Thursday, 31 July 2025

Ruben se een minuut storie: Die lewe van 'n blommeverkoper


Dadija Israel, 'n blommeverkoper van Kaapstad, volg in haar ouers se voetspore. Haar ma het jare lank buite 'n winkelsentrum onder 'n boom met haar blomme gesit. Haar pa het oral in die Kaap, tot so ver as Upington, proteas en rose verkoop.
 
Dadija en haar broer het altyd saam met hul ouers gegaan. Toe haar ma siek word, moes Dadija op 15-jarige ouderdom skool verlaat om haar ma te help blomme verkoop. Eers wou sy graag haar skoolloopbaan voltooi en iets anders met haar lewe doen, maar nie nou meer nie. Vanjaar is dit al 16 jaar dat Dadija dit doen. Dit wys dat sy lief is vir blomme.

Sy is getroud en het drie kinders. Omdat haar man nie werk nie, is die blommegeld die gesin se enigste inkomste. Dis nie maklik om só jou geld te verdien nie, maar daar is nooit 'n dag wat sy leë hande huis toe gaan nie. Die minste wat sy al op 'n dag verdien het, was R100 en die meeste R3 000.

Dadija sit onder dieselfde boom as waar haar ma met haar blomme gesit het - al reën dit of al waai die wind. Sy sit van nege-uur in die oggend tot saans halfsewe onder die boom. Op belangrike dae soos Valentynsdag of Kersfees, kry sy toestemming om haar blomme in die sentrum te verkoop. Sy moet egter betaal om dit te mag doen.

Maandae en Dinsdae gaan haal sy vars blomme en pak dit vir die week. Sy kry die blomme van verskillende plekke af - proteas van Grabouw en lelies van 'n plaas naby Philippi. Party blomme kom van ver en word by die lughawe afgelaai waar sy dit dan kry.

Dadija ry met 'n stokou bakkie. Elke oggend sit sy die emmers uit, kry die mat reg, sit die blomme in die emmers, gooi water in en sorg dat alles mooi lyk. Saans pak sy alles weer op die bakkie en vat dit sentrum toe, waar sy dit oornag los tot die volgende dag.

Blommeverkopers moet hulle sake goed beplan, want blomme is duur. As die blomme doodgaan, moet hulle dit weggooi, maar steeds daarvoor betaal. Wanneer Dadija hieroor kla, vertel haar ma hoe húlle destyds gesukkel het. Hulle moes die blomme in die bosse op die berg gaan pluk en ver loop om dit te
verkoop. Dan besef sy dat dit vandag eintlik makliker is om 'n blommeverkoper te wees as in haar ma se dae.

Dadija se hele familie verkoop blomme, maar elkeen werk vir homself of haarself. Die blommegeld help om vir party van die kinders se studies te betaal. Haar een neef is 'n rekenmeester en die ander een is 'n onderwyser - al hulle studies is met blommegeld betaal. 

Dadija is 'n gelukkige blommeverkoper. Soms is haar lewe moeilik, maar sy verkies om positief te bly. Haar enigste begeerte is om vir haar kinders alles te gee wat hulle nodig het. Sy sê: "Ek sal nooit my plek onder dié boom opgee nie. Hierdie plek is vol herinneringe." 
                                                                                       
[Verwerk uit Huisgenoot, 8 Februarie 2019]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Dit maak nie saak watter soort werk jy doen nie. Jy moet altyd jou beste gee.

* Elke ouer wil die beste vir sy of haar kind gee, al is die omstandighede moeilik. Waardeer dit en wees dieselfde omgee-ouer vir jou kinders.

* Dink 'n bietjie oor jou ouers se lewe. Gaan jy ook 'n storie soos Dadija hê om te vertel?

Maats, ons volg almal in ons ouers se spore. Ons, ek en Tommie, is in die eerste plek waghonde en dan troeteldiere, soos ons ouers, grootouers en groot-grootouers voor ons. En ons moet die beste daarvan maak wat ons kan - ons moet steeds positief bly as daar moeilike dae is - hulle sal ook verby gaan.

No comments:

Post a Comment