Maats, die wildehond lyk baie soos 'n gewone hond, maar anders as die ander lede van die hondefamilie het die wildehond vier in plaas van vyf tone. Die wildehond het 'n massa van omtrent 25 kg, dit wil sê, omtrent soos dié van 'n redelike groot hond (die wildehond is meer Tommie se grootte - ek het 'n bietjie my gewigsgrense oorskrei, maar dit is omdat ek deesdae so lank voor die rekenaar sit.)
Die dier is 'n redelike groot vleiseter met 'n massiewe kop amper soos dié van 'n hiëna, dog met 'n slanker liggaamsbou. Die bene is lank en dun en die ore baie breed en rond amper soos dié van 'n vlêrmuis. Die snoet is gewoonlik swarterig met 'n mediane swart lyn op die voorhoof en tot agter die nek, dikwels met 'n ligte bruin kol.
Die beharing is grof en kort en vertoon 'n eienaardige en treffende patroon. Hulle is oorwegend wit met geelwit, swart en skakerings van bruin vlekke oor die hele lyf. Die reuns is donkerder as die tewe.
Wildehonde jag in goed georganiseerde troppe; sommige van hulle bly kort op die prooi se hakke, terwyl die oorblywende deel van die trop op hul gemak volg, totdat die voorstes begin moeg word, waarna hulle dan weer in beweeg totdat hulle die prooi bereik het en hap dan stukke vleis uit die moeë dier totdat dit val waarna dit dan lewendig verslind word.
Die wildehond is beide 'n dag- en 'n nagdier. Hierdie diere, wat neig om spesie-sosiaal te wees, kommunikeer deur 'n groot verskeidenheid geluide, waarvan die meeste 'n kort blaf van alarm of opgewondenheid is, of 'n sameroepende gehuil en baie mense beskou hulle as die wolwe van Afrika.
Hulle maak ook 'n baie eienaardige kliek-geluid met die tong.
Die draagtyd is twee maande en die klein brakkies, gewoonlik 2-6, word in 'n beskutte plek, meestal in digte gras of bossies of in 'n skeur, rots of erdvarkgat gebore.
[Dr. JJ Malan]






























