Saturday, 1 June 2024

Terugflits: Hoekom vol seerkry?

As daar een vraag is waarop ek geen antwoord het nie, is dit dié van 'n vader en moeder oor hoekom hul kinders gekies het om 'n sekere pad te loop. Daardie vraag is maar soms 'n seer en bitter vraag.

So begin ek eenkeer met 'n ma gesels en haar heel eerste sin is: "Ek verstaan nie hoekom het hy daardie pad gevat nie."

Ons sou daarna baie gesels en baie wonder, baie spekuleer, dinge ontleed en analiseer, maar keer op keer moes ons erken dat ons nie die antwoord hierop gehad het nie. Ons kon nie verstaan dat 'n kind wat so mooi geleer het van die pad waarop hy moes loop, so anders gekies het nie.

Dit was vir ons onverklaarbaar dat iemand wat die ander weë ken, juis doelbewus daarteen geprotesteer het. Nie omdat pa of ma kwaai was nie, nie omdat daar 'n tekort aan iets was nie, nie omdat iemand of iets die skuld kon kry nie. Doodgewoon omdat hy gekies het om op die pad te loop.

Wat die hartseer in so 'n geval vererger, is wanneer ouers hul kinders teen die verkeerde pad en die slegte keuses gewaarsku het.

Wanneer die gevolge van die verkeerde keuse uitgespeel het, moet 'n mens maar oor begin. Sommige kies daarna reg, ander kies om weer dieselfde pad te loop.

Die ma wat bogenoemde openingswoorde so gesug het, was al moedeloos. Vir 'n hoeveelste keer moes ek haar oplaai, en met hom 'n gesprek probeer voer. Sy antwoord was egter altyd: "Dit is my keuse."

Toe ek die dag sy begrafnisdiens lei, ná sy dood weens 'n oordosis dwelms, het ek aan sy woorde gedink: "Dit is my keuse."

Ek het ook gedink aan sy ma se woorde: "Ek verstaan nie hoekom my kind hierdie pad gevat het nie." 

[Uit: Hannes Noëth, Twyfelhoekie, Noordkaap]

No comments:

Post a Comment