Interne korrespondent: Matilda Muis het 'n besige dag agter haar blad. Gelukkig kan sy helpers uitstuur om haar te help. Sy loop elke aand baie laat op haar tone van kamer tot kamer om in elke inwoner se skoen te loer of daar dalk 'n tandjie is. Dan, net om seker te maak dat sy nie iewers 'n fout gemaak het nie, stuur sy haar helpers uit om te gaan seker maak. Hulle is nog nie so ervare nie en eintlik is Matilda Muis besig om hulle in die tandebesigheid op te lei.
Eerstens is dit belangrik om baie saggies op hul tone te loop. Daarom hulle oefen elke dag na ontbyt in die kombuis om saggies te loop. En as Matilda Muis net 'n effense geluidjie hoor, moet hulle van vooraf begin. Die groot geheim vir 'n tandemuisagent lê in hoe hy loop.
'n Ware tandemuis beweeg onhoorbaar - en dit verg baie oefening en baie geduld.
Die tweede belangrike punt om te onthou is om altyd waaksaam te beweeg. Matilda Muis wil nie hê dat een van haar agente katkos of hondekos moet word nie. By Christina Kiddie is dit werklik 'n uitdaging om lewend van jou sending af terug te kom. Met Ruben, die hoof van sekuriteit en sy energieke kleinboet, Tommie, is elke sending 'n nagmerrie. Dan is daar natuurlik Krummels - gelukkig slaap Krummels die meeste van die tyd voor die televisie en is sy minder van 'n gevaar as haar Petrusburg-huisgenote.
Die derde belangrike punt is om te onthou in watter skoen jy die tandjie gekry het, want die briefie en geldjie moet by die regte persoon afgelewer word. En deesdae met die skoolskoene wat almal eenders lyk, is dit ook 'n uitdaging.
So lei Matilda Muis haar melktand-agente op met die presisie van 'n AI-robot.
Sy skryf elke briefie self. Sy hou daarvan om nog steeds persoonlike kontak met haar klante te hê. Dan neem sy een van die jongelinge saam met haar as sy die briefie in 'n skoen gaan sit, met die monetêre waarde styf in haar regterpoot vasgeklem.
Gister moes een van die inwoners se kiestand getrek word. Matilda Muis het hom só jammer gekry, maar was terselftertyd baie opgewonde. Dit was regtig 'n groot tand vir 'n tienjarige outjie. Sy wou vir hom 'n ekstra geldjie gee om te kompenseer vir die pyn, maar toe besef sy dat daar 'n yslike gat in die tand is en toe is sy reguit tuin toe met daardie tand. Matilda het haar hen-met-die-kuikens in daardie tand geplant en op haar voorstoep gesit.
Sy het vir elkeen 'n briefie geskryf en die geld in 'n sakkie gesit en vir haar melktand-agente gevra om baie subtiel die sakkies by die onderskeie huismoeders te gaan afgee.
Groot was tannie Christelle se verbasing toe die twee skenkers vir haar kom vertel van die briefies en die geld wat Matilda Muis in die sakkies gesit het.
'n Bewys dat tandemuise bestaan en aktief agter die skerms werk.


No comments:
Post a Comment