Liewe Ruben
Ek lees jou briewe met nederige dankbaarheid, want ek kan sien hoeveel lewenslesse wat jy hier in Petrusburg geleer het, jy met jou saamdra.
Ek deel graag met jou een van ouma Annie se lewenswaarhede wat my nog elke dag aanspoor om my beste te doen.
Wat beteken: Blom waar jy geplant is, eintlik?
Ruben, dit beteken wees die beste jy wat jy kan wees in enige en alle omstandighede. Jou beste is altyd genoeg, selfs vir God. Ek hoor jou dadelik sê: Dit is moeilik om die BESTE jy te wees in die alledaagse bestaan van jou lewe. Daar gaan dae om wat so eentonig is - dieselfde storie oor en oor. Dan is daar dae wat besaai is met hobbels in die pad en ander probleme. En dan is daar dae waarin die rugstekers se dade triomfeer oor hulle wat hul bes probeer doen. Hierdie is nie die tipiese dae wat jy voel dat jy net jou beste wil gee nie.
Ek praat dikwels met ouma Annie in my kop: Hoe vind ek vreugde, ouma Annie, as die moeilike dae net moeiliker word, die eentonige dae sieldodend, die probleemdae onhanteerbaar ... Hoe kan ek blom, as ek nie eens die krag het om net regop te bly nie?
Die antwoord: Wat jy ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.
God het aan elkeen van ons ‘n spesifieke, unieke stel talente gegee. Jy, liewe Ruben, is gelukkig om op die regte plek te wees. Jy gebruik reeds jou talente na die beste van jou vermoë.
Dis belangrik vir elkeen om jou gawes en talente te ontdek en dan sal God se droom en plan vir jou lewe soveel meer sin maak ... en die bonus ... jy sal 'n sielsgelukkige hond of mens wees, want die hobbels en probleme op jou pad, kan jy met Sy hulp, oorkom en blom. Gee jouself oor aan God se plan vir jou lewe.
Soms is die vreugde wat ons daagliks ervaar in iets so kleins soos 'n glimlag van iemand, 'n mooi skoenlapper wat voor jou verbyvlieg of iemand wat vir jou 'n kompliment gee. Moenie iets vir iemand anders doen om raakgesien te word nie. Nee, as jy iets vir ander doen of gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Doen dit stilletjies, ongemerk, anoniem, dan kan net God die krediet daarvoor kry.
Soms is die vreugde wat ons daagliks ervaar in iets so kleins soos 'n glimlag van iemand, 'n mooi skoenlapper wat voor jou verbyvlieg of iemand wat vir jou 'n kompliment gee. Moenie iets vir iemand anders doen om raakgesien te word nie. Nee, as jy iets vir ander doen of gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Doen dit stilletjies, ongemerk, anoniem, dan kan net God die krediet daarvoor kry.
Ek luister gereeld na wat jy en Tommie vir my oor julle doen en late vertel en ek weet dat julle op jul stil manier baie beteken:
Ek hoor dat julle ...
* die terrein se veiligheidsbelange op julle hart dra.
* saam met die kinders speel, hardloop en uitbundig die speeltyd na studie geniet.
* nie bang is om saam in die swembad te spring en te speel nie.
* die kinders aanmoedig om hulle huiswerk te doen.
* net daar is vir elkeen wat 'n oor en 'n skouer nodig het.
* drukkies en stertswaaie uitdeel waar dit nodig is.
* geheime bewaar en saam na oplossings soek.
Hoe kan julle inwoners en maats iets vir iemand beteken? Ek skryf vir jou 'n paar gedagtes wat jy met hulle kan deel - dalk in jou volgende brief.
* Help jou kamermaat met haar wiskunde of Engels.
* Deel jou pousekos met iemand wat minder as jy het.
* Dek die tafel sonder dat iemand jou vra om dit te doen.
* Pluk 'n blommetjie en gaan gee dit vir jou ma, huisma, juffrou of buurvrou.
* Groet elkeen met 'n glimlag wat jou pad vandag kruis.
* Moenie altyd kla nie.
* Wees positief en nie negatief nie - al voel jy lus om eerder iemand se oë uit te krap.
* Sê altyd asseblief en dankie - twee towerwoorde wat aan die uitsterf is.
Klein gebare het groot impak. Onthou: ‘n Glimlag teenoor ‘n vreemdeling is verniet! Deel dit uit.
Besef jy, Ruben, jy is soms die enigste straaltjie lig tussen mense in ‘n andersins pikdonker wêreld?
Tree dan soos 'n kind van Jesus op. God het nie geheime agente nodig nie.
Vreugde vir jou dag. Ek is trots op my hondekinders!
Baie liefde
Mamma
No comments:
Post a Comment