Friday 21 June 2024

Ruben bewonder WOW se vier vennote


Liewe Alida, Diané, Melaine en Wynand
 
Gewoonlik skryf ek direk vir my maats 'n brief (ek probeer dit op 'n weeklikse basis doen) en dan wys ek hulle op voorregte en omgeeliefde wat ons so van die gemeenskap kry. Dinge wat wys dat die wêreld nog bemoeienis met ons maak, want glo my, ons het ons kwota probleme en bekommernisse, maar ons vreugdespoedmeter se naald huiwer party dae sommer gevaarlik in die rooi. Ons bespreek ook probleme, persoonlikhede, uitdagings en toekomsdrome, maar vandag rig ek hierdie brief direk aan julle vier met WOW-harte van goud.

Dit was vir ons só lekker dat ons ons hande in die kombuis kon taai mors met die kolwyntjieversierings wat stroop-stroopsoet op ons tong 'n lêplek gekry het. Party van ons se kreatiewe kombuistalente is nie vergelykbaar met ander nie, maar gelukkig het ons 'n nissie gevind by die vaardigheidseise wat die speletjies aan ons gestel het.

Dankie dat julle saam met ons op die grond gesit het en op julle knieë gekruip het om saam met ons hierdie speletjies te speel. Dit was regtig lekker om tyd saam met julle deur te bring en te weet julle geniet dit net soveel as ons.

Dankie vir al die persoonlike geskenke wat volgens elkeen se ouderdom gekoop is. Saam-saam is elkeen se geskenk oopgemaak, bewonder en mee gespeel. Dis só spesiaal - ons is as individue raakgesien. Dankie vir al die ander speelgoed wat vir die speelkamer geskenk is. Speeltye het voorwaar 'n nuwe blaadjie omgeslaan. 

Dankie dat julle die dogtertjies se naels geverf het en toe sommer ons almal se hare so 'n bietjie kleur gegee het. Was ek nou verras om te sien 'n mens kry kryt om hare te kleur? My mond het letterlik oopgehang. Ek moet sê ek is verstom oor wat 'n mens deesdae kry - ek wil nou regtig nie klink soos 'n ou hond nie, maar ek het baie anders grootgeword. Ek besef ons het ure buite gespeel - gehardloop, gespring, geklim en geval!!  

Hierdie is een van die oggende wat ons op ons onthoukalender afgemerk het. Die dag het sommer vinnig korter geword. Speeltyd is ons lekkerste tye hier by die koshuis en hierdie vakansie wil ons geen kans verspeel om ons speeltye sinvol te gebruik nie. Daar het soveel lekker dinge gebeur en ons sien uit na 'n derde kwartaal waar ons hierdie dinge met ons skoolmaats gaan deel. Lemoenkegelbal is nie almal se forté nie, maar ons gaan aan ons tegniek werk. Met julle volgende kuier gaan ons spanne beter wees - hou ons maar dop. 

Ek glo nie my speelmaats besef wat die diepte van so 'n oggend behels nie, maar ek weet dat dit belangrik is vir ons groot- en fynmotoriese ontwikkeling, ook die fisiese, kognitiewe, sosiale en emosionele ontwikkeling wat speel-speel baatvind by sulke aktiwiteite.

Soos julle duidelik uit hierdie brief van my kan agterkom, help ek deur speelterapie om dinge weer in plek te kry. Daarom dat ek uit my hondehart vir julle wil bedank, maar ook uitnooi om gereeld te kom kuier, al is dit net om op die bankie te sit en gesels en mekaar beter te leer ken. Simpatie en empatie is twee begrippe waaraan ons nog hard sal moet werk.

Vreugde en baie voorspoed met julle WOW-projek. Mag dit net van krag tot krag gaan.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

No comments:

Post a Comment