Thursday, 10 July 2025

Ruben se een minuut storie: Jessica se "groot" besluit


Jessica, 5 jaar oud, het met haar eie geld ‘n string wit pêrels van R30 gekoop. Die pêrels het haar tog só groot en mooi laat voel en sy het dit baie gedra. Sy was só trots op haar pêrels.
Jessica se pa was baie lief vir haar, en een aand na storietyd vra hy: “Jessica, is jy lief vir my?”
“Ja, Pappa, baie!” antwoord sy.
“Nou gee dan jou pêrels vir my, toe?”
“Nee, Pappa, nie my pêrels nie! Maar Pappa kan my pop op die bedkassie kry ...”
“Nee, dis oukei, skat. Lekker slaap. Onthou, Pappa is lief vir jou!”
‘n Week later na storietyd vra hy vir haar dieselfde vraag. Haar antwoord is dieselfde, en weer wil sy nie haar pêrels vir haar pa gee nie.
“Pappa kan my teddiebeer met die pienk strik kry.”
“Toemaar, skat. Ek sal nie jou teddie vat nie. Lief vir jou! Lekker slaap.”
‘n Paar aande later stap hy by Jessica se kamer in. Sy sit kruisbeen op haar bed. Toe hy nader kom, sien hy haar kennetjie bewe en ‘n groot traan rol oor haar wang.
“Wat is verkeerd, Jessica?” vra haar pa besorgd.
Sy steek haar handjie uit en gee die boksie met die pêrels daarin vir hom.
“Hierso, Pappa, dit is vir jou,” sê sy met ’n bewerige stemmetjie.
Met trane in sy oë vat Jessica se pa die goedkoop string pêrels. Met sy ander hand haal hy ‘n fluweelboksie met ‘n string egte pêrels uit en sit dit vir haar aan. Hy het dit al die tyd gehad, maar hy het gewag dat sy die goedkoop pêrels vir hom gee, sodat hy vir haar die ware skat kon gee.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* God is soos Jessica se pa. Hy wag GEDULDIG vir ons om die goedkoop dinge in ons lewe prys te gee, sodat Hy vir ons geskenke van onskatbare waarde kan gee.
* Dink bietjie: Hou jy vas aan dinge wat God wil hê jy moet los, aan skadelike maats, vriende en gewoontes wat jy dink onmoontlik is om te laat gaan?
* Onthou altyd: Dis soms moeilik om te sien wat in God se hand is, maar glo een ding: Hy sal niks van ons af wegneem sonder om vir ons iets beters te gee nie!

[Maats, ek lees baie en probeer oral vir julle oulike stories in die hande kry. As jy 'n mooi storie het wat jy met ons wil deel, stuur dit gerus. Dankie vir al die maats wat so gereeld stories soos hierdie instuur. Liefde!! Ruben]

No comments:

Post a Comment