Wednesday 26 June 2024

Matilda Muis

Sy is aktief in die nag. Sy maak huis skoon, sit die vuilgoedsakke uit, hang haar wasgoed op die draad  en dan doen sy bedrondtes - amper soos 'n dokter wat saalrondtes doen, maar die dokter se werk is nie naastenby so gevaarlik soos hare nie. Sy beweeg grasieus en geluidloos op haar 20 tone. 

Hierdie skugter, geheimsinnige en waaksame inwoner het iewers gedurende die jaar haar intrek in Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum geneem. Wanneer dit gebeur het, kon nog nie vasgestel word nie en nog minder waar sy presies bly. Die enigste leidraad wat Matilda sover gelos het, is dat sy nog nie klaar met haar bouwerk is nie. Boumateriaal is skaars.

Sy handhaaf egter 'n uiters lae profiel, maar dat sy 'n groot liefde vir kinders het, blyk duidelik uit haar optrede. Sy moet blykbaar al 'n geruime tyd doenig wees, sonder dat sy 'n spoor gelos het. Twee van die jong inwonertjies het met groot opgewondenheid een oggend aan ontbyttafel oor die vreemde verwikkelinge gepraat, maar dis eers toe sy 'n briefie in Damion se skoen gelos het, dat die ander werklik van haar bewus geword het. Sy het 'n bewustelike papierspoor gelos, (as ons in vandag se jargon praat) en op hierdie wyse haar teenwoordigheid geruisloos bekend gemaak. 

Hierdie misterieuse werkswyse het die inwoners baie opgewonde, maar ook aan die raai. Daar is nou al selfs weddenskappe wie haar eerste gaan raaksien. Maar ... Matilda ... werk saam met Klaas Vakie en voordat Matilda haar voordeur agter haar toesluit, maak Klaas Vakie seker dat al die inwonertjies in droomland is, so nie, strooi hy vinnig slaapsand in hulle oë. 

Sy kies haar wandeltye en loopplekke baie goed, want met Ruben en Krummels in die omgewing is dit nie maklik om ongesiens deur die koshuis te beweeg nie. Hierdie vlugvoetige viervoetige inwoner maak op haar sesde sintuig staat om haar woonstel elke aand ongedeerd en ongesiens te bereik.  

Die foto's van die briefwisseling vertel hul eie verhaal.

Plaaslike verslaggewer

No comments:

Post a Comment