Christina Kiddie se junior korrespondent het met Tommie 'n onderhoud gevoer, sodat ons lesers ook so 'n proesel van die klein Tommie kan kry, voordat die tienerjare inskop.
CK junior korrespondent: Ons het in een van Ruben se briewe gelees dat jy van Petrusburg af kom. Vertel ons meer van jou geboorteplek.
Tommie: Petrusburg is so 'n klein dorpie tussen Bloemfontein en Kimberley, met vriendelike, gasvrye, plat op die aarde mense wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop. Almal ken almal. En op so 'n klein plekkie moet jy jou eie besigwees skep. My ouma Annie het altyd gesê dat die duiwel orals leeglê, maar die jongetjies van Petrusburg het niksdoen vervolmaak.
CK junior korrespondent: Nou wat doen julle Petrusburgers om besig te bly?
Tommie: Wel, die grootmense beoefen natuurlik 'n stokperdjie of leef hulle passie uit. My tannie Tilla maak vetplantjies bymekaar. Sy is sowaar die vetplantkoningin van die dorp. Sy het 'n aardige versameling. Kan jy glo dat die TV-mense dit kom afneem het en 'n hele onderhoud met haar gevoer het? Daarna is tannie Tilla die bekendste mens op die dorp. Daardie program het haar nou eers aangespoor en vir elkeen wat by haar kom kuier, stop sy 'n plantjie in die hand.
CK junior korrespondent: Tommie, waarmee het jy jouself besig gehou op daardie klein dorpie?
Tommie: Jy sien, ek en ouma Annie het 'n besondere verhouding. Ek het bedags by haar gebly as my ouers gaan werk het. Ouma Annie het resepte versamel - meer spesifiek - kleinkoekieresepte! Sy het lêers en lêers ennn lêers vol resepte. Ouma Annie bak vir 'n tuisnywerheid in Bloemfontein en my werk was om koekies te proe. Ai en ek het só daarvan gehou om ook die mengbakke uit te lek - dit was my skelm bederfie en ons twee se geheim. My ma sou die piep kry as ek dit durf waag doen by die huis. Ouma Annie is lid 74. En dit is die lid wie se koekies die heel eerste van die rakke afvlie. Ek dink dis omdat ek so 'n goeie proeër is.
CK junior korrespondent: Tommie, noudat jy hier by Christina Kiddie is, het jou lewe totaal verander. Wat mis jy die heel meeste van jou geboorteplek?
Tommie: Ek mis my maats die heel meeste. Jy weet, Saterdae was ons kaskardag. Dan het ons almal by Willem se huis bymekaar gekom en gery dat die stof so staan. Daar het elke Saterdag 'n stofwolk oor daardie klein dorpie gehang. En dan mis ek ouma Annie se koekies ... daar sit mos baie liefde en omgee in elke koekie wat sy bak.
CK junior korrespondent: Ek hoor in die wandelgange dat jy 'n spesiale Kersgeskenk van jou ouma gekry het. Vertel 'n bietjie vir die lesers daarvan.
Tommie: Ek het een van my ouma se reseptelêers gekry, met die uitdruklike opdrag om dit met boetie Ruben se lesers te deel. Ek sal by tannie Christelle uitvind hoeveel resepte ek op haar blog mag sit, maar so een 'n maand is op hierdie stadium in die pyplyn.
CK junior korrespondent: Wat is jou gunsteling koekie?
Tommie: Ek dink die lekkerste koekies suid van die ewenaar is gemmerkoekies. Ek gaan sommer ouma Annie se gemmerkoekieresep vir jou gee en dan kan jy dit met die lesers deel.
CK junior korrespondent: Dankie, Tommie, dis nou 'n heerlike manier om 'n onderhoud af te sluit. Mag jy wonderlike jare in die sentrum beleef. Miskien moet jy 'n resep of twee insmokkel kombuis toe.
Gemmerkoekieresep van Ouma Annie
Hierdie is ‘n vinnige gemmerkoekieresep vir ma's met min tyd!Bestanddele:
Bruismeel: 500 ml (240 g)
Suiker: 250 ml (200 g)
Suiker: 250 ml (200 g)
Koeksoda: 3 ml
Fyn kaneel: 5ml
Fyn gemmer: ±20 ml (indien jou gesin van 'n gemmerkoekie met 'n byt hou, moenie spaarsamig met die gemmer werk nie.)
Margarien: 150 g
Gouestroop: 15 ml
Eier: 1 - geklits
Metode:
Fyn kaneel: 5ml
Fyn gemmer: ±20 ml (indien jou gesin van 'n gemmerkoekie met 'n byt hou, moenie spaarsamig met die gemmer werk nie.)
Margarien: 150 g
Gouestroop: 15 ml
Eier: 1 - geklits
Metode:
* Sif bruismeel, suiker, gemmer, kaneel en koeksoda saam en meng goed.
* Smelt die margarien en stroop saam. Roer in by meelmengsel. (Voorkoms: Lyk asof te droog)
* Roer geklitste eier in.
* Skep teelepelsvol op gesmeerde bakplaat. Dit sit uit, so nie te naby mekaar nie.
* Bak by 180°C tot goudbruin (ongeveer 15 min).
* Laat effens afkoel voordat van plaat verwyder.
* Roer geklitste eier in.
* Skep teelepelsvol op gesmeerde bakplaat. Dit sit uit, so nie te naby mekaar nie.
* Bak by 180°C tot goudbruin (ongeveer 15 min).
* Laat effens afkoel voordat van plaat verwyder.
En as jou gesin van hierdie lekker gemmerkoekieresep hou - gaan groot!!!
Ag maar dit was nou n oulike onderhoud Tommie. Jys sommer al klaar te dierbaar vir woorde. Lekker slaap en soet wees hoor. Xx
ReplyDeleteDankie, Anoniem. Ek was maar 'n bietjie bangerig vir al die vrae. Gelukkig was dit makliker as eksamenvrae! Lekker bak!
ReplyDelete