Monday, 16 June 2025

Binnekringnuus: Cave Canem

Korrespondent: Verlede week het die geheime fotograaf* van Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum op 'n interessante verskynsel afgekom. Ruben, die hoof van sekuriteit, en sy regterpoot, Tommie, is afgeneem met geel veiligheidshoede op. Die fotograaf was baie gelukkig om hierdie rare verskynsel in beeld vas te vang. Dié foto's het op my tafel beland, maar die rede agter hierdie foto's kon nog nie uitgesnuffel word nie. Dus wend ek my nou tot die lesers vir moontlike verklarings. Die twee se kom en gaan word egter nou met valkoë dopgehou.  

Allerhande stories en moontlike verklarings vir hierdie drag en gedrag word in die koshuisgange gefluister. Die volgende stories het my ore bereik wat ek graag met julle deel, maar as een van julle lesers meer weet,  laat weet ons, asseblief.  
  • Daar is 'n moontlikheid dat die twee op 'n geheime sending was om die speurders te help om saam met die polisiehonde belangrike leidrade uit te snuffel.
  • Hulle kan ook besig wees met nagopleiding om saam met die honde-eenheid te werk wat deur bourommel snuffel.
  • Ruben en Tommie is buitengewoon intelligent wat goeie geselskap, liefde en lojaliteit aan mense bied. Hulle sal dus uitstekende diens- of gidshonde wees. (Weet net nie hoe dit die geel harde hoede verklaar nie. Red.) 
  • Ten slotte kon hulle bloot net deur die speelkamer op hul rondtes geloop het en hierdie hoede waarmee die seuntjies só graag speel, sien lê het en die kind (of liewer ... klein hondjie) se spelerige aard in hulle wakkergemaak is.
* Die geheime fotograaf en die geheime korrespondent werk saam. Soms is dit die foto wat aanleiding gee tot die berig en ander kere is die berig eerste en moet die fotograaf  'n foto kry wat die berig onderstreep. Die vrou agter die lens is eintlik 'n kommersiële fotograaf wat spesialiseer in dokumentêre fotografie. Koester Karos is baie dankbaar dat hulle met 'n omweg die dienste van hierdie professionele kunstenaar kon bekom.

Volgens die geheime fotograaf het die baie bekende Diane Arbus die kuns van fotografie raak opgesom in haar bekende woorde: "Fotografie is 'n geheim van 'n geheim." 

[Klik HIER vir die eerste reaksies.]

No comments:

Post a Comment