Thursday, 20 November 2025

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals, die ryperd


Jakkals is sommer smoorkwaad vir Hasie, want hy het stories by mevrou Jakkals gaan aandra, en nou het sy haar man die huis belet. Jakkals wil vir Hasie terugkry. Maar Hasie het baie planne. Op ‘n dag hoor hy Jakkals suutjies in die paadjie draf. Toe gaan lê hy in die bossies en kreun.

“Ha! Nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil net spring, maar Hasie antwoord met ‘n swak stem: “Vat my maar, Jakkals. Ek is te siek om te vlug. Tel my op jou rug, dan dra jy my huis toe.”

En Jakkals dink dis glad nie so ‘n slegte plan nie. Nou sal sy vrou sommer weer vir hom goed word as hy met ‘n lekker stuk haasvleis daar aankom. Jakkals laat loop in die paadjie af, en Hasie moet net klou.

“Jakkals, Jakkals!” roep hy later, “Die vlieë pla baie. Pluk tog vir my ‘n taaibostakkie dat ek hulle kan wegjaag.”

“Ai, jy is lastig,” sê Jakkals, en hy gaan pluk maar.

Toe hulle nog van ver af na Jakkals se huis toe aankom, staan sy vrou al op die stoep om te kyk wat haar man hier kom soek. “Vrou, vrou!” roep Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet haas gebring.”

Maar kyk, nou sit Hasie regop, en die pyne is skielik uit sy lyf, en die taaibostak is ‘n lat. “Vrou, vrou!” koggel hy Jakkals, “Ek het vir jou ‘n lekker vet jakkals gebring!” En die lat gesels oor Jakkals se blaaie, en Jakkals bokspring en galop. Toe wip Hasie van sy rug af en verdwyn lag-lag in die bossies.

“Nee, so ‘n treurige man wil ek nie hê nie,” sê mevrou Jakkals. “Waar het jy al van ‘n jakkals gehoor wat hom deur ‘n haas laat ry? Maak dat jy wegkom hier voor my oë!”

Arme Jakkals moes maar die aftog blaas, want sy vrou is regtig kwaad vir hom.

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories!

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie as iemand iets slegs aan jou gedoen het, hom wil terugbetaal nie. Jy gaan beslis tweede kom.
* Moenie lelike stories van iemand versprei nie - een of ander tyd gaan dit jou inhaal.

No comments:

Post a Comment