Thursday, 29 January 2026

Ruben se een minuut storie: Wolf leer vlieg

Wolf is moedeloos honger. Elke keer as hy by ‘n dooie dier kom, het Aasvoël lankal die lekkerste vleis afgeëet sodat net die kaal bene vir hom oorbly.

Wolf besluit om vir Aasvoël te vra hoe hy dit elke keer regkry.

"Ai, Aasvoël," kla Wolf, "kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?"

"Dis maklik," antwoord Aasvoël. "Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien. Dan het ek al lankal die kos raakgesien en sommer vir my vrou 'n paar lekker stukke vleis gevat wat sy vir die kinders kan gee." 

"Leer my dan ook vlieg," soebat Wolf.

"Goed,” sê Aasvoël. "Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen."

Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf moet net vasklou vir al wat hy werd is.

"Sien jy, Wolf?" roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. "Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke."

Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.

"Eina!" tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.

"Laat dit vir jou ‘n les wees!" roep Aasvoël van bo af. "‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid."

Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Moenie iets of iemand anders probeer wees nie. Wees altyd jou unieke self.

[Bron: HIER. Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek & oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar]

No comments:

Post a Comment