Showing posts with label Les. Show all posts
Showing posts with label Les. Show all posts

Thursday, 7 August 2025

Ruben se een minuut storie: Die padda en die muis


Hierdie kort-kortverhaal handel oor 'n muis wat hulp van 'n padda soek om van die een kant van die stroom na die ander te kom.

Muis moes baie dringend aan die oorkant van 'n stewige stroom kom. Sy familie aan die oorkant is siek en Muis wil hulle gaan help. Omdat Muis nie kan swem nie, het hy allerhande planne gemaak om aan die oorkant te kom, maar die een plan was meer gevaarlik as die ander plan. Gelukkig sien hy 'n padda op 'n klip in die son sit en bak en besluit om hom te nader vir hulp. Hy ken nie dié padda nie en na heelwat mooi praatjies en beloftes stem die padda in om die muis te help. Muis maak homself aan die padda vas, want hy wil nie in die water val nie. Padda het egter ander planne gehad en duik in die water in net nadat Muis homself stewig op Padda se rug vasgemaak het. Padda bly lank genoeg onder water totdat hy seker is die muis op sy rug het verdrink.

Padda swem met 'n groot glimlag op sy gesig na bo en spring op sy gunstelingklip. Hy kan nie glo dat die muis hom so maklik geglo het nie en sonder enige moeite het hy 'n kitsmiddagete op sy rug. Hy was nog besig om die toue los te maak waarmee Muis homself vasgemaak het, toe word hy deur meneer Valk opgetel. Meneer Valk is op sy beurt baie in sy skik dat hy twee porsies kos kry met net een poging.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie iemand vertrou wat jy moet smeek om jou te help nie.
* Moenie vreemdelinge vir hulp vra nie.
* Moenie iemand wat jou hulp nodig het, te na kom nie.
* Jy kry van jou eie medisyne terug, as jy vir ander lieg.

Thursday, 17 July 2025

Ruben se een minuut storie: Tee uit 'n besondere teepot


Eendag was daar ‘n mooi blou teepot, die heel beste teepot in die hele wêreld. Sy eienares was baie lief vir die teepot en dit is gereeld gebruik as besoekers kom tee drink het. Dan het die mooi blou teepot op ‘n pragtige wit tafeldoek op die teetafel gestaan, of op die tuintafeltjie wanneer hulle buite tee gedrink het. Teepot het dit geniet om dan reg in die middel op die oulike tuintafel te staan onder ‘n fraai, helderkleurige tuinsambreel in die skadu van die groot ou eikeboom. Die besoekers kon nie uitgepraat raak oor die besondere teepot nie en die heerlike geurige tee wat uit die tuit geskink word nie. Dit het die teepot baie trots laat voel. Wanneer die gaste weg is, is teepot met groot liefde gewas en afgedroog - en mooi skoon en blink - op die kombuiskas gesit waar almal dit kon raaksien en bewonder.

Op ‘n dag, na ‘n teepartytjie, het 'n hulpvaardige, maar onhandige gas aangebied om die breekgoed te help indra. Die blou teepot het uit haar hand gegly en sy tuit het gebreek. Die eienares van dié besondere teepot was baie kwaad. 

 “Ag nee,” het sy gesê, “kyk wat het jy nou aangevang! Ek sal van nou af nie meer hierdie juweel kan gebruik nie, ek sal nou een van my ander teepotte, miskien die pienke, moet gebruik. Ag tog, dis jammer. Hierdie een was my geliefkoosde teepot!”

Die blou teepot was baie, baie hartseer. Sy glorieryke dae het so skielik tot 'n einde gekom. Toe teepot se eienaar se vriendinne weer kom tee drink, is die pienk teepot uitgehaal. Treurig en vergete het die blou teepot op die vensterbank gestaan en kyk hoe die pienk teepot die teepartytjie buite in die tuin geniet. Hy het baie, baie eensaam gevoel, verlate en vergete.

Op ‘n dag kom daar ‘n gawe vrou wat skilder daar tee drink. Sy sien vir teepot waar hy op die vensterbank staan en sê: “Wat ‘n mooi blou teepot!”
 
“Dit was my geliefkoosde teepot,” sê teepot se eienaar, “maar hy het geval en gebreek en die tuit het afgebreek en ek kan hom nie meer gebruik nie.” 
“Kan ek die teepot leen?” vra die kunstenares.
“Ek wil ‘n skildery maak.” Toe vat die kunstenares die teepot saam huis toe en sit hom daar op ‘n mooi geel tafeldoek neer en begin ‘n skildery van hom maak. Die aandag wat hy kry, laat teepot sommer baie beter voel. Dis vir om lekker om op die geel tafeldoek te staan, terwyl die kunstenares hom skilder.
 
Uiteindelik is sy klaar. Sy neem vir teepot terug huis toe. “Ek wil die blou teepot graag weer eendag vir ‘n skildery leen,” sê sy vir die eienares. “Waarom rangskik jy nie intussen blomme in hom en sit hom op die tafel nie? Hy sal so mooi lyk daar!” “Dis ‘n gawe plan!” sê die eienares.

En nou staan teepot weer trots op ‘n geel tafeldoek op die tafel in die woonkamer waar hy altyd gestaan het, terwyl die gaste tee gedrink het. Almal sê dat hy die fraaiste teepot is wat hulle ooit gesien het. Met die blomme lyk hy alte fraai - baie mooier as die pienk teepot!

Wat het ek uit hierdie storie geleer?

* Dinge werk nie altyd uit soos wat jy gehoop, gewens of beplan het nie. Aanvaar dit en beweeg aan.
* Soos die blou teepot, moet jy ook aanpassings in jou lewe maak, maar onthou altyd, dat jy nog steeds bruikbaar is. Op 'n ander manier kan jy nog steeds 'n bydrae maak.
* Sien jou potensiaal raak, lewer jou beste, maar moet nooit dink jy is beter as die pienk teepot nie. Julle werk is albei ewe belangrik.

[Indien enige leser weet wie die skepper van die storie is, laat weet asb. dat ons erkenning kan gee.]

Thursday, 3 July 2025

Ruben se een minuut storie: Dialoog tussen 'n potlood en 'n uitveër


[Ek deel graag die storie wat Anoniem vir my gestuur het.]

POTLOOD: Ek is jammer.

UITVEëR: Waarvoor? Jy’t nie iets verkeerd gedoen nie.

POTLOOD: Ek is so jammer dat jy as gevolg van my seerkry. As ek ‘n fout maak, is jy altyd daar om dit reg te maak. Maar namate jy my foute laat verdwyn, verloor jy ‘n deel van jouself. Jy word net al hoe kleiner ...

UITVEëR: Dis waar, maar ek gee nie regtig om nie. Ek is mos gemaak om dit te doen. Ek is gemaak om jou te help wanneer en waar jy ookal iets verkeerd doen. Ek sal tevrede wees met die wete as ek eendag nie meer daar is nie en jy my met ‘n ander een vervang het, dat ek my absolute bes gedoen het. Onthou, ek is eintlik baie gelukkig in my werk. Hou nou op om bekommerd wees. Ek haat dit as jy hartseer is.

Hierdie gesprek tussen die potlood en die uitveër is so op ouers en kinders van toepassing. Dink so daaraan maats: Ouers is die uitveërs en die kinders is die potlote. Ouers is altyd daar vir hulle kinders. Hulle hanteer die foute wat die kinders maak en somtyds kry hulle selfs as gevolg daarvan, baie seer. In die proses word hulle "kleiner"en ouer en uiteindelik is hulle nie meer daar nie. Die kinders vind mettertyd iemand in hulle ouers se plek, bv. 'n  huweliksmaat, maar ouers is nog steeds daar vir hulle kinders en sal altyd alles in hulle vermoë doen om hul kinders se kommer en hartseer minder te maak of te laat verdwyn. 

Ek was nog my hele lewe lank ‘n potlood en dit maak my baie seer om my ouers, wat my uitveër is, onder my oë sien wegkrimp. Ek besef baie goed dat ek eendag net met die uitveërkrummels en herinneringe van wat ek gehad het, sal sit.

[Skrywer: Onbekend]

Monday, 30 June 2025

Leermeesters in die natuur: Arende

Die enigste voël wat dit waag om 'n arend te pik, is 'n kraai.

Hy gaan sit op die rug van die arend en byt sy nek. Die arend reageer of beveg glad nie die kraai om só energie te vermors nie. Die arend span sy vlerke net wyer en styg al hoër op in die lug. Hoe hoër sy vlug, hoe moeiliker word dit vir die kraai om asem te haal, tot hy van die arend afval weens suurstoftekort.
Moet daarom nooit jou energie vermors op die kraaie in jou lewe nie - neem hulle net na jou hoogtes en hulle sal vanself afval!

Die vyand sit ook op jou rug en byt jou nek ... maar hulle wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos dié van 'n arend (Jes.40:30)

Thursday, 24 April 2025

Ruben se een minuut storie: Die hoogmoedige muskiet


Al die diere van die bos het geweet Leeu is die sterkste en hulle was almal baie onderdanig
aan hom - almal behalwe Muskiet!

Muskiet het hom nie aan Leeu gesteur nie en sommer voor hom gaan water drink. As die ander diere met hom raas, sê hy net: “Ek kan nie verstaan waaroor julle so tekere gaan nie. Hy's tog net 'n leeu! Hy is miskien groter en sterker as ek, maar ek is glad nie bang vir hom nie. Ek sal hom enige tyd klop in 'n geveg!”

Toe Leeu van hierdie grootpratery hoor, is hy dadelik boos. “Almal weet ek is sterker as jy. Ek dink jy is 'n verspotte klein snip,” sê Leeu en draai sy rug op die grootprater. Muskiet vererg hom en steek Leeu op sy neus. “AAAU!” brul Leeu, maar voor hy nog iets kan doen, piets Muskiet hom op sy oor. Hy probeer sy oor vryf, maar Muskiet is weer reg en klits hom op die sagte pienk vleis tussen sy tone. “EINA!” skreeu Leeu woedend en klap na Muskiet. Maar Muskiet vlieg rats uit die pad. Hy gaan sit eenkant en lag alte lekker.

Moedeloos en stert tussen die bene is arme Leeu daar weg. Muskiet dink nou hy is koning! “Van nou af moet almal voor my buig,” sê die hoogmoedige muskiet.

Terwyl hy nog so grootpraat en pronk, vlieg hy KAPLAKS! in 'n spinnerak vas. “O aardetjie, help my tog!” skreeu Muskiet doodbenoud.

Spinnekop glimlag breed. Hy lek sy lippe af vir die sappige Muskiet. “Jy kon dalk vir Leeu
vir die gek hou, maar met my sal jy dit nie regkry nie!” sê Spinnekop. “Jou dwaasheid het jou
niks in die sak gebring nie!”

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Slim vang sy baas.
* Moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie.
* Mense wat dink hulle is baie belangrik, kom met 'n spoed terug aarde toe. 

[Klik HIER vir nog stories.] 

Thursday, 17 April 2025

Ruben se een minuut storie: Die reëndruppels


In ‘n wolk bokant ‘n rooidakhuisie, woon baie reëndruppeltjies. Doempel, Tiekelie, Plats en Sjalie trippel vrolik in die geut langs. Hulle het nou net van Mamma Wolk se swaar skouer afgespring.

“Ek gaan nie saam met die ander druppels afleivoor toe nie,” sê Sjalie. “Daar is te veel druppels bymekaar. Ons sal nie kan asemhaal nie!” 
“Kom ons spring oor die geut se kant,” roep Doempel uit. 
“Ons sal net moet hande vashou,” sê Plats, “anders spat ons uitmekaar daar onder op die grond.”
Die vier druppels staan langs mekaar op die geut se kant. “Kom nou, spring!” skree Doempel. Hulle beland in ‘n deurmekaar waternat bondel op die groen gras. Doempel lê heel onder en skop-skop met sy kort beentjies. Tiekelie sit regop en hou sy kop vas. Hy is die kleinste druppeltjie. Sjoe! Hulle het darem ver gespring! 
“Waarheen gaan ons nou?” piep Tiekelie.
“Kom ons volg hierdie slakspoortjie,” brom Doempel. 
“Ja, kom!” roep Sjalie uit. “Kom ons gaan kyk waarheen hierdie paadjie ons neem.” 
Die reëndruppeljties bokspring uitgelate in die krom slakspoortjie. Hulle lag en gesels dat dit skoon ‘n lekkerte is. Eensklaps word dit pik-pikdonker. Die reëndruppeljties knip hulle ogies en kyk verskrik rond. Oor hulle koppe sien hulle ‘n digte bos van donkerrooi blare wat die sonskyn wegkeer. ‘n Blaar-hand gryp Tiekelie aan die voet.
“Ek is rooi, rooi beet en ek is dors vir ‘n lekker reëndruppeltjie soos jy!” 
“Gryp Tiekelie se hand, Doempel,” skree Sjalie. “Ons moet vinnig wegkom van hierdie eetmonsters af!” 
Hulle gly af met die rivierstroompie. “Help! Help!” skree Tiekelie skielik. “Hier is nog ‘n rooi monster. Hy gaan my insluk!” 
“Dis nie ‘n rooi monster nie, jou dom druppel,” brom Doepel. “Dis maar net ‘n hond wat wil water drink. Rol hiernatoe, dan kan hy jou nie bykom nie.” 
Skielik woer-woer die reëndruppels al in die rondte saam met ‘n hele klomp ander druppels in ‘n ronde gronddammetjie. 
“Waar is ons?” kerm Tiekelie. 
“Kom”, brom Doempel, “kom ons hardloop vinnig in die rondte!” 
“Kom ons moet weg,” roep Sjalie. 
“Ja, dan met die rivier tot by die see,” sê Plats.
“By die see wag Mamma Wolk,” piep Tiekelie. 
“Daar kan ons weer heerlik tussen die sterre sweef!” 
Al vier druppeltjies trippel opgewonde en kan nie meer wag om by die see uit te kom nie. Dit was darem ‘n heerlike avontuur wat hulle gehad het, maar Tiekelie dink nie dit was so fantasties nie.
Sy sal maar volgende keer vir Mamma Wolk luister.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* 'n Mens moet nie alleen iets aanpak nie.
* Luister na diegene wat meer weet as jy.
* Luister na jou ouers - hulle wil altyd die beste vir jou hê.

[Klik HIER vir nog stories.]

Thursday, 10 April 2025

Ruben se een minuut storie: Helen Keller


Die bekende Helen Keller is meer as ‘n eeu gelede gebore. Sy was ‘n gesonde en normale baba. Sy het selfs begin praat toe sy net ses maande oud was!

Maar Helen was skaars negentien maande oud toe sy ernstig siek geword het. Al was sy nie lank siek nie, kon sy na die siekte nie meer sien nie, nie ‘n geluid hoor nie en nie ‘n woord praat nie. Sy was dus doofstom en blind.

Helen was ses jaar oud toe ‘n jong onderwyseres, mej. Anne Sullivan, by haar gesin kom inwoon het om vir Helen skool te hou. Anne was ‘n baie goeie onderwyseres en Helen ‘n baie intelligente leerder. Gou het Anne vir Helen geleer om woorde in gebaretaal te spel. Dit was ook nie lank nie, of Helen kon “praat”.

Omdat Helen baie leergierig was en ook baie deursettingsvermoë gehad het, het sy sommer gou geleer om Braille-skrif te lees. Anne wou nou hê dat Helen ook net soos ander mense moet kan praat. Sy het dit reggekry deur aan die keel en lippe van mense te voel terwyl hulle praat. Sy het die bewegings wat sy gevoel het, nagemaak en begin praat.

Sy het ook geleer skryf, perdry, roei, swem en fietsry! Na haar sestiende verjaardag het sy Universiteit toe gegaan. Anne het elke klas met haar bygewoon en wat in die klasse gesê is, het sy vinnig in Helen se hand gespel.

Helen het as student haar eerste boek geskryf. Sy het ook ‘n paar vreemde tale geleer en selfs toesprake voor groot gehore gelewer. Sy was teen die tyd ‘n wonderkind!

Dit wys aan ons, dat as iemand ‘n gebrek het, dit wel moontlik is om ‘n baie vol en gelukkige lewe te hê.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Waar 'n wil is, is 'n weg.
Dat 'n mens meer is as die struikelblokke in jou pad.
* Iemand wat ‘n gebrek het, kan wel ‘n baie vol en gelukkige lewe hê.

Thursday, 27 March 2025

Ruben se een minuut storie: Die Geel Roeibootjie


'n Man is gevra om ‘n boot te verf. Hy het sy verf, kwaste en ander gereedskap gebring en die boot helder geel begin verf, soos die eienaar hom gevra het. Terwyl hy verf, merk hy ‘n gaatjie in die romp op en hy herstel dit toe. Toe hy klaar geverf het, ontvang hy sy geld en hy vertrek.

Hy en die eienaar van die bootjie ewe gelukkig.

‘n Paar dae later kom die eienaar van die boot na die werker toe en gee hom ‘n tjek vir baie meer as die betaling vir die oorspronklike verfwerk. Die werker was verbaas en het gesê: “U het my al betaal vir die verf van die boot!”

"Maar dit is nie vir die verfwerk nie. Dit is om die gat in die boot te herstel."

"Ag! Maar dit was so ‘n klein diens … dit is beslis nie die moeite werd om my so ‘n groot bedrag te betaal vir iets so onbeduidends nie."

“My liewe vriend,” sê die eienaar,”jy verstaan ​​nie. Laat ek jou vertel wat gebeur het.”

"Toe ek jou vra om die boot te verf, het ek vergeet om die gat te noem. Toe die boot droog geword het, het my kinders die boot geneem en gaan visvang. Hulle het nie geweet dat daar ‘n gat in die boot was nie. Ek was toe nog nie tuis nie. Toe ek terugkom en sien dat hulle die boot geneem het, was ek desperaat omdat ek onthou het dat die boot ‘n gat gehad het."

Die man vee met sy hand oor sy oë. 

“Stel my my verligting en vreugde voor toe ek sien hoe hulle opgewonde van die visvang terugkeer. Toe ondersoek ek die boot en vind dat jy die gat reggemaak het! Sien jy nou wat jy gedoen het? Jy het my kinders se lewe gered! Ek het nie genoeg geld om jou ‘klein’ goeie daad te betaal nie.”

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Loop altyd die ekstra myl.
* Moenie altyd net die minimum doen nie.
* Maak 'n verskil ... wees die beste wat jy kan wees

[Outeur onbekend]

Thursday, 20 March 2025

Ruben se een minuut storie: Die naaldboom


Jare terug was daar twee broers; die ouer een was altyd gemeen en onvriendelik teenoor sy jonger broer. Hy het sy broer altyd minderwaardig laat voel. Die ouer broer het vuurmaakhout in die bos gekap vir 'n inkomste en dan het hy dit op die mark gaan verkoop. Op 'n dag het hy op 'n magiese boom afgekom. Die boom het hom gesmeek om hom nie af te kap nie en het hom goue appels in ruil belowe. Die ouer broer het in sy geestesoog gesien dat hy sommer baie gou ryk gaan word sonder dat hy harder hoef te werk. Die ouer broer was egter teleurgesteld oor die aantal appels wat die wonderboom hom elke dag gegee het. 

Hy besluit toe so in die stilligheid om wel die boom af te kap. Hierdie boom behoort meer hout as vyf ander bome te gee. Maar die wonderboom het presies geweet wat in die ouer broer se gedagtes aangaan en hy het hom met honderde naalde toegegooi toe die ouer broer onder die boom gestaan het. Die broer het in die allervreeslikste pyn op die bosgrond geval. Sy jonger broer het hom gaan soek toe hy nie sy gewone tyd by die huis opdaag nie en hom uiteindelik gevind waar hy op die grond lê en krul van pyn. Die jonger broer het hom jammer gekry en onmiddellik begin om elke naald versigtig uit te haal. Die ouer broer het uiteindelik vir sy jonger broer verskoning gevra dat hy hom só sleg behandel het. Die magiese boom het hierdie herstel van broederbande gesien en besluit om vir hulle meer goue appels te gee.
 
Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Goedhartigheid sal altyd beloon word.
* Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.

Thursday, 13 March 2025

Een minuut storie: Olifant en vriende


'n Eensame olifant wat baie alleen was ... eintlik stoksielalleen, het na vriende in die bos gesoek. Die aap het geweier om die olifant se vriend te wees, omdat die olifant nie in die bome kon rondswaai nie. Die haas het die olifant ook weggewys, omdat olifant te groot was om saam met hom in sy sitkamer te sit en tee te drink en wortelkoek te eet. Die padda het geweier om die olifant se vriend te wees, omdat olifant nie kon spring nie. Elke dier wat olifant raakgeloop het en hom gevra het om sy vriend te wees, het net nee vir die arme olifant gesê. Hierdie diere se verskonings was werklik belaglik en olifant het besef dat niemand hom vir 'n maat wil hê nie. Dit het hom nog allener laat voel ...

Die volgende dag sien olifant hoe die klomp diere in die bos baie vreesbevange is en so vinnig as wat hulle kan, weghardloop. Olifant stop 'n beer wat ook aan die hardloop is en dié sê dat daar 'n tier is wat hulle jaag en hulle wil aanval. Olifant is nie bang vir die tier nie en het die tier mooi gevra om te stop, maar die tier het vir die olifant gesê om uit sy pad te bly. Die olifant het driftig in die rigting van die tier marsjeer om die tier te skop sodat hy hom  kan afskrik.

Dit is toe dat die ander diere besef het dat dié olifant die perfekte grootte het om hul vriend te wees. Hy is selfs nie eens bang vir die tier nie.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Vriende kan enige vorm of grootte wees.
* Vriende kan mekaar help.

Thursday, 27 February 2025

Een minuut storie: Die miere en die sprinkaan


'n Gesin miere was besig om die graan wat hulle gedurende die somer gestoor het, uit te droog. Almal was kliphard aan die werk, selfs die kinders het ywerig saamgewerk. Daar was nie tyd vir speel nie. Oupa Mier het altyd gesê as jy wil eet, moet jy werk. 

'n Doodhonger sprinkaan hou die werkende miere van 'n afstand dop en sien die berge kos en besluit om hulle vir kos te vra. Oupa Mier, wat nie van ledigheid hou nie, wil by sprinkaan weet hoekom hy nie kos vir die winter gebêre het nie. Die sprinkaan het gesê hy en sy vriende was te besig om musiek te maak gedurende die somer dat hy nie nog kos kon spaar nie. Daar was eenvoudig nie tyd vir kos insamel nie. Die miere het geen simpatie met die sprinkaan gehad nie en het net aangegaan met hulle werk. 

Kan jy die boodskap van mier en sprinkaan raai?
* Daar is 'n tyd om te werk en 'n tyd om te speel.
* Kry jou prioriteite reg.
* Leer uit ander se voorbeeld.

Thursday, 20 February 2025

Een minuut storie: Die beer en die twee vriende


Twee jarelange vriende het besluit om kortpad deur die bos te loop. Aangesien dit baie gevaarlik is, het hulle mekaar belowe om die hele tyd naby mekaar te bly. Skielik word hulle grootste vrees waar! Hulle sien gelyktydig die gevreesde beer naderkom. Een vriend skarrel teen 'n boom op en laat die ander een agter. Die vriend op die grond besluit om voor te gee dat hy dood is. Die beer het nadergekom, aan sy oor geruik en toe omgedraai en weggeloop. Die vriend wat in die boom geklim het, klim af en vra vir die ander vriend wat die beer vir hom gesê het. Sy vriend antwoord: "Die beer het my eenvoudig afgeraai om 'n vals vriend te glo."

Wat het ek uit dié storie geleer?
* Ware vriende bly by jou deur dik en dun.
* 'n Mens wys jou ware kleure in 'n krisissituasie.

Thursday, 13 February 2025

Een minuut storie: 'n Glas melk


Daar was 'n arm seun wat elke dag koerante verkoop het om sy skoolgeld te kan betaal. Op 'n dag was hy só honger dat hy besluit het om kos by die volgende huis wat hy besoek het, te vra. Verskeie mense het geweier om vir hom kos te gee. Hoe verder hy geloop het, hoe hongerder het hy geword. Uiteindelik het hy by 'n huis gekom waar 'n meisie vir hom 'n glas melk aangebied het. Sy het geweier dat hy daarvoor betaal. Baie jare later het hierdie meisie siek geword. Geen dokter wou haar help nie. Sy het besluit om na die beste dokter in die buurdorp te gaan. Die dokter het haar maande lank behandel, hoewel sy geweet het dat sy nie die tipe behandeling kon bekostig nie. Toe sy die dag ontslaan word, het sy ook die hospitaalrekening gekry. In groot rooi letters het daar gestaan:  "Ten volle betaal, met 'n glas melk."

Wat het ek uit die storie geleer?
* Goeie dade word altyd beloon.
* Volg jou droom na, ten spyte van jou omstandighede.

Thursday, 30 January 2025

Een minuut storie: Die Leeu en die Muis - ‘n tradisionele fabel


Eendag beland daar ‘n piepklein muisie in die poot van ‘n yslike groot leeu. “Ek het jou gevang, Meneer Muisie, jy is myne!” brul die yslike groot leeu.

”Asseblief, Grote Leeu, koning van die diere, ek respekteer jou, moet my net nie seermaak nie. Laat my asseblief los. My kinders wag vir my en die son sak al laag. As jy my loslaat, sal ek vir jou ook eendag ‘n guns bewys”, pleit die muisie.

”Jy weet,” brul die yslike groot leeu, “ek dink nie jy sal enige nut vir my wees nie. Jy is glads te klein om vir my enige gunste te kan bewys. Maar loop maar, ek sal jou lewe spaar ter wille van jou kinders. Toe, loop nou, voor ek van plan verander.”

Die piepklein muisie skarrel vinnig weg en verdwyn in die bosse.’n Paar dae later word die Grote Leeu in ‘n strik gevang. Hy is vas en kan nie roer nie. Hy brul en brul, maar kan nie loskom nie. Hy raak verboureerd, want hy weet dat dit die einde van sy lewe kan beteken soos hy dit ken. Skielik hoor hy ‘n fyn piep-piep hier naby hom. Sowaar, dit is dieselfde muisie wat hy ‘n paar dae tevore gevang het.

”Lê doodstil,” piep die muisie, “Ek sal gou-gou die toue deurknaag, dan sal jy los wees.”

”Ag, ou Muisie,” kla Grote Leeu moedeloos, "Die toue is so dik en jou tandjies is so klein. Hoe sal jy dit regkry?”

Maar die muisie praat nie en hou net aan met knaag en sowaar, kort voor lank is daar ‘n yslike gat waardeur Grote Leeu kan kruip.

”Baie baie dankie, Kleine Muisie. Jy het vandag my lewe gered. Iets wat ek nie in my wildste drome kon dink nie.  Al is jy só baie klein, het jy my gered, toe ek magteloos was. Ek is jammer dat ek gedink het dat jy te klein is om my te help. Ek sal vir jou en jou kindertjies ‘n groot geskenk gee.” 

Grote Leeu en Kleine Muisie is tot vandag nog vriende. En hulle maak seker dat hulle hierdie storie van geslag tot geslag oordra, want groot-groot-groot-grootoupa leeu het 'n belofte gemaak.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
Jy is nooit te klein om iemand te help nie. 

Thursday, 23 January 2025

Een minuut storie: Die wolf en die skaap


Baie jare terug was daar 'n wolf wat regtig seergekry het toe hy teen 'n kwaai beer geveg het. Hy het wel die geveg gewen, maar hy het baie sleg gelyk. Hy kon nie self vir hom kos of water in die hande kry nie. Moeg, vol pyne, en baie honger het hy onder 'n bos gelê en homself jammer gekry. 

Op 'n dag het 'n skaap by hom verbygeloop. Hy het die skaap gevra om vir hom water te gaan haal, sodat hy 'n bietjie vog en krag in sy lyf kan kry om vir hom vaste kos te gaan soek. Die skaap het vinnig besef hy is die vaste kos waarna wolf verwys het, het hy vir wolf gesê dat hy nie die een is wat die  water sal gaan haal nie en het dadelik weggegaan. 

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Jy kan 'n persoon se bybedoelings raaksien as jy aandag daaraan gee.
* Om NEE te sê en pad te gee is 'n goeie skuif - doen dit net betyds. 

Thursday, 16 January 2025

Een minuut storie: Beheer altyd jou woede


Daar was 'n jong seun wat nie sy woede kon beheer nie. Hy het nie omgegee wat hy vir wie sê nie. Hy sou sê net wat hy wil, al het dit mense seergemaak. Sy pa het hom gevra om 'n spyker in die agterplaasheining in te hamer elke keer as hy kwaad word. 

In die begin van die oefening het hy baie spykers gebruik. Maar soos die tyd aangestap het, het hy al minder en minder begin gebruik. Op 'n dag het sy pa hom gevra om elke dag net een spyker te begin uittrek. Hy het nie meer kwaad geword nie. Toe hy al die spykers verwyder het, het sy pa hom gevra of hy al die gate in die heining gesien het. Die seun het instemmend geknik en gevra wat hy kan doen om die heining te herstel. Sy pa herinner hom toe daaraan dat die heining nooit weer dieselfde sou wees nie, maak nie saak wat hy doen nie. Presies dieselfte gebeur met mense.Al die lelike dinge wat ons sê en doen terwyl ons woedend is, kan nooit uitgewis word nie. Daar bly altyd 'n merk agter.

Wat het ek uit hierdie storie geleer? 
* Woede laat letsels op mense.
* Woede verbeter nie 'n situasie nie.

Thursday, 12 December 2024

Een minuut storie: Die seun wat wolf-wolf geroep het


Baie lank terug was daar 'n seun wat verveeld geraak het met sy werk. Hy moes die skape van die dorpsmense buite in die veld oppas. Hy het aan maniere gedink om sy dagtaak ‘n bietjie meer opwindend te maak.

So skree hy eendag dat daar 'n wolf tussen die skape is. Al die dorpenaars het aangehardloop gekom om die wolf te verjaag. Hulle kon egter geen wolf sien nie. Die seun het gedink dat dit baie snaaks is om mense die skrik op die lyf te jaag, maar die dorpenaars was nie beïndruk nie.

Hulle het vir hom gesê om dit nie weer te doen nie. Nie lank daarna nie, bak hy die dorpenaars weer dieselfde poets. Omdat die skape die dorpenaars se belangrikste bate was, het hulle weer aangehardloop gekom, net om te vind dat die seun vir hulle lieg.

Later daardie selfde dag sien die seun regtig 'n wolf tussen die kudde rondsluip. Hy het geskrik, opgespring en om hulp geroep. Maar niemand het hierdie keer gekom nie, want hulle het gedink hy maak nog steeds 'n grap.

Teen sonsondergang het die dorpenaars na die seun  gaan soek. Hy het nie met hulle skape teruggekeer nie. Hulle het hom huilend gevind. Hy het vir hulle gesê dat daar werklik 'n wolf was, en dat die hele kudde weg was.

Die dorpenaars was bitterlik ongelukkig, maar 'n ou man het hom kom troos en vir hom gesê dat niemand 'n leuenaar sal glo nie, selfs al is hulle eerlik.

Wat het ek uit die storie geleer?
Leuens verbreek vertroue, selfs al bedoel jy dit as ‘n grap.

Thursday, 14 November 2024

Een minuut storie: Die trotse en hoogmoedige roos


In die woestyn het 'n roos en 'n kaktus langs mekaar gegroei. Die pragtige roos sou elke kans gebruik om die kaktus te beledig. Die hoogmoedige roos het gedink dat sy mooier is as die vaal doringrige kaktus. Die ander plante het probeer om die kaktus te verdedig, maar die roos was te behep met haar eie voorkoms. Een besondere warm somer was daar nog minder water as gewoonlik in die woestyn. Die roos het haar blomme verloor en begin kwyn. Maar die kaktus het 'n bron van water vir die klein voëltjies van die woestyn geword. Die roos het die kaktus vir water gevra, en die vrygewige kaktus het geredelik ingestem.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moet nooit iemand oordeel volgens hulle uiterlike nie.
* Belangriker nog - die kaktus was nie so beledigend teenoor die roos soos die roos teenoor hom was nie. Die kaktus het die spreekwoordelike ander wang gedraai.

Sunday, 11 August 2024

Die las van aartappels

‘n Laerskooljuffrou vra haar klas om die volgende oggend aartappels in ‘n sakkie, saam te bring skool toe - een vir elke persoon wat hulle haat en hulle kan sommer die name op die aartappels skryf.

Almal het aartappels gebring. Sommige net een, maar daar was kinders met twee, drie en selfs meer aartappels in hul sakkies. Hul opdrag was om die sakkie met aartappels vir die hele week saam met hulle te dra, oral waar hulle gaan. Hulle mag glad nie sonder die aartappels wees nie, of hulle nou winkels toe of skool toe of kerk toe gaan, die sak moet saam.
Soos die tyd verby gegaan het, het van die aartappels snaaks begin ruik. Van die aartappels het begin vrot en van die kinders het daaroor begin kla. Van die kinders met meer aartappels, het ook gekla dat hul sakkies swaar raak en dat hulle moeg is om dit rond te dra.
Juffrou het hul egter aangemoedig om die taak te voltooi en almal was baie bly toe die week uiteindelik verby is.
Juffrou gee toe vir elkeen die geleentheid om te vertel hoe hulle die taak gevind het en hoor toe weereens hoe almal kla oor die verrotte aartappels se reuk wat hulle orals agtervolg het en die feit dat die sakkie swaar begin raak het. Hulle het glad nie van die taak gehou nie.
Die juffrou sê toe aan haar klas: “Die situasie is presies dieselfde as die swaar gevoel wat mens in jou hart dra as jy nie van sekere mense hou nie. Die haatgevoelens is nie goed vir jou hart nie en jy dra al daardie negatiewe emosies orals met jou saam waar jy ook al gaan. Julle het die aartappels vir ‘n week gedra, dink net hoe moeilik dit sal wees om sulke gevoelens vir ‘n leeftyd met jou saam te dra. Ons harte is baie sensitief en dit kort mooi gevoelens en gedagtes oor ander mense, om ons (en hulle) te laat glimlag en goed te laat voel oor onsself en die lewe.
Vergewe die mense wat jou iets aandoen, en laat al die negatiewe gedagtes oor hulle vry, sodat jou hart en siel met oorgawe kan glimlag vir die lewe. So maak mens meer plek vir mooi gedagtes om in jou hart pos te vat.
Here, vandag bring ek my sakkie aartappels na U toe, Vader hulle het vir my te swaar geraak en die reuk is meer as wat ek kan verduur. Verwyder asseblief hierdie haatgevoelens, verwyder my gevoelens teenoor ander wat my kwaad aangedoen het, help my om hulle te vergewe en hulle vry te spreek.
[Dankie, Rosetta vir die aanstuur. Kliek HIER vir nog gedagtes.]

Thursday, 4 July 2024

Verhaal: Wolf en jakkals

Jakkals het geweet dat Wolf vir hom smoorkwaad is; daarom het hy besluit om liewer uit sy pad te bly. Hy weet ook dat hyself die oorsaak daarvan is. Vermyding is 'n soort tydelike vrede, of dit is wat hy homself wysmaak. Maar hierdie taktiek werk ook nie vir altyd nie. Daarvoor is die wêreld heeltemal te klein. En so gebeur dit toe ook dat Jakkals onverwags in Wolf vasloop. Nogal op die wal van 'n rivier ... Wolf wys sy groot tande en sê wreed: "JOU LAE LUIS! Gewetenlose s-k-e-l-m! Vanaand gaan ek met jou afreken. Ek wag al baie lankal vir hierdie dag. Moenie dink jy gaan weer wegkom nie."  

Jakkals skrik groot, maar hy wys dit nie. Hy sit sy mooiste smile op sy gesig en sê: "My liewe oom Wolf, ek soek al twee dae lank na Oom. Koning Leeu vier fees hier oorkant die rivier, en hy het ons ook na die eetmaal genooi. Daar sal die heerlikste wildsvleis en bene wees om aan te smul. En as Koning Leeu feesvier, doen hy dit op groot skaal."

Toe Jakkals van die heerlike kos vertel, en hy is so oortuigend vriendelik, besluit Wolf om eers na die fees toe te gaan. Waarom sal hy nie eers pret hê en dan by plig uitkom nie? Daarna sou hy met Jakkals afreken. Tyd is mos aan sy kant. "Maar hoe sal ons deur die rivier kom?" vra Wolf baie versigtig. "Jy weet mos ek kan nie swem nie." Hy besluit dat Jakkals se antwoord ook sommer 'n toets vir Jakkals en sy gesindheid is.

"O, dis maklik," antwoord Jakkals. "Klim gou op hierdie stomp aan die kant van die water en hou aan my stert vas terwyl ek deurswem. Jy weet self ek is 'n baie goeie swemmer. Op dié manier is ons in 'n japtrap aan die oorkant van die rivier. Maklik! Ek sien al die vleis in my geestesoog."

Wolf spring op die stomp en ontdek tot sy ontsteltenis dat dit 'n krokodil is. Verskrik val hy in die water, waar Krokodil hom vinnig aan die stert gryp. Met 'n groot gesukkel en gespartel geluk dit hom om homself te bevry, maar 'n stuk van sy stert bly in die slag. Wolf is oombliklik kwaad, eintlik woedend, maar teen dié tyd was Jakkals skoonveld.  

Wolf besef te laat dat hy nie na die vriendelike praatjies van Jakkals moes geluister het nie. Jakkals is 'n vals vriend en gee nie regtig om vir sy medemens nie, verder is hy ook nie hulpvaardig nie - hy gee net voor. Dit gaan altyd net oor sy eie belange en wat hy uit die vriendskap kan kry! Jakkals is 'n vals vriend en hy wat wolf is, moet dit vir die res van sy lewe onthou. Jakkals is nie geloofwaardig nie.  

Die les: Moenie 'n jakkals wees nie.