Showing posts with label Namibië. Show all posts
Showing posts with label Namibië. Show all posts

Sunday, 20 October 2024

Jesus-taal

"Antie! Antie!" hoor ek iemand agter my roep.


Ek stap in die stofstrate van Rehoboth, suid van Windhoek in Namibië. Ek steek vas. Kyk om. 'n Klein vuil seuntjie hardloop na my toe. Ek kyk die kind. Ag Vader, hoekom is die kind so verskriklik lelik, dink ek. Sjoe, iewers het hierdie reseppie lelik verkeerd geloop.

"Hello, my kind".

"Hello, Antie. Kan ek Antie se kitaar dra? Ek het Antie gehoor sing."

Ek haal my kitaarsak van my skouer af en haak dit oor syne. Kaal gebarste voetjies loop 'n paar treë in stilte. Hempie knoop af. Broekie se gulp stukkend, aanmekaar gesit met draad."Antie?"

"Ja, my kind?"

"Antie sing mooi. Ek was vol mossievleis. So straight mooi soos my ma sê. Wie het vir Antie daai mooi stem gegee?"

"Seker maar Jesus, Seun."

"Ja, Hy het vir my ook een gegee."

Ons loop. Weer dink ek aan die kind se lelike reseppie wat oral oor sy gesig geskryf is. Regtig Jesus?

"Wil Antie my hoor sing?"

Dalk maak sy stem op vir die gebrek aan skoonheid, rol dit deur my gedagtes.

"Asseblief, Seun".

Hy gee my kitaar terug. Hy kry pose sodat hy sy moves saam sy lied kan maak. Hy kyk my eers in die oë en maak seker hy het al my aandag en hy begin sing met 'n breë glimlag:

Jesus het my mooi gemaak,

Jesus het my mooi gemaak,
my kop, my tone, my hande my voete,
Jesus het my so mooi gemaak.

Ek hurk. Here, Here, wees my, sondaar, genadig! Die trane vloei oor my wange, meng met die stof van Rehoboth se strate.

"Seun, kan jy my vergewe vir my lelike gedagtes, asseblief? Jy is só mooi."

"Antie, ek weet nie wat Antie gedink het nie, maar Antie se oë praat nou Jesus."

Ek haal my kitaar uit. Die wysie is maklik. Ek slaan die kitaar en hy jive uitbundig sy moves in Rehoboth se stofstraat met boude wat boep staan. Ek jive saam soos 'n kind: "Jesus het ons mooi gemaak ..."

Ek kyk sy gesiggie en ek sien sy glimlag praat Jesus ...

Mag jou oë ook Jesus praat met almal met wie jy vandag in aanraking kom - liefde en omgee. Hoeveel keer is ons ook skuldig aan sulke gedagtes ... 

[Skrywer onbekend.]

Friday, 19 January 2024

Gedig: Namibië

Soos ’n ryp vrug, reg om gepluk te word
wag hierdie land sy besoeker in.
Begeer hy om te onthul
skatte van eers, kosbaarhede van nou.

So ’n dorre land
almal deel saam, die hegte band.
Hy wil verras
met flenters van kameeldoringbas.

Hy wil oes
die verwering van roes.
Swart koue yster, so kul
boorlinge, so gul.

Verlate langs ’n sandroos
lê eens mens – nou net beendere, sielloos…
Geroeste skeepsgeraamtes
beur deur die sand,
geen oorlewing, daar gestrand
saam deel hul ’n laaste lêplek.

Tot duinsand hul eendag
heel bedek.

Namibië, land met kontras.
Hy lok jou uit, hy wil verras
inwoner en gas.
Pak sy mooi, sy roes en eensaamheid,
binne-in jou hart
se tas.

[Ina van Vuuren - 'n spesiale dankie aan die digter dat ons jou hartsgedig mag plaas]

Bron: LitNet

[Klik HIER vir meer inligting oor die digbundel.]