Thursday 2 May 2024

Maak vrede met jou foute

'n Kommentator op 'n internasionale tennistoernooi het gesê dat dit twee weke neem om 'n tennistoernooi te wen, maar net 'n uur om dit te verloor. Dit is waar van die meeste sportsoorte, maar ook van ons eie lewe.

Dit neem dalk jare om 'n goeie reputasie op te bou, goeie verhoudings te vestig en jou in jou werk te bewys, maar dit is ook moontlik dat al hierdie harde werk binne oomblikke in duie kan stort. Dit is nie noodwendig weens iets wat jy gedoen of besluit het nie. Soms is dit omstandighede wat so iets tot gevolg het en soms is dit wel te danke aan jou eie handewerk.

'n Mens kan redeneer dat dit onregverdig is, maar dit is wat die lewe is - onregverdig. Die gehalte van jou werk en jou toewyding word nie altyd raakgesien nie, maar die enkele fout wat jy begaan, sal baie lank onthou word. Jy sou wou redeneer dat die 100 dinge wat jy reg gedoen het sekerlik gewig moet dra en darem ten minste moet vergoed vir die fout wat jy begaan het, maar die situasie is gewoonlik nie oop vir redenasie nie. 'n Fout is 'n fout. Jy moes twee keer gedink het, beter opgelet het, verder geredeneer het. Dat almal foute maak, is op daardie oomblik ook nie van belang nie.

Ons probeer hard. Ons almal maak foute. Die enigste manier om te verhoed dat jare se goeie werk tot niet gemaak word, is om toe te sien dat die fout wat jy maak nie van so 'n aard is dat dit op die lang termyn 'n negatiewe impak op ander se lewe het nie. Vergewe as daar vergewe moet word, want binnekort het jy dalk iemand ander se vergifnis nodig.

[Bron: Noord-Kaap: Potpourri - Karin Muller]