Sunday, 27 April 2025

Ruben praat oor Vryheidsdag


Liewe Maats

Vandag wil ek graag vir elkeen van julle 'n gelukkige Vryheidsdag toewens. Dis regtig 'n spesiale dag in ons geskiedenis.

Ons word regtig in opwindende tye groot. Ons kan ons sterte waai van opwinding. Maar Maats, vryheid beteken elkeen van ons het 'n groot verantwoordelikheid. Ons gewone outjies hier op grondvlak moet net kyk dat ons almal ordentlik behandel en verdraagsaam teenoor mekaar optree. Ken julle die groot, maar kort woord ETIEK?  Moenie jou etiek verkwansel in 'n kliek van rebelse honde en oneerlike mense nie. Dis belangrik dat ons op hoë vlakke van ordentlikheid funksioneer.  

Julle leer mos presies hoe belangrik 27 April is. Vryheidsdag is 'n openbare vakansiedag wat ons jaarliks herdenk ter herinnering aan die land se eerste demokratiese verkiesing wat op dié dag in 1994 begin en die dag daarna geëindig het. 

Maats, ek kan nog die opwinding onthou. Ons almal het vasgenael voor die televisie in my ouma Annie se huis in Petrusburg gesit. Opgewondenheid is nie net 'n menslike emosie nie. Ons klomp kinders en kleinkinders het in verskillende tale geblaf, en ouma moes ons meer as een keer maan om stil te bly, want sy kon nie hoor wat die televisie-aanbieder sê nie.

Maar wat beteken vryheid vandag vir ons??

Die mag of reg om op te tree, te praat of te dink soos ’n mens wil, maar nie sonder verantwoordelikheid nie. 

Julle sien, daar is verskillende vorms van vryheid wat ons tot ons beskikking het. Onthou, ons kan en moet vir onsself doelwitte binne hierdie grense van vryheid skep. Moenie dat ander inwoners in die koshuis hulle vryheid misbruik om jou vreugde te steel nie. Daar is baie vreugdestelers in ons land, ons skool, ons familie ... Almal wat jaloers is op jou, gebruik hulle ongelukkigheid om jou reg tot vreugde te steel. Onthou, jy het die vryheid tot keuse. Kies in hierdie deurmekaar wêreld dinge wat vir jou goed en heilsaam is.

Daar is egter 'n groot bekommernis wat swaar op my hart lê. Hierdie baie vakansiedae kan lei tot luiheid. En nou wonder ek hoe hanteer jy die klomp vakansiedae? Gooi jy darem 'n oog in jou boeke? Goeie punte is 'n vorm van vryheid wat vir jou deure oopmaak tot verdere vryheid. Het jy dit geweet?  

Mag jy 2025 se Vryheidsdag jou persoonlike vryheid en vreugde geniet, want jy mag!

En op hierdie hoë noot, blaf ek vir elkeen van julle 'n heerlike dag toe.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!

2 comments:

  1. Ai Ruben, jys darem baie slim en oulik. Dankie dat jy dit alles so mooi vir ons verduidelik. Nou weet ons presies waaroor Vryheidsdag gaan. Lekker slaap Ruben.

    ReplyDelete
  2. Liewe Anoniem, ek hoop jy het jou Vryheidsdag saam met jou geliefdes geniet. Dankie vir die kompliment. Dis sommer 'n lekker riem onder my ou hondehart!! Vreugde!

    ReplyDelete