Wednesday 5 June 2024

Die gedagtes van 'n tiener: Wysheid waar is jy?

Wysheid is die ma van groot nasies ...

Die bymekaarmaker van ons wêreld. Jy is ons vreugde ... ons ... jou kinders. 

Jy is die rede dat ons glo ons kan enige iets doen. Met jou aan ons sy, is daar nie iets soos 'n verlore siel nie. Jy is 'n vredemaker. 'n Boekmerk vir al ons probleme ...

Jy is nederig ... elkeen weet van jou en is bewus van jou, maar jy beweeg graag anoniem. Jy is die oorsaak en die beginpunt van baie gedagtes en gesprekke. Met jou nie in ons midde nie, is ons taamlik stomgeslaan, en vang ons allerhande stommiteite aan. Daar is selfs mense wat na ons as stommerike verwys. Vrae maalkolk deur my moeë brein ...

In alles is daar wysheid, maar alles het nie wysheid nie. 'n Mossie het mossie-wysheid, maar hy het nie die wysheid van 'n arend nie. Elkeen het die potensiaal om jou te hê, maar kla en ontevredenheid is nie is nie vriende van wysheid nie. En die meeste van ons is uitstekende klaers. Ons is ontevrede oor alles. Niks is volgens ons nukke en grille nie. 

Ouer mense sit met 'n klomp wysheid, maar ons wil nie daarna luister nie - ons noem dit oumenspraatjies - en ons is tog mos jonk en modern. Hierdie is die vrae wat deur my kop maal en wat ek nie durf waag om my maats te vra nie - hulle sal dink dat ek iewers 'n skroef los het.

Ek kom agter dat wysheid nie meer so logies deel is van mense nie. Met jou nie deel van die mensdom nie, kan baie min hul eie probleme oplos. Probleme word net al meer, maar ook al minder oplosbaar. Het die mensdom die insig om met wysheid na 'n probleem te kyk, verloor?

Die wêreld is sonder 'n boekmerk. Die melancholiese eentonigheid van 'n wêreld sonder jou is duidelik sigbaar. Jy is belangrik in ons lewe. Ons hoop maar dat ons ook belangrik is in joune ... Maar waar is jy?

Die wêreld is sonder insig en eentonig kleurloos. Mense weet niks nie. Hulle ploeter voort sonder 'n rots waarop hul kan staan. Hulle is 'n ankerlose bootjies in die suidewind van die lewe. 

Depressief is die wêreld waarbinne ek staan. 'n Wêreld waar elkeen jou nie wil hê as metgesel nie. Baie is bang vir jou ... bang vir die waarheid, bang om hierdie wêreld se ballades in die oë te kyk. 

Die wêreld is bittersoet vir hulle wat nou daarin leef. Elkeen sien die soet raak, maar soet is nie die waarheid nie ...        

No comments:

Post a Comment