Sunday 16 June 2024

Binnekringnuus: Saterdag het speel-speel te vinnig verbygegaan


Korrespondent: Die eerste Saterdag van die vakansie was 'n wen-Saterdag. Ons kon nie wag vir opstaantyd nie. Ons het die vorige dag die mooiste poppe gekry, elkeen deftig uitgevat in gehekelde wintersuitrustings. Getooi in bypassende hoed en skoene, het hulle in ons lewens en harte ingestap.


Tannie Christelle het gesê dat ons Saterdag materiaal vir kombersies gaan kry en materiaal om boksies oor te trek vir bedjies. En daarom kon ons nie wag vir Saterdag nie. Tannie Katrien het belowe dat sy vir ons gaan help om popklere te maak. Wat 'n vooruitsig! 'n Pop met meer as een stel klere!

Ons het getoor met boks en lap. Nooit geweet dat 'n boks in 'n bed kan verander nie en dat lap die boksvoorkoms 'n goeie meubelhupstoot kan gee nie. Matrassies en kombersies is gemaak en teen halfdag was ons mevrouens reg vir kuier! Maar eers moes elkeen 'n naam kry ... Prinses, Maatjie, Sara, Katie, Anna, Maria en Christelle is onder andere van die name wat die paal gehaal het.


Elke baba het 'n unieke persoonlikheid. Klein Palesa is besonder soet, slaap deur, probeer nie uit die kot klim nie en gooi geen tantrums nie. Ek hoor in Afrikaans praat mense van 'n vloermoer, maar dis 'n verskriklike woord vir so 'n fraai poppedyntjie. Ons kon sommer dadelik sien dat hierdie ma-kind-verhouding baie spesiaal is en dat haar ma baie liefdevol en verdraagsaam is en dat hierdie sagtheid deel gaan wees van klein Palesa se geaardheid.  

Daar lê sowaar 'n hele drie weke voor wat ons tyd kan afstaan aan ons kinders. Met hulle gesels, speel, rondkuier en vir hulle in die aand, voor slaaptyd, 'n storie kan lees. Hierdie lekker is langer as 'n vinger.

No comments:

Post a Comment