Thursday, 27 November 2025

Ruben se een minuut storie: Die Byekerk


Elke dag is so vol en besig dat Hasie mooi moet beplan hoe hy sy dae gaan inkleur. Vroeg een oggend hardloop Hasie na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur. 

“Ai!” sê Hasie: “Lekker is lekker,
en goed is goed -
en die beste lekker
is heuningsoet!”

En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande in Hasie se sagte vleis laat insink.

Maar Hasie het klaar geskrik. Hy sit sy brein in hoogste versnelling en dink baie vinnig. Hy weet Jakkals wag vir 'n geleentheid om van hom 'n maaltyd te maak. Gelukkig is hy strate slimmer as Jakkals en kry hy dit reg om elke keer vir Jakkals uit te oorlê.

“Sjuut, Jakkals,” sê hy. “Kan jy nie hoor my vriende hou kerk nie?”

“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.

“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”

“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”

“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”

En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.

Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”

Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie. Hy sal vir die volgende week heerlik kan rondloop, sonder dat hy voortdurend op die uitkyk vir Jakkals moet wees.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Maak seker dat jou nuwe vriende nie vals vriende is nie.
* Vals vriende lyk asof hulle in jou doen en late belangstel, maar eintlik kyk hulle net waar hulle jou      
    aan die hakskeen kan byt.
* Dink voordat jy enige iets doen.

No comments:

Post a Comment