Thursday, 23 October 2025

Ruben se een minuut storie: Die dwase dief


Baie baie jare terug, was daar 'n baie ryk handelaar wat in 'n groot paleis in Akbar in Indië gebly het. Hierdie man het 'n groot personeel gehad wat vir hom gewerk het. Die ryk man het op 'n dag besef dat een van sy personeellede van hom gesteel het.

Hy besluit toe om na Akbar se hof toe te gaan in die hoop om hulp van Raja Birbal te kry. Birbal was 'n baie wyse en slim man. Inteendeel, hy was wêreldbekend vir sy skerpsinnigheid en intelligensie.

Nadat die ryk man sy saak gestel het, het Birbal 'n plan bedink hoe om die skuldige uit te vang sonder dat hy besef sy optrede gaan hom verraai. Hy het vir al die handelaar se dienaars stokke van dieselfde lengte gegee. Hy het hulle ook meegedeel dat die dief se stok sou groei en teen môreoggend sou die skuldige se stok drie duim langer wees.

Die volgende dag het al die dienaars om Birbal vergader. Hy het dadelik opgemerk dat een van die dienaars se stok drie duim korter was as die ander. Birbal het dadelik besef ​​wie die dief was.

Die dief het die stok drie duim korter gesny, omdat hy gedink het dit sou drie duim gedurende die nag groei. As gevolg van hierdie optrede van hom kon sy skuld maklik bewys word.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Die waarheid sal altyd uitkom.
* Dis altyd beter om van die begin af die waarheid te vertel.
* 'n Wyse man soos Birbal kan sonder baie moeite die skuldige uitwys - eintlik gee hy net die geleentheid vir die skuldige om homself te verraai. 

No comments:

Post a Comment