Saturday, 5 July 2025

Ruben sê dankie!


Liewe Maats

Dis weer tyd om die pen op te neem en hierdie keer is dit om dankie te sê. Dankie het net twee lettergrepe, maar dis 'n woord wat gelaai is met tonne positiewe ione of kilogramme vir diegene wat al lankal uit die skool is en nie meer kan onthou wat ione is nie. (Gelukkig kan ek vir Tommie vra as ek twyfel oor iets, want hy is nog op skool!)

Dankie-sê in wording
Vandag wil ek 'n uit-die-hart-dankie-sê vir ds. Johan en Annelie Bothma van die Kerk van die Nasarener. Dankie dat julle elke jaar die behoefte raaksien dat die inwoners van Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum net kan baat by 'n vakansieprogram. Dit maak die vakansie korter, hulle ontmoet nuwe maats en die gesprekke strek verby die begrensde mure van die koshuis en die geestelike kos en padkos se waarde is onmeetbaar. Dankie dat julle geen moeite ontsien om ons in te sluit en te omvou met warmte, omgee en liefde nie.

Ek is mos 'n hond met 'n uitstekende gehoor en elke dag as hulle opgewonde en geselsend van die Bybelskool af teruggekom het, kon ek duidelik hoor dat hulle dit geniet het. Hulle stories en gesprekke het anders geklink. Nie die normale klaery of foutvindery nie, maar positief - ek wil my verstout deur te sê ek het hoop gehoor.    

Saad van hoop, is toekomssaad - dis iets wat jy in jou hart bêre en wat as dit genoeg tyd kry om te ontkiem - 'n gedagte - 'n droom - 'n werklikheid word.

'n Hartsdankie vir elkeen by die 
2025-Bybelskool!
My hartswens is dat hierdie kinders oor 'n jaar of 10 na julle sal terugkom en vir julle kan vertel wat hierdie Bybelskool gedurende die vakansie vir hulle beteken het, dalk hulle oë oopgemaak het of hulle lewensuitkyk verander het.

Deesdae se jongmense is nie meer lojaal aan die kerk nie, en baie reken dis iets vir die ou mense. Baie keer kla jongmense as hulle saam met hul ouers moet kerk toe gaan - ek hoor dit by elkeen se troetelhond, want ons honde skinder ook onder mekaar en ons kan dit oor kilometers heen doen en almal kan dit hoor en elkeen lê 'n spreekwoordelike eier. Ons spesie is op hoogte van alles wat in die dorp gebeur. Ek kan net dink hoe al die nuus wat ons so heerlik uitbasuin die misdaadsindikate tot voordeel sou strek as hulle maar net Blafiaans kon verstaan. Maar totdat AI nie Blafiaans kan ontsyfer nie, is ons veilig en blaf ons lustig voort. 

Wat is die oplossing? Die kinders moet aktief by die kerk betrek word. Hulle moet voel hulle wil daar wees. Dit moet vir hulle lekker wees - 'n plek van opgewondenheid, veiligheid en geborgenheid.

Ons elkeen het 'n verantwoordelikheid teenoor kinders, veral die outjies wat op die grondpaaie en verspoelde paaie van die lewe geland het.

Ons winterbederf!
Dankie, tannie Christelle, dat jy ons leer van dankie sê. Dankbaarheid is een van die lewenspilare van hoop. Tasbare dankies gee vlerke aan uitreikkilometers. Jy stel 'n voorbeeld vir ons klomp wat van ons beter honde en mense maak. Dankie dat jy vir ons omgee en dankie vir ons lekker winterhondebederf! Ons sien dit raak en ons spog in Blafiaans dat die meetsnoere vir my en Tommie in lieflike plekke geval het.

Nou ja, maats, dit is met 'n dankbare hart dat ek julle groet tot volgende keer.

Ruben


No comments:

Post a Comment