Tuesday, 25 February 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep

Na my gesprek met ons jeugkorrespondent, is ek toegegooi onder die vrae. Dit lyk my die meeste van Koester Karos-lesers het 'n passie vir bak. Party wil my ouma Annie ontmoet en ander wou by my weet of ek weet van enige spesifieke wenke of bakgeheime van lid 74. Ek het ook 'n hele paar gemmerkoekieresepte gekry met die uitdruklike versoek dat ek dit vir my ouma moet gee. Ek stuur dit sommer hierdie naweek nog vir haar. Ek sê solank dankie vir al die resepte.

Vandag deel ek graag my oupa se gunsteling. Ouma Annie sorg dat daar altyd genoeg koekies in die koffiekoekiekoekblik is. Kyk, met 'n koppie kondensmelkkoffie in die een hand en 'n koffiekoekie in die ander hand, is my oupa in die sewende hemel.

Koffiekoekieresep van ouma Annie (vleismeul)

Bestanddele:
8 koppies koekmeel
3 teelepel koeksoda
½ koppie stroop
500 g margarien of botter
2 koppies suiker
½ koppie baie sterk koffie
½ teelepel sout (na smak)
1 teelepel vanilla

Metode:
* Meng margarien en suiker
* Voeg stroop by
* Maak koeksoda aan met koffie
* Gooi vanilla by
* Meng alles met gesifte koekmeel
* Bak vir ongeveer 20 min @ 180ºC

Wenk: Maak mengsel styf genoeg aan om deur die vleismeul te gaan. 

Bestanddele vir vulsel:
½ pak versiersuiker
2 e hoogvol margarien of botter
1 t vanilla
2 e baie sterk koffie
knippie sout

Metode:
* Meng alles goed
* Sit die koffievloeistof laaste by
* Plak 2-2 koekies opmekaar met hierdie vulsel

Geniet dit en gaan groot!!!

No comments:

Post a Comment