Thursday, 8 January 2026

Ruben se een minuut storie: Optel se nuwe huis

Optel was 'n bitter klein ou skilpadjie toe hy en sy boetie vir 'n naweek by hul ouma gaan kuier het. Hulle was baie opgewonde, want hulle weet dat ouma nie so streng soos mamma is nie. Ouma vat gewoonlik 'n middagslapie en dan kan hulle twee lekker rondloop.

Hulle het deur die veld geloop en omdat dit afdraand na die spoorlyn se kant is, het dit baie vinniger gegaan as wat hulle verwag het. So halfpad in hulle rondlopery, besef Optel dat as hulle teruggaan na hulle ouma toe, sal hulle opdraand moet loop en dit gaan baie baie langer vat. Hy steek onmiddellik in sy vier spore vas en draai sy kop stadig na agter. Dis belangrik om te weet hoe ver hulle moet terugloop. Toe hy die afstand sien, skrik hy sy kop terug in sy dop. Sy boetie is haastig op pad en kom nie eens agter dat sy broer nie meer aan sy sy is nie.

Optel probeer sy broer se aandag trek - hy roep en roep, maar die trein wat op daardie oomblik teen 'n verbysterende spoed by hulle twee verbysnel, doof die kommerwekkende roep van Optel uit. Optel besluit om om te draai. Met of sonder sy boetie. Ten minste weet hy waar sy broer hom bevind en kan hy sy ouma oortuig om saam met hom te loop om sy avontuurlustige broer te kry.

Hy was nog nie op spoed nie, toe hy voel hoe 'n kragtige hand hom optel. Sonder om te kyk, trek hy hom terug in sy dop en met 'n kloppende hart luister hy of hy enige iets kan uitmaak. So uit die hoek van sy oog, sien hy sy boetie in die man se ander hand. Ten minste is hulle twee saam in die gemors. Hy wonder of sy ouma al wakker is. Hy wonder ook of sy na hulle soek en sal sy weet watter kant om te loop. Hy is so spyt dat hy maar nie net rondom die pappot gevroetel het nie. En hy wonder ook of dit sal help om te bid as jy deur jou eie toedoen in die moeilikheid beland het.

Hulle twee beland in 'n donker sak en hulle weet moeilikheid is hulle voorland. Wat hulle nie weet nie, is dat hulle twee op die swartmark verkoop gaan word. Tussen 'n magdom mense en groot lawaai, kom daar 'n lang bebaarde man na hulle aangestap. 

Onderhandelinge vind plaas en die man van die sak, oorhandig hulle twee aan hul nuwe eienaar. Hulle voel 'n bietjie meer gerus, maar besef dat hulle lewe vir altyd verander het. Hoe op aarde gaan hulle weer hulle ouma kry en wat gaan hulle ma sê.

Hulle weldoener sit hulle op 'n lowergroen grasperk neer. Maar o wee, hy het 'n yslike hond wat baie belangstel in hulle twee. Sy boetie wil nog weghardloop, maar sy voet haak vas en die hond kry hom in 'n stewige greep beet. Gelukkig hou hy kop en hy byt die hond 'n geniepsige byt aan die onderlip. Hond se kind laat val sy broer, maar hy het seergekry. Hulle moet maak dat hulle hier wegkom, terwyl Hond nog in pyn verkeer.

Twee huise verder kom hulle af op 'n pragtige tuin, met feetjieliggies, 'n voëltjiebad en hope heerlike groen plante waaraan hulle na hartelus kan kou. Daar is ook 'n hond in dié erf, maar jy kan aan haar houding sien dat sy 'n baie statige ou dame is. Sy jaag nie voëls nie en kyk katte uit die hoogte uit aan. Hulle weet nie presies wat haar doel is nie, maar hulle voel ten minste nie bedreig nie.

Arme boetie, met 'n stukkende dop en harsingskudding van die val, het hy net al swakker en swakker geword, totdat hy sy laaste asem snikkend uitgeblaas het. Sy laaste woorde aan my was dat ons nie só ongehoorsaam moes gewees het nie.

Nou is ek alleen. 

Stoksielskilpadalleen.

Gelukkig het ek al maats gemaak met die statige dame van die erf, en die vriendelike vrolike dame van die huis. Hulle het altwee het gesê ek is meer as welkom om saam met hulle daar te bly. Tot tyd en wyl ek nie ander planne bedink het nie, gaan ek eers van hulle gasvryheid gebruik maak. 

Tot weersiens!

Wat het ek uit hierdie storie geleer:

* Moenie by jou ouma gaan kuier met ander planne in jou kop nie.
* Moenie jou ouma se goedheid misbruik nie. Dink net hoeveel stres en kommernisse laai jy op jou
   ouma se skouers. Alles onnodig.
* Moenie ongehoorsaam wees nie, want niemand hou van 'n ongehoorsame skilpad nie.
* Moenie oop en bloot rondloop dat almal jou kan raaksien nie. Sluip van bossie tot bossie vir jou eie 
   skilpadveiligheid.
* Nie alle mense is vriendelik nie en beslis is alle honde ook nie vriendelik nie.

No comments:

Post a Comment