Thursday, 4 December 2025

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals!


[Onthou om verlede week se storie te lees, voordat jy hierdie een lees. Dis goed om jou geheue te verfris, sodat jy kan sien wat Hasie weer in die mou voer.]

Party dae is Hasie glad nie waaksaam nie en is hy nie op die uitkyk vir gevare nie. Party dae vergeet hy eenvoudig om wakker en waaksaam te wees en loop dan sonder dat hy dink aan al die misdaad in die land.

Vandag is een van daardie dae. Hasie is glad te gerus. Sing-sing loop hy in die paadjie. Wirts warts vinnig om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Skielik en onverwags! Woep! Daar sit hy. Jakkals het taai voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit net al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.

Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! Nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie. Jakkals het hom voorgeneem om Haas nie te vergewe vir die klomp bysteke nie. Hasie gaan beslis vandag op die Jakkals-gesin se tafel land!! 

Hasie word stil ... sommer doodstil!  

“Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”

“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.

Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk hoe ongeskik is hierdie ander jakkals! Hy druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.

“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.

“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer skeef aankyk.

Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.

“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.

“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”

Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.

“Ha ha ha!” lag Hasie:

“Kwaai is kwaai,
en kwaai se voet:
ou Jakkals soek
sy eie bloed!”

En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Wees altyd waaksaam - op hierdie manier bly jy uit die moeilikheid.
* Jy moet altyd 'n slim manier hê om uit die moeilikheid te kom.
* Moenie jou opponent onderskat nie - eendag is eendag dan gaan jou plannetjies nie werk nie.

No comments:

Post a Comment