Thursday, 17 September 2026

Ruben se een minuut gedig: Kies geel? Kies rooi?

Geel is lukwart en appelkoos
Wat my laat watertand,
Maar rooi die kroon van waatlemoen
Wat bros breek in my hand.

Bloedrooi roep die ryp granaat
Wat oor die heining hang
En met soetrooi tande lag
In sy gesplete wang.

Rooivleiskoejawel vet geswel
Van reën , en persrooi adamsvy,
En soetlemoen oranje-geel
Van son – altwee kan my kry!

Spanspekke lok my bottergeel,
Aarbei beloer my spikkelrooi,
Hoe kan ek kies al wil ek ook,
Tussen ewe lekker, ewe mooi?

(Uit: Mallemeule: Pieter W. Grobbelaar deur Freda Linde)

No comments:

Post a Comment