Thursday, 24 April 2025

Ruben se een minuut storie: Die hoogmoedige muskiet


Al die diere van die bos het geweet Leeu is die sterkste en hulle was almal baie onderdanig
aan hom - almal behalwe Muskiet!

Muskiet het hom nie aan Leeu gesteur nie en sommer voor hom gaan water drink. As die ander diere met hom raas, sê hy net: “Ek kan nie verstaan waaroor julle so tekere gaan nie. Hy's tog net 'n leeu! Hy is miskien groter en sterker as ek, maar ek is glad nie bang vir hom nie. Ek sal hom enige tyd klop in 'n geveg!”

Toe Leeu van hierdie grootpratery hoor, is hy dadelik boos. “Almal weet ek is sterker as jy. Ek dink jy is 'n verspotte klein snip,” sê Leeu en draai sy rug op die grootprater. Muskiet vererg hom en steek Leeu op sy neus. “AAAU!” brul Leeu, maar voor hy nog iets kan doen, piets Muskiet hom op sy oor. Hy probeer sy oor vryf, maar Muskiet is weer reg en klits hom op die sagte pienk vleis tussen sy tone. “EINA!” skreeu Leeu woedend en klap na Muskiet. Maar Muskiet vlieg rats uit die pad. Hy gaan sit eenkant en lag alte lekker.

Moedeloos en stert tussen die bene is arme Leeu daar weg. Muskiet dink nou hy is koning! “Van nou af moet almal voor my buig,” sê die hoogmoedige muskiet.

Terwyl hy nog so grootpraat en pronk, vlieg hy KAPLAKS! in 'n spinnerak vas. “O aardetjie, help my tog!” skreeu Muskiet doodbenoud.

Spinnekop glimlag breed. Hy lek sy lippe af vir die sappige Muskiet. “Jy kon dalk vir Leeu
vir die gek hou, maar met my sal jy dit nie regkry nie!” sê Spinnekop. “Jou dwaasheid het jou
niks in die sak gebring nie!”

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Slim vang sy baas.
* Moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie.
* Mense wat dink hulle is baie belangrik, kom met 'n spoed terug aarde toe. 

[Klik HIER vir nog stories.] 

No comments:

Post a Comment