Thursday 4 July 2024

Verhaal: Wolf en jakkals

Jakkals het geweet dat Wolf vir hom smoorkwaad is; daarom het hy besluit om liewer uit sy pad te bly. Hy weet ook dat hyself die oorsaak daarvan is. Vermyding is 'n soort tydelike vrede, of dit is wat hy homself wysmaak. Maar hierdie taktiek werk ook nie vir altyd nie. Daarvoor is die wêreld heeltemal te klein. En so gebeur dit toe ook dat Jakkals onverwags in Wolf vasloop. Nogal op die wal van 'n rivier ... Wolf wys sy groot tande en sê wreed: "JOU LAE LUIS! Gewetenlose s-k-e-l-m! Vanaand gaan ek met jou afreken. Ek wag al baie lankal vir hierdie dag. Moenie dink jy gaan weer wegkom nie."  

Jakkals skrik groot, maar hy wys dit nie. Hy sit sy mooiste smile op sy gesig en sê: "My liewe oom Wolf, ek soek al twee dae lank na Oom. Koning Leeu vier fees hier oorkant die rivier, en hy het ons ook na die eetmaal genooi. Daar sal die heerlikste wildsvleis en bene wees om aan te smul. En as Koning Leeu feesvier, doen hy dit op groot skaal."

Toe Jakkals van die heerlike kos vertel, en hy is so oortuigend vriendelik, besluit Wolf om eers na die fees toe te gaan. Waarom sal hy nie eers pret hê en dan by plig uitkom nie? Daarna sou hy met Jakkals afreken. Tyd is mos aan sy kant. "Maar hoe sal ons deur die rivier kom?" vra Wolf baie versigtig. "Jy weet mos ek kan nie swem nie." Hy besluit dat Jakkals se antwoord ook sommer 'n toets vir Jakkals en sy gesindheid is.

"O, dis maklik," antwoord Jakkals. "Klim gou op hierdie stomp aan die kant van die water en hou aan my stert vas terwyl ek deurswem. Jy weet self ek is 'n baie goeie swemmer. Op dié manier is ons in 'n japtrap aan die oorkant van die rivier. Maklik! Ek sien al die vleis in my geestesoog."

Wolf spring op die stomp en ontdek tot sy ontsteltenis dat dit 'n krokodil is. Verskrik val hy in die water, waar Krokodil hom vinnig aan die stert gryp. Met 'n groot gesukkel en gespartel geluk dit hom om homself te bevry, maar 'n stuk van sy stert bly in die slag. Wolf is oombliklik kwaad, eintlik woedend, maar teen dié tyd was Jakkals skoonveld.  

Wolf besef te laat dat hy nie na die vriendelike praatjies van Jakkals moes geluister het nie. Jakkals is 'n vals vriend en gee nie regtig om vir sy medemens nie, verder is hy ook nie hulpvaardig nie - hy gee net voor. Dit gaan altyd net oor sy eie belange en wat hy uit die vriendskap kan kry! Jakkals is 'n vals vriend en hy wat wolf is, moet dit vir die res van sy lewe onthou. Jakkals is nie geloofwaardig nie.  

Die les: Moenie 'n jakkals wees nie.

No comments:

Post a Comment