant bring - tuinwerk, gras sny, hout kap, ens. Teen die aand as alles rustig geword het, was die tyd vir huiswerk relatief min - ons almal moes om die kombuistafel sit met die kers in die middel van die tafel onder ma se wakende oog aan die onderpunt van die tafel. En as jy nou vir ma die bont hond wou inmaak, moes jy onderlangs knor of blaf.
Ek het by die skool geleer om leiding te neem by die ACSV en die skaakklasse en al hierdie ondervindings en vaardighede wat ek geleer het, het ek my eie gemaak en in my hart gebêre vir later. Ai, Maats, by die huis kon ek nie waag om leiding te probeer neem nie, my twee ouer broers het my dadelik met die grond gelyk gemaak en dan het Maggie, my ousus - my g r o o t ousus - sommer die vloer met my gevee. Met my eerste werk kon ek nog naweke by my ma-hulle gaan kuier, want ek het net tydelik by tannie Ethel, die afgetrede kostertannie gaan bly. Daar het ek besef hoe goed my onderwysers my vir die toekoms voorberei het.   

Weet julle wat vir my ironies is? Hierdie tyd van die jaar is niemand meer lus vir leer nie. Ons is opgeleer en al die ekstra klasse het die laaste druppel energie uit jou lyf getap. En nou moet jy die belangrikste eksamen van jou lewe aanpak. Jy voel amper asof jy op outomaties is: reageer soos van jou verwag word sonder om te dink. Om te voel of jy alles wat jy klaar geleer het, vergeet het, is normaal. Om te voel asof die eksamen nooit gaan begin of ophou nie, is ook normaal. Om te voel asof almal en alles jou irriteer (veral by die huis), is beslis ook normaal. (Veral as ma kort-kort oor jou skouer loer om te sien of jy nog steeds op dieselfde bladsy sit. Ek het baie later eers besef dis ma-liefde, 'Skuus, Ma.) Hou net kop, bly gefokus en moenie iemand se kop afbyt nie. Dit verg selfdissipline.

Die einde is in sig, en al waaraan jy op die stadium wil dink, is wat alles volgende jaar voorlê. Exciting dinge! Nie boring goed soos bepaal x as y ..., of skryf ‘n opstel oor sinvolle kommunikasie in die hedendaagse families nie.

Om gespanne te voel is normaal. Matriek is 'n jaar vol spanningsfaktore en aan die einde van die jaar kan dit nogal oorweldigend raak. Praat met iemand wat jy kan vertrou. Klou aan jou drome vas, moenie dat spanning, stres en huiskonflik jou droom steel nie. Jy is amper by die wenpaal.

Wat moet jy nou doen?

Gaan sit en leer ... gaan skryf ... rus ... ontspan en begin weer leer. Herhaal hierdie roetine vir die volgende 4 weke. Jy sal oorleef ... ek het!!

Spesiale Ruben-groete!


Eksamengebed vir die matrieks van 2024


(Verwerking van Ps. 23)

Die Here is my herder
waarvoor sal ek bang wees?
Hy laat my die eksamenkamer
rustig binnegaan.

Hy verlig my verstand
Hy lei my in die kennis van geleerdheid
om Sy Naams ontwil.

Al kyk ek na die vraestel
en die vrae is moeilik
sal ek kalm bly,
want Hy is met my.

Die goedheid van my onderwysers
en wat hulle my geleer het,
sal vrug dra en ek sal leef
om Sy naam te loof
tot in ewigheid.

[Onbekend]

Vir elkeen wat bekommerd en bang is vir 2024 se eksamens na 'n vinnige jaar.

Sterkte aan al die matrieks

As jy ‘n kind in matriek het, dan weet jy dat hierdie volgende vier weke van die stresvolste tye in jou kind, maar ook in jou lewe gaan wees.
* Het my kind genoeg geleer?
* Verstaan my kind die werk?
* Het my kind genoeg tyd aan akademie afgestaan?
* Moes my kind nie sy sportprogram afgeskaal het nie?

Vergeet hierdie treitervrae. Fokus op die hier en nou.
* Moenie jou kind belas met jou probleme nie.
* Skep 'n gemoedelike atmosfees.
* Maak gerus 'n ongevraagde koppie koffie.
* Verlig die atmosfeer deur sommer net lekker te lag.

Saturday, 5 October 2024

Ruben dink aan sy kinderjare en waardeer sy oudonderwysers


Liewe Maats

Die laaste kwartaal van 2024 is reeds 'n week oud. Nou stoomroller die jaar einde se kant toe en oor minder as 8 weke is julle klaar met eksamen en is die skrif aan die muur en die punte op die rapporte!

En terwyl ons nou op die onderwerp van skool en rapporte is, ek hoop nie julle het vergeet dat dit vandag Wêreld-Onderwysersdag is nie. Ek hoop julle het Vrydag vir elke juffrou 'n dankiedrukkie gegee. Hulle doen soveel moeite, help ons, ondersteun ons en bid vir ons. By die skool is die onderwysers mos ons ouers. 

Ek in die laerskool
En eintlik is die enigste manier hoe ons regtig vir hulle kan dankie sê, is om ons huiswerk gereeld te doen, hard te leer vir ons toetse en vir die eksamen en op te let in die klas, sonder om te praat of erger nog, terug te praat.

Het julle al mooi daaroor nagedink - onderwysers is ons kinders se toekoms. Hulle maak ons gereed vir die wêreld daar buite. Baie dankie aan al die onderwysers vir jul liefde, wysheid en toewyding vir die kinders van ons land.

Ek wil graag vir my oudonderwysers in Petrusburg uit my hart uit dankie sê dat julle ons geleer het om selfstandig te dink en te handel. Dat omgee, naasteliefde en dissipline drie woorde is wat sommer in een sin gebruik kan word. Dankie vir al die ekstra klasse oor naweke toe ons vir ons belangrikste eksamen voorberei het. Vandag kan ek met trots my matrieksertifikaat vir enige werkgewer wys, want daar is nie een skaamkrypunt op daardie rapport nie.  

Dan wil ek sommer ook vir tannie Christelle dankie sê dat sy deur harde werk en daadwerklike handeling vir ons 'n voorbeeld stel. Tannie Christelle het 330 koekies in die laat ure van die aand gebak en met liefde verpak, kaartjies gemaak en geknip - amper 'n week lank - ek weet, want ek wou nie gaan slaap het, voordat tannie Christelle nie klaar was nie. Volg hierdie voorbeeld na, ook as julle die ouers van kinders is - ons leer waardevolle dankielesse!!!
 
Terug by die eksamen - daar is geen tyd meer oor om te speel nie, behalwe ... miskien ... dalk ... moontlik ... op 'n Saterdagmiddag. Maar dit gaan die uitsondering wees.

Ons moet nou handevat en mekaar help. Ons wat in dieselfde graad is, moet vir mekaar die werk verduidelik of beter nog, as jy klaar geleer het, vra jy vir jou maat vrae om te toets of hy sy werk ken. Ek onthou so goed dat ek en my suster vir mekaar vrae gevra het om te kyk of die ander een werklik geleer het. Sy het altyd vir my die moeilikste vrae gevra en as ek die derde vraag verkeerd geantwoord het, het my ma na my kant toe geblaf dat ek my werk ordentlik moet gaan leer, want ek mors almal in die huis se tyd. 

My (slim) suster
Ai, julle, dan het ek maar my boeke gevat en ekstra hard geleer. Twee dinge het vir my gehelp om die feite van die leervakke te onthou: Ek het die werk hardop gelees, sodat ek meer gefokus kon bly en die ander belangrike hulpmiddel was opsommings - ek het my werk goed opgesom in Blaffiaans en dan het ek op en af in die gang geloop en dit hardop gelees. As ek te lank op een plek stilgesit het, het ek sulke lang gape gegee en as ek my kom kry, was ek vas aan die slaap - en in groot moeilikheid. 

As ek hierdie twee riglyne gevolg het, kon my suster my nie uitvang met enige van haar moeilike vrae nie. En dan knik my ma haar kop goedkeurend en vra vir my hoekom het ek nie in die eerste plek ordentlik geleer nie, maar ai julle outjies, julle weet self dat 'n hond maar altyd kort pad wil vat en altyd
My (streng) ma
hoop vir die beste. My ma het altyd na ons huiswerk gekyk en gesorg dat ons altyd ons skryfwerk en leerwerk goed doen. Vir haar was 'n matrieksertifikaat belangriker as kos. Wat jy daarna gaan studeer, was vir jou eie rekening.  

Ek dink spesiaal aan julle met hierdie uiters kort kwartaal - mag dit net goedgaan. Druk gerus op my knoppie as ek julle kan help. My ma stuur groete en sê dat 'n goeie sessie swoeg en sweet nog niemand skade gedoen het nie.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

Thursday, 13 June 2024

'n Luilekker kreatiewe Woensdagmiddag



Min dinge is so lekker soos om af te wen na die eksamen en dit het ons gistermiddag gedoen. Ons het ons kunstenks 'n bietjie volgemaak en ons breins op hold gesit.

Vir 'n wintersdag was dit heerlik warm en daarom het ons meisiekinders besluit om kaartjies te maak. Tafels en stoele is in die son uitgedra en ons kon ons inleef in kaartjiesmaak. Terwyl ons so lekker ontspan het, het ons gelag, gegiggel en gesels en besluit dat daar oupas is wat voetspore in ons harte gelos het en dat hulle 'n mooi kaartjie vir Vadersdag verdien en dan het party van ons sommer ons hartstannie met 'n kaartjie bederf. Die middag het gevlieg - daar is mos nie brieke as dit by kreatiewe denke kom nie. 

Ruben kon egter nie saam met ons ontspan nie, want hy het 'n meer aktiewe idee van ontspan gehad as wat ons gehad het. Dus het hy gelukkig agter die heining ons aktiwiteite gade geslaan. Ek hoop nie hy het alles verstaan wat ons gesê het nie, want ons het heerlike getjirp, gekwetter en gekwinkeleer.

[Ingestuur deur een van die kaartjiemakers.]

Sunday, 9 June 2024

Ruben leier van 'n koalisie

Liewe Maats 

Ek hoop julle sien dat ek my les geleer het en nie verlede week se fout gaan herhaal nie. Ek begin vroegtydig sodat ek nie my briefie laat by tannie Christelle gaan inhandig nie. 

Ek het so 'n paar keer hierdie week die koerant onder oë gehad, sodat ek op hoogte kan wees van wat in die land en in die wêreld aangaan. Dit is nogal 'n belangrike aktiwiteit - jy moet weet wat rondom jou aan die gebeur is, want dit beïnvloed jou lewe en lewenswyse direk of indirek.

Daar is honderde artikels oor koalisies en ek het so half en half 'n idee gehad wat die woord beteken, maar net om seker te maak, het ek die woord gegoogle. Koalisie beteken: Twee of meer partye wat tydelik saamwerk om 'n gemeenskaplike doel te bereik.

En net daar kry ek die ongelooflikste blink plan - samewerking om jou doel te bereik! Dis klink egter selfsugtig, maar om 'n gemeenskaplike doel te bereik, is 'n wen-wen-situasie met geen verloorder nie. 

Kyk, Maats, ek deel mos die huis saam met Spikkels en Krummels, twee hoogmoedige katte, wat ouderdomsgewys nie meer lus is vir my opgeruimde spelerige geaardheid nie. Hulle kuier en gesels nou nie eintlik met my nie, daarom is ek nie deel van hulle vriendekring nie. (Eintlik is hulle baie katterig met my.) Nietemin het die koue my tot aksie aangespoor en het ek as leier besluit om met hierdie twee saam te werk, want ons al drie gaan by ons koalisie baat, en dis net vir die winter - dus is dit tydelik. 

Julle weet mos 'n ware leier neem nie net verantwoordelikheid vir sy eie situasie nie, maar ook vir diegene wat sy pad kruis. Ek is verantwoordelik vir my huismaats, vir my speelmaats en ook vir die koshuispersoneel. Vir party gee ek raad, oor ander bekommer ek my dood, met party speel ek my energie totaal uit en vir ander moet ek beskerm en sorg dat hulle veilig voel.

Deel van 'n sinvolle koalisie is goeie kommunikasie. En as elkeen van die partye eerlik en reguit praat, dan bou ons as 'n nuwe span vertroue as fondasie vir ons nuwe samewerkingsplan. Kom ek verduidelik dit vir julle só: Ek het my trots in my sak gesteek en met hierdie twee huismaats gaan praat. Dit is ongenadiglik koud in die aand en met of sonder 'n kombers, is die Noord-Kaap nie diervriendelik nie. Ek stel toe voor dat in plaas daarvan dat elkeen opgekrul in sy eie bondeltjie lê en homself bejammer, kan ons mos my bed deel en dan kry ons almal heerlik warm. En dit is ook net tot die ergste koue verby is - dan kan elkeen weer sy eie gang gaan en speel en kuier met wie hy wil. (Kyk gerus na die foto's wat ek by hierdie brief insluit.)

En net daar besef ek dis wat julle moet doen. Julle moet saamwerk, veral met die vakke wat julle nie verstaan nie, bv. wiskunde. Julle moet sorg dat julle 'n goeie wiskundige in julle koalisie het, wat vir julle die werk kan verduidelik - julle hoef nie vriende te wees nie - en dan help julle hom weer met Engels of Afrikaans. Almal baat daarby en in hierdie studiekoalisie is daar geen verloorders nie. En na studie gaan elke een sy eie gang. 

Maar om as 'n span saam te werk, vra dat ek van my karaktereienskappe wat ek nie graag gebruik nie, moet afstof en poleer totdat dit skitter. Dit is nou eienskappe soos respek, nederigheid, gewilligheid, sagmoedigheid, geduld en lankmoedigheid, veral laasgenoemde twee ... so ek moet amper soos 'n volwassene optree en my voorbeeld en goeie maniere moet die res van my span aanvuur om ook hul beste te gee en daar is ons terug by my uitdaging vir 2024: Wees die beste jy wat jy kan wees. 

Daar is nog net een week van skool oor, dan is die wintervakansie hier. Ek het al so een of twee van my speelmaats gehoor kla dat hulle niks het om te doen nie ... wel, ek daag julle uit om vir my vars en oorspronklike idees in te stuur! Ek begin met 'n idee: kom ons stig 'n leesklub en dan lees ons vir mekaar of van die groteres kan vir die kleintjies voorlees of ons verander die hoofkarakter van die boek en een van ons word die nuwe hoofkarakter en ons herskryf die hele storie. Wat dink julle daarvan? En net miskien kan ons daardie storie (akteurs gebruik graag die woord teks) in 'n minidrama ontwikkel en 'n winterkonsert op die planke bring. (Amper iets soos die kersverhaal wat julle altyd aan die einde van die jaar opvoer.)

Ek gaan nou saam met my span die koue aandurf en kaf draf.   

Koalisie-groete tot 'n volgende keer.

  





Tuesday, 4 June 2024

Ruben se eksamenbekommernisse


Liewe Maats

Ek moet bieg, ek moes al twee dae terug hierdie brief vir julle geskryf het, maar ek het net te koud gekry. Dit was asof alles net vasgevries het. Ek begin sommer my brief met hierdie afgelope naweekswakte van my, want koue is nie 'n verskoning om nie jou werk te doen nie. Ek het mos al vir julle gesê dat 'n mens altyd jou beste moet gee en hier val ek sowaar uit die bus uit. Ek is diep teleurgesteld in myself.

Die ander groot teleurstelling vir my is dat julle my nie aangespreek het nie. Ons het dan saam besluit ons gaan mekaar ondersteun en altyd daar wees vir mekaar. Julle het my lelik gedrop en nou is ek in die sop.  

Ek gaan nie 'n lang briefie skryf nie, want dit is eksamentyd. Gedurende eksamentyd moet 'n mens gefokus wees en bly. Daarom herinner ek julle aan die belangrikheid van leer, goeie punte en om die tyd uit te koop. ('skuus, nou klink ek net soos een van julle onderwysers of een van ons hartsma's). Maar hierdie eksamen lê vir my baie na aan my hart - dis ons halfjaareksamen en hierdie eksamen gaan vir elkeen van ons 'n riglyn gee vir ons studiepad vorentoe. 

Hierdie eksamen kan met die halfeindrondte in rugby vergelyk word. Daar gaan beserings in hierdie wedstryd wees en daar gaan 'n paar mooi drieë gedruk word. Ons weet ook dat die afrigters en die keurders langs die veld gaan staan en ons met valkoë gaan dophou vir die eindstryd wat in November plaasvind. Almal kan nie speel nie, party moet op die bank sit en kyk hoe ander speel. Moenie dat enige van ons spanlede onkant gevang word nie. Ons gaan almal in die eindstryd speel en om dit reg te kry, moet ons ekstra studietyd insit of soos my oupa altyd gesê het: "Ruben, jy moet skouer aan die wiel sit."

Kom praat met my na die eksamen - ek het 'n plannetjie wat ek in die mou voer, maar ek gaan nou niks sê nie. Ek gaan vir julle wag om my hieraan te herinner. (Julle weet natuurlik dat ek julle toets ...?)     

Ruben-groete tot 'n volgende keer.




Thursday, 1 December 2022

Donderdag: Dink daaroor ... so bietjie tong in die kies, maar ook tog waar

10 dinge wat elke matrikulant moet weet
(Deel met elke ouer en matrikulant!)

‘n Ma wat karring is ‘n ma wat omgee
Daar gaan altyd iemand wees wat vra of jy reg is vir die eksamen. 
Niemand weet regtig wat die regte antwoord hierop is nie. 
Vermy hulle maar eerder.
Vermy ook mense wat heeltyd vra “ wat gaan jy volgende jaar doen”. 
Dit is soos om op jou verjaardag te vra wat jy vir volgende jaar se verjaardag beplan.
Rekeningkundevraestelle is gemaak om nooit te balanseer nie.
Harde lekkers in ‘n eksamenlokaal is net so erg soos iemand wat heeltyd praat in ‘n fliek.
Een pen is te min, twee penne is veilig, tien penne is gretig.
Calculators sal heeljaar werk ... tot die dag van die eksamen. Koop ekstra batterye.
Eet iets voor die eksamen. ‘n Grommende maag is soos ‘n lastige kleurblind eks wat nie die blou merkies op whatsapp kan sien nie – dit hou nie op nie.
Dit is makliker om water in ‘n sif op te vang as om minute voor die eksamen nog nuwe dinge te probeer leer.
As jy ‘n break wil vat, doen dit. Probeer iets te doen wat nie veel breinkrag vereis. Soos om die kat te kam.

Bonuswenk! Daar is twee tipe mense wat net op jou senuwees gaan werk: dié wat voor die tyd sê hulle het niks geleer nie (al kry hulle altyd volpunte vir die toets), en die wat na die tyd al hul antwoorde vergelyk met ander mense se antwoorde. Vermy hulle.

Onthou: jy gaan fine wees!
[Geleen - https://algoagemeenskapskerk.com/2019/10/21/spesiaal-vir-ons-matrieks/]