Ek en ouma Annie is spreekwoordelik weer op goeie poot. Ek het besef ek het nie my belofte nagekom nie en het weer by ouma Annie gaan kuier om die saak op te klaar. Dis so lekker om hierdie spesiale verhouding met ouma te hê en die beleid by Koester Karos is juis om die verhouding tussen kleinkinders en grootouers te koester.
Ek en ouma het 'n hele baksel soetkoekies gebak en hierdie deeg kan op 'n verskeidenheid maniere aangepas word sodat die nederige soetkoekie steeds 'n plekkie op vandag se moderne tafel kan kry. Ek plaas volgende maand so 'n paar variasies. Hierdie deeg is 'n wenner!! En daarom plaas ek vandag ouma se soetkoekieresep met 'n lekker hart.
Bestanddele:
6 koppies meel
2 koppies suiker
2 teelepels kremetart
1 teelepel bakpoeier
1 teelepel koeksoda
1 teelepel vanielje
1 koppie botter (250 g)
4 eiers
Metode:
Klop botter en suiker tot room.
Sit eiers een vir een in en klop goed na elke byvoeging,
Gooi geursel in.
Sif die meel en voeg by.
Voeg rysmiddels by.
Voeg ekstra meel by indien deeg te slap is.
Bak teen 180°C tot koekies gaar is (ongeveer 15 minute).
Wenk:
Ouma Annie klits haar botter eers alleen en dan voeg sy die suiker by en klits dit tot dit donsig geel is.
Geniet dit en gaan groot!!!

No comments:
Post a Comment