Showing posts with label Sanette Hansen. Show all posts
Showing posts with label Sanette Hansen. Show all posts
Thursday, 24 September 2026
Thursday, 14 May 2026
Hemelvaartdag: 'n Dankie-Donderdag in vele opsigte
![]() |
| Hemelvaartdiens: Deurkollekte - Christina Kiddie |
![]() |
| Deel van KJSS-personeel |
God se voorsiening en Laerskool Eureka se omgee-harte
op Hemelvaartdag
tasbaar in 'n kollektebordjie!
Dit bring hoop, skep geleenthede en help bou aan 'n beter toekoms!
'n Yslike groot dankie aan dr. Etienne Venter, personeel en elke
Eureka-leerder en -ouer dat julle OMGEE
in dade omsit.
Monday, 5 May 2025
Ruben skryf spesiale verjaardagwense vir tannie Christelle
Ek skryf net 'n baie kort briefie om ons tannie Christelle terug te verwelkom by die werk. Ek het die laaste ruk aanmekaar vir julle geskryf en ek besef dat te veel van 'n goeie ding, nie goed is nie. Tog wil ek nie hierdie kans deur my vingers laat glip om vir tannie Christelle duidelik te laat verstaan dat ons haar gemis het en dat haar plek in die kantoor en in ons harte leeg was nie.
Ek, in my hoedanigheid as hoof van sekuriteit, het haar regtig gemis. Daar is so baie dinge wat ek graag met haar sou wou bespreek, veral as ek hond se gedagtes gekry het, maar dan het ek maar op my instinkte staatgemaak. Ek het hierdie afgelope week ook agtergekom dat jy nie slapende honde moet wakker maak nie, want jou eie honde byt die seerste.
Dankie, tannie Sanette, dat jy nie tannie Christelle se verjaardag vergeet het nie en dat jy vir haar haar gunstelingkoek gebak het. Ek, Tommie en ouma Annie het koppe bymekaar gesit om vir jou spesiale wense te skryf. Tannie Sanette het ons gehelp met al die byvoeglike naamwoorde.
'n Verjaardag is 'n sprankeling
wat jý alleen kan voel ...
'n Verjaardag is 'n warmte
wat jý alleen gewaar ...
'n Verjaardag is genoeglikheid
wat jý alleen verstaan ...
'n verjaardag is 'n dag,
net 'n bietjie sonniger,
en helderder,
'n bietjie liefliker
en baie gelukkiger
as 'n gewone dag ...
en die beste van alles ...
dis alles joune!
Liewe tannie Christelle, ons hoop dat jou verjaardag saam met jou familie baie spesiaal was en dat jy met ons definisie van 'n verjaardag saamstem.
Ruben-groete tot volgende keer!
Labels:
Brief,
Charlotte,
Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum,
Hond,
Inwoner,
Karaktereienskappe,
KJSS,
Ruben,
Ruben-brief,
Sanette Hansen,
Verjaardag,
Verjaardagkoeke,
Verjaardagwense
Saturday, 10 August 2024
Ruben groet hartsmense
Ek het regtig lank laas vir julle geskryf, maar ek is nogal besig, as nie-amptelike sekuriteitsbeampte het ek nie regtig baie tyd op pote nie. Ek blaf so af en toe vir julle van my gedagtes of as ek sien dat julle nou 'n reël of twee oortree, maar al my blaffery val op dowe ore. Daarom het ek maar besluit om weer die pen op te neem om vir julle te skryf wat ek op my hart het.
31 Julie, het oom Kleinbooi sy laaste dag by ons gewerk en nou is hy met pensioen. 17 jaar is 'n lang tyd en hy het baie mense en kinders sien kom en gaan. Baie van hulle het, terwyl oom Kleinbooi onkruid uit die akkers getrek het, vir hom vertel van die onkruid in hulle lewens. Dan het oom Kleinbooi op sy stil manier geluister en met die wysheid wat ouderdom meebring, vir hulle gesê wat hy dink. Ek weet dat op sy manier het hy baie goeie raad vir die outjies uitgedeel. Oom Kleinbooi het egter net een raad vir onkruid gehad en dit is om dit met wortel en tak uit te roei. Ek is maar 'n paar maande hier, en my lekkerste kuierplek is in die tuin. Ek en oom Kleinbooi het al kopstukke gesels en ek het ook al gehoor hoe julle outjies met hom praat.
Oom Kleinbooi, ek gaan ons geselsies mis, maar ek gun vir Oom die rustiger tempo. Geen gejaag om betyds by die werk te kom nie en ook nie 'n gesukkel met die fiets in die koue nie. Maar lank stilsit is ook nie so lekker soos wat dit klink nie - as dinge te stil en eensaam by die huis word, kom kuier gerus vir ons.
Buiten oom Kleinbooi, moes ons ook vir tannie Kagi groet. 'n Vrou van goeie deugde. Sy is al 20 jaar deel van die personeel. 'n Ywerige en flukse tannie wat nie staan en gesels en allerhande praatjies maak nie. Sy was taakgerig en het gesorg dat elke kind se klere skoon gewas, gestryk en netjies opgevou is. Dis 'n groot werk, maar tannie Kagi het elke dag, vir 20 jaar lank, haar werk met nuwe ywer en 'n glimlag op haar gesig aangepak. Ek hoor my ma stem as ek aan haar volgende woorde dink: Sy is nog van die ou soort, hulle word nie meer gemaak nie. Vandag se jongmense weet nie wat harde werk is nie.
Maats, julle kan dan net dink hoe skuldig ek voel, want ek val mos onder die groep wat sy reken nie meer hard kan werk nie. Ai, dis dan wanneer ek sommer so 'n ekstra rondte op die terrein doen, my stem verhef en so 'n paar harde blawwe gee dat almal in die omgewing kan hoor ek is op my pos.
Terug by tannie Kagi - sy was altyd so trots op haar kinders as hulle in die oggend skool toe gaan, en hulle so netjies uitgevat is in hulle kraakskoon skoolklere. Sy het hulle met 'n tevrede kopknik agterna gekyk en dan die strykyster met mening vasgevat. Sy het allerhande rate geken hoe om kolle uit klere te kry - jy kan maar sê sy was 'n kol-uithaal-deskundige.
Dit is so jammer dat tannie Kagi se gesondheid nie meer na wense is nie. Tannie Kagi, gaan rus nou goed, makeer die pas en gee aandag aan tannie se gesondheid. O ja, en luister mooi na wat die dokter sê - hy weet wat help en wat help nie. Hy is mos die gesond-word-deskundige. Kom kuier gerus vir ons as die verlange te veel word.
Die Bybel sê mos daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan en Donderdag het ons klomp oom Kleinbooi en tannie Kagi op 'n gepaste wyse gegroet en hulle verras met hulle geskenke!
Daar is egter ook 'n ander minder aangename manier om te groet en dit is om afskeid te neem van iemand wat nie meer met ons is nie. Ons liewe tannie Sanette, ons huisma, se man is gedurende die vakansie oorlede. Baie van die inwoners het nie geweet hoe om hierdie nuus te hanteer nie en het by my in die tuin kom sit en my kop gevryf terwyl die trane oor hul wange geloop het. Die diens is by ons in die saal gehou en daar het die boodskap tot ons deurgedring dat die oom Mike Hanssen, ons huispa, die handyman van Christina Kiddie, se lewensirkel voltooi is. Nooit weer sou ons hom met 'n tang of saag of stuk gereedskap dinge sien heelmaak en regmaak nie. Party dinge in die lewe kan eenvoudig nie met gereedskap reggemaak word nie - verlange, hartseer, gemis, is maar enkele daarvan.
As ek aan oom Mike dink, dan staan sy sin vir humor uit - die kreukellagplooitjies langs sy oë verklap dit. Hy was 'n goeie storieverteller en 'n mens het heimlik gewens dat as jy hom raakloop, hy vir jou 'n storie gaan vertel - daar was humor, maar ook weggesteekte lewenslesse in sy stories.
Tish was oom Mike se skaduwee, sy bruin labrador wat die appel van sy oog was - ek ken die tekens, ek weet, ek is mos tannie Christelle se oogappel!
Oom Mike, jou sagte hart, jou heerlike humor en jou raakvat en regvat, word reeds gemis en gaan nog meer gemis word.
Maats, party van ons se lewensirkel gaan klein wees en ander s'n gaan groter wees, dit hang van ons groetouderdom af.
En daar tydens die diens het ek besef dat 'n mens jou lewe betekenisvol moet maak. Leef 'n lewe van betekenis, sodat jy eendag met 'n voltooide lewe kan sterf. Dit is tog die sin van die lewe. En dit, liewe Maats, is my boodskap vir elkeen van ons - pak die lewe aan, met al sy opdraandes en afdraandes, bou aan jou lewensirkel - meet jou lewe aan die lewe van hulle wat jy aangeraak het en 'n verskil gemaak het.
Op hierdie ernstige noot groet ek eers tot 'n volgende keer.
Ruben-groete!
Labels:
Brief,
Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum,
Dood,
Handyman,
Hond,
Inwoner,
Karaktereienskappe,
KJSS,
Kleinbooi,
Mike Hansen,
Ruben,
Ruben-brief,
Sanette Hansen,
Sielkundige,
Tannie Kagi
Subscribe to:
Posts (Atom)










