Eendag sê die stadige skilpad vir haastige Hasie: “Ek wed jou ek sal jou wen as ons twee resies hardloop.”
Die hasie kyk verbaas na skilpad en dink by homself: “Ek het seker nie reg gehoor nie. Glo hierdie trapsuutjies nou regtig hy sal my wen? Weet hy nie hoe vinnig ek kan hardloop nie? Hier is nie ‘n hond op hierdie plaaswerf wat my kan vang nie! Die man is beslis van sy sinne beroof. Ek sal lag-lag wen en dan gaan skilpad op sy neus kyk.”
”Nou goed,” sê Haas, “ons kan môre resies hardloop en dan kyk ons wie kom eerste by die wenstreep aan.”
Die volgende oggend het al wat dier is bymekaar gekom om hierdie resies dop te hou. Hulle weet sommer dat Haas stof in Skilpad se oë gaan skop en dan gaan Skilpad nog meer in sy dop gekruip wees.
Skilpad en Haas staan gereed.
”Op julle merke, gereed en weg is julle!” roep die olifant en hy blaas die fluitjie so hard dat dit deur die bos weergalm. Haastige Haas spring met ‘n vaart in die pad.’n Groot stofwolk agtervolg hom en hy verdwyn heeltemal daaragter. Skilpad stap maar voetjie vir voetjie aan. Hy is baie rustig en glimlag vir homself. Hasie dink toe dat hy genoeg tyd het om nou eers ‘n bietjie te rus en ‘n bietjie te eet. Hy gaan lê uitgestrek in die koelte van ‘n ou groot boom en begin knibbel aan die soet groen gras wat daar naby hom groei. Dit smaak heerlik, dink hy, en lê agteroor. Hy lê so lekker dat hy insluimer en skoon vergeet van ou Skilpad. Skilpad loop bult-op en bult-af. Hy kyk nie regs nie en ook nie links nie. Hy hou net aan. Uiteindelik is hy twee treë van die wenstreep af. Dis toe dat Hasie wakker skrik en onthou van die weddenskap en die resies! Hy spring soos ‘n weerligstraal daar weg, maar te laat! Skilpad is oor die wenstreep!
Al die diere juig en klap hande vir die wenner, want hulle ken Skilpad as 'n dier met geduld, deursettingsvermoë en iemand wat ander diere soos 'n boek kan lees.
”Jy sien,” sê Skilpad, “dit is waar wat hulle sê: HOE MEER HAAS, HOE MINDER SPOED. Jy het gedink jy is vinniger as ek en toe het jy te gerus geraak.”
Skilpad stap weg met ‘n glimlag wat van oor tot oor strek.
* Geduldige mense is suksesvoller in die lewe.
* 'n Grootprater is nie altyd so goed soos wat hy dink hy is nie.
* Deursettingsvermoë is een van die belangrikste eienskappe op jou lewensreis.
No comments:
Post a Comment